Ná 30 jaar kan SA nie meer korrupsie bekostig

(Foto: Grafika/ Corruption Watch)

Die organisasie Corruption Watch (CW) het Woensdag sy jaarlikse korrupsieverslag – op die vooraand van “een van die mees kritieke keerpunte in die land se post-demokratiese geskiedenis” – bekendgemaak.

Themba Maseko, voorsitter van die CW-raad, sê swak leierskap en gebrek aan aanspreeklikheid het die publiek se vertroue in die staat se vermoë om ʼn gelyke en regverdige samelewing te verseker, heeltemal weggekalwe.

“Dit is omdat straffeloosheid vir diegene wat by oortredings betrokke is, voortduur. Saam met hierdie uitdagings het die blote omvang van korrupsie en wanbestuur tot stygende vlakke van armoede, ongelykheid, werkloosheid, misdaad en verswakkende infrastruktuur en dienste bygedra.”

Maseko sê CW bly daartoe verbind om magshebbers aanspreeklik te hou.

“Ons verstaan ​​dat dié swaar verworwe demokrasie vir die duisende Suid-Afrikaners wat omgee oor die toekoms van hul land, verdedig moet word.”

Karam Singh, CW se uitvoerende direkteur, het die behoefte om die land se demokrasie te bewaar benadruk. Hy waarsku dat “ons nie kan bekostig om verder agteruit te boer in die stryd teen korrupsie en die verwesenliking van menseregte nie”.

“Indien almal saamwerk, is dit binne ons vermoë om die huidige landskap te verander. Dit sal in Mei by die stembus begin.”

CW het sedert dit 12 jaar gelede op die been gebring is, meer as 47 000 klagtes van beweerde korrupsie ontvang. Dit is ʼn gemiddeld van 11 verslae per dag van doodgewone Suid-Afrikaners wat dapper genoeg is om korrupsie en magsmisbruik aan die kaak te stel.

In 2023 het die organisasie altesame 2 110 verslae ontvang.

“Nes in vorige jare was dit grootliks op wangedrag in die mynbousektor (38%) gefokus. Die meeste van hierdie verslae spruit uit die CW-span se ingrypings in mynbougemeenskappe wat tans die swaarste gevolge van korrupsie dra.”

Luidens die verklaring is die tweede meeste klagtes wat ontvang is in die polisiëringsektor (23%), gevolg deur die sakesektor op 16%, basiese onderwys (12%) en staatsinstellings (11%).

“Hierdie syfers spreek boekdele van die regering se versuim om basiese dienste en regte soos doeltreffende polisiëring, veiligheid en sekuriteit, indiensneming en onderwys, te verskaf.”

Die soort korrupsie wat veral verlede jaar kop uitgesteek het, was wanadministrasie (34%), gevolg deur bedrog (21%), onreëlmatige indiensneming (16%), omkopery of afpersing (15%) en ongerymdhede met verkryging (13%).

Volgens die verslag is Johannesburg, Pretoria en Kaapstad gesamentlik vir 71% van korrupsievoorvalle verantwoordelik uit die vyf munisipaliteite met die hoogste getal korrupsievoorvalle wat aangemeld is. Die ander twee owerhede is Dannhauser (15%) en Matjhabeng (14%).

Gauteng is boaan die korrupsielys en is verantwoordelik vir 37% van die klagtes wat ontvang is. Die provinsie word gevolg deur KwaZulu-Natal (19%), die Vrystaat (10%) en die Wes-Kaap (9%).

Hierdie provinsies is gesamentlik vir driekwart van die korrupsieklagtes verantwoordelik en word as die brandpunte vir korrupsie beskou.

Singh sê die werk wat Corruption Watch verlede jaar gedoen het, was op verskeie terreine. “Ons sal aanhou pleit vir meer bewustheid oor menseregte, verbeterings aan wetgewing en beleide, sowel as deelname aan prosesse (en op platforms) om stelselfoute te pak wat die deur oopmaak vir korrupsie om te floreer.

“Afgesien van die baanbrekerswerk teen korrupsie in die grondsektor, het CW op verskeie ander kritieke areas gefokus wat verreikende gevolge vir deursigtigheid en aanspreeklikheid kan hê.

“Dit sluit in die kontrolering van leierskapaanstellingsprosesse, voorleggings oor belangrike wetswysigings en ondersoek na korrupsie in die korporatiewe sektor.”

Die omvang van die werk wat CW verlede jaar onderneem het, wys egter die stryd teen korrupsie is nog ver van verby, sê Singh.

“Saam kan ons die landskap verander; heelwat van die bloudrukke daarvoor is reeds op die tafel, insluitend die nasionale teenkorrupsiestrategie en aanbevelings van die Zondo-kommissie.

“Die toekoms van ons demokrasie hang nou daarvan af om drie dekades se agteruitgang om te swaai en die belofte van die Grondwet en die bevrydingstryd na te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

domheks ·

Na nog 30 jaar van CancER aan bewind sal daar nie meer geld wees vir korrupsie nie net sand en stof

Jacobus ·

Hierdie soustrein gaan nie maklik indien ooit gestop word nie. Die enigste manier is die geld moet opraak dan is ons almal op dieselfde vlak.

Boksombende ·

Die lojale massas gaan steeds vir the ANC, EFF, of MK stem. Daar is geen kultuur van aanspreeklikheid in hierdie partye of met hulle ondersteuners nie.

In hulle oë mag die “chiefs” aanhou doen wat hulle wil en die “Indians” moet maar aanhou ly. Boonoop dit word enigeiemand wat wel vir die VF+ of die DA wil stem gestempel as “coconuts”, of die ander partye word gemerk as “captured”.

Sobymykoolkop ·

Boksombende, jy het als in ń paar sinne perfek opgesom. Bravo

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.