Ná 4 jaar steeds geen teken van jong man

André du Plessis.

André du Plessis.

Dit is amper weer André du Plessis se verjaardag en dit sal die vierde jaar wees wat sy gesin dit vier sonder dat hulle ʼn idee het wat van hom geword het.

“Of hy weggeloop het en nie gevind wil word nie, wat ek erg betwyfel, en of hy wegkruip vir iets of iemand, ons wil net weet of hy nog lewe. Dit is al wat ons wil hê,” het sy pa, Albert du Plessis (52), Maandag aan Maroela Media gesê.

Op 24-jarige ouderdom het André in Februarie 2011 spoorloos in George in die Wes-Kaap verdwyn.

Hy is op 10 Februarie omstreeks 18:00 vir die laaste keer gesien en het ʼn swart leerbaadjie, bruin broek en swart skoene gedra. Hy het ʼn swart rugsak by hom gehad.

Sy pa het op Vrydag 11 Februarie vir die laaste keer telefonies van hom gehoor.

“Ons bly in Kempton Park. André het ná skool Hermanus toe getrek en het daar by Die Skuur gewerk. Hy het sowat twee of drie jaar daar gebly waarna hy George toe getrek het en by V-Bar gewerk het. Hy het ses maande daar gewerk voor hy verdwyn het,” het Du Plessis gesê.

Albert het gesê sy vrou, Annasusan (52), het ʼn paar jaar gelede ʼn beroerte gehad en is verlam aan haar regterkant. Hy en sy seun het mekaar weekliks twee tot drie keer gebel. “Hy was baie besorgd oor sy ma en het gereeld oor haar welstand uitgevra. Ons kon maklik tussen 10 en 15 minute lank gesels het.”

Albert het gesê hy het die Vrydag nog met sy seun gepraat toe hy glo op pad was werk toe. André het egter nooit die dag daar opgedaag het nie. “Ek het hom die Sondag twee keer gebel maar sy foon was af. Die Maandag toe sy werk my bel om uit te vind of ek weet waar hy is, toe het ons onraad vermoed en ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak.”

André het glo aan kollegas genoem dat hy graag na die kruis op die Outeniqua-berge wou stap. Dit is egter nie duidelik of hy dit die naweek gedoen het toe hy verdwyn het nie.

Hy het nie ʼn motor nie en het geloop waar hy wou wees. Hy het saam met ʼn kollega in ʼn woonstel gebly en die twee het roterende skofte gewerk en nie baie van mekaar se doen en late geweet nie. “Wat vir my baie vreemd is, is dat daar twee of vier weke ná sy verdwyning by die woonstel ingebreek is, en alles wat hy gehad het is glo gesteel. Hy het onder meer ʼn skootrekenaar gehad wat ons wou deursoek het vir leidrade en dit is alles weg.”

Sedert hy vermis geraak het was daar geen beweging in sy bankrekening nie en sy selfoon was ook nooit weer gebruik nie.

Albert het gesê hy het in ʼn stadium ʼn boodskap van André se voormalige vriendin, met wie hy uitgegaan het terwyl hy in Hermanus gewoon het, ontvang waarin sy gesê het dat André glo in Bettysbaai opgemerk is. Dié wenk het egter niks opgelewer nie.

“Hy word op 13 Julie 29 jaar oud. Met sy verjaardag wat naderkom word Annasusan al hoe meer emosioneel en wil daagliks by my hoor of ek al iets nuuts gehoor het.”

Twee organisasies wat hulle daarop toespits om vermiste persone op te spoor, Missing Children South Africa en Pink Ladies, het vandeesweek weer pamflette met André se inligting versprei in die hoop dat iemand wat hom herken, of weet waar hy hom bevind, met hulle of die polisie in verbinding sal tree.

Hulle het ʼn beroep op die publiek gedoen om die pamflette wyd op sosiale media te versprei.

André het kort ligbruin hare, ligte bruin oë, is sowat 1.5m lank en weeg sowat 65kg. Hy het ʼn tatoeëermerk van ʼn engel op sy regterskouer en ʼn litteken op sy bolip en linker knie.

Mense met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan word versoek om ao. JD Williams by die George-polisiestasie by 044 803 4772, Missing Children by 072 647 7464, of Pink Ladies by 072 214 7439 te bel.

Missing Adult - Andre Du Plessis - 24yrs - WC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eliza-beth ·

Ag liewe hemel hierdie is so erg – die arme ouers. Ek hoop regtig iemand êrens sien die raak en onthou dalk hulle het hom gesien en kan so help. Dit moet vreeslik wees – VIER jaar al sonder taal of tyding!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.