Ná aanval, byna verkragting gee selfverdediging haar ‘vrouwees’ terug

Nanna Viviers en Henk Coetzee gedurende ‘n selfverdedigingsklas. (Foto: Verskaf)

“Ek was ná die aanval in ʼn swart gat. Ek was verbouereerd en angsbevange. Ek het in konstante vrees geleef en gewag dat [die aanvallers] moet terugkom. Ek sou in ʼn winkelsentrum loop en skielik in ʼn winkel inhardloop om net weer my asem te kry.”

Nanna Viviers is ʼn ander mens as sowat sewe maande, néé selfs drie maande, gelede. Dít volg nadat Viviers in Oktober verlede jaar op haar 25ste verjaarsdag in die vroeë oggendure met ʼn bobbejaanmoersleutel aangerand en byna verkrag is toe sy en haar kêrel, Albert John (23), in hul huis in Baillie Park in Potchefstroom deur ses gewapende aanvallers oorval is.

Hoewel Albert enkele weke ná die aanval kon terugkeer na normaal, was die tyd wat daarna gevolg het moeilik vir Viviers wat dáárdie nag vir haar lewe moes baklei toe die aanvallers vir Albert sê dat hulle sy meisie voor hom sou verkrag.

Dit was eers nadat ʼn kennis van haar pa haar in Maart vanjaar aan Henk Coetzee van Kalah Combat Noordwes voorgestel het, wat sy die traumatiese voorval uiteindelik kon begin verwerk.

Nanna Viviers en Albert John voor die aanval. Foto: Facebook

Viviers verduidelik dat sy en Coetzee eers gaan koffie drink het sodat hy haar kon verduidelik wat die selfverdedigingsklasse wat hy aanbied behels voordat hy haar sou nooi om self ʼn klas by te woon. “Die dag wat ons gaan koffie drink het, het hy klaar al my vrae beantwoord. Hy het my gemaklik laat voel en ek het hom dadelik vertrou.

“Henk se selfverdediging het my lewe gered,” vertel sy nou.

Volgens Viviers het sy ingestem om die klasse by te woon en gevra dat sy alles leer wat daar moontlik oor selfverdediging te leer is. “Ek het geleer hoe om ʼn mes en ʼn pistool af te vat. Ek het geleer hoe om met gemak ʼn pistool te hanteer en hoe om te reageer op ʼn plaasaanval. Ek sit nog met die letsels [van die aanval], maar dit is al beter,” verduidelik sy.

Nadat Viviers met dié klasse begin het, het die nare nagmerries en alewige vrees waarmee sy maande lank geworstel het, beter begin word.

Daarom het Viviers ook nou ander vrouens by die @Fitness-gimnasium in Potchefstroom begin help om ook hul traumatiese ervarings te verwerk. “Selfverdediging is my veilige vesting waar ek vrede voel en waar ek kan asemhaal. Dit is wat ek vir ander vroue wil bied.

“Hulle moet weet dat daar ʼn plek is waar hulle gehelp kan word en wat hulle selfvertroue vir hulle kan terug gee, soos [Coetzee] vir my gedoen het. Ek het dadelik ʼn verskil gevoel. Die persoon wat ek drie maande gelede was en die persoon wat ek nou is, is twee verskillende mense,” vertel Viviers.

Op die vraag oor wat selfverdediging aan haar teruggegee het wat die rowers die aand van die aanval by haar kom steel het, antwoord Viviers sonder om vir ʼn oomblik daaroor te dink: “My vrouwees. Ek kan weer spesiaal en uniek voel. My bestaan beteken weer iets en my selfvertroue begin ook terugkom.”

Nanna Viviers en Henk Coetzee gedurende ‘n selfverdedigingsklas. (Foto: Verskaf)

Viviers sien selfverdediging as terapie wat haar fisiek en emosioneel sterker gemaak het en sy het die afgelope naweek haar eerste klas vir vroue aangebied.

En hoe lyk dié klas? Sy antwoord dat die ouderdomme in haar klas van 14 tot 63 jaar oud wissel. “Ons is almal bang en wil onsself beskerm. Ek kan sien hoe die vroue [by die klas] aankom en verbouereerd is, maar as hulle eers die tegnieke aanleer en regkry, kom die selfvertroue uit. Jy voel dan soos ʼn warrior woman.”

Viviers is tans ʼn finansiële adviseur in Potchefstroom maar beplan om selfverdediging voltyds te doen. Sy en Albert het sedert die aanval by sy ouers gewoon en beplan ook om in die nabye toekoms weer ʼn plek van hul eie te kry.

Is sy bang?

“Ek sien weer kans om alleen te bly. Ek weet nou dat dit oukei gaan wees. Dit gaan baie beter wees,” antwoord dié warrior sonder om te skroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nettie ·

Nee, wat, as jy gelyk deur ses aanvallers aangeval word, sal nie eens die BESTE selfverdedigingstaktiek jou van enige nut wees nie. Jy skrik jouself in elk geval in die eerste instansie heeltemal oorhoeks, want gewoonlik is die aanvalle in die nag (wanneer jy slaap), in jou huis (waar jy veilig voel) en in getalle (ses of meer kwaaddoeners). Watter kans het ENIGE mens – enkel en alleen – teen 6 (of meer) gewapende aanvallers? NUL, NIKS, NADA ….

Ronel ·

Ek bied selfverdedgingsklasse aan en die groot ding wat ek vrouens leer is om kalm te bly en om die situasie in eenkyk op te som. Onthou ook dat muscle training intree en die oomblik wat jou aanvaller(S) agterkom dat jy nie net nog ‘n slagoffer gaan wees nie, gaan hulle dalk terugval. Vir iemand wat min of geen opleiding het nie, is die ding van oorgee maklik, maar vir iemand wat at least ‘n paar klasse al bygewoon het dit nie net van opgee en kyk wat gebeur nie. Ja ek gaan seerkry, maar ek gaan nie net oorgee nie. My aanvaller gaan ook seerkry.

Jj ·

Nee wat om terug taktiekvol terug te baklei het jy baie baie grooter kans van oorlewing as om te smeek vir jou lewe teen die bloedlustige volk. As jy die oorspronklike artikel van die meisie se aanval lees sal jy sien die eenigste rede hoekom sy nie verkrag was voor haar kerel was ondat sy besluit het om op daai oomblik terug te skop en slaan toe hardloop die lafharte weg toe sy uiteindelik die paniek knoppie kon druk. Al wat die misdaat teen ons mense gaan keer is as die bowe weet dat as hy en sy 6 maantjies vanaand by die huis in breek gaan teminste 2 van hulle in die graf gaan opeindig en ander 4 met erge beseerings dan sal hulle 2 keer dink

Jana ·

Ek is so bly vir haar! Trauma soos wat sy beleef het laat mens magteloos voel en selfverdediging klasse kan mens empower. Sy motiveer my om ook so ‘n klas te doen.

Stem ·

Ek ken nie hierdie pragtige mensie nie, maar ek is, as vrou, baie trots op die girl. Ek is bly dat sy dit in ‘n mate agter haar kon sit, en aangaan met haar lewe.
Skoon hoendervleis gekry om die opvolgstorie te kon lees, dankie MM hiervoor.

Erick ·

As oud fiksheidsinstrukteur, wens ek meer mense wil “functional working and fighting muscle” ontwikkel as “bodybuilding show muscle”. Dit is soos Ronel sê, as jy die nodige opleiding het tree dit automaties na vore in ‘n konflik situasie. Hoe meer bloots jy natuurlik kry tydens oefening, hoe dieper gaan dit vas lê. Ek is dankbaar vir die vrou se emosionele en selfbeeld herstel.

Francois ·

Hulle moet dit n verpligte vak op skool maak: How to survive in SA

Klasse in gevegskuns, wapen hantering, huis beveiliging en sekuriteits tegnologie, bestuurs vaardighede in noodgevalle, die noodbehandeling van stomp beserings, meswonde, skietwonde, die tekens van PTSD en behandeling etc.
Hoe om bejaardes en kinders te beveilig teen aanvalle.

Ons moet eintlik n handboek en videos maak van bg. en dit versprei
Dit sal baie help

Strand looper ·

Eks bly jy kon jouself uit daai donker swart gat kry leterlik en figuurlik gesprooke…

olivia ·

dis reg meisie . skop hulle laat hulle sommer doer teen die mure waai. skop hulle hard ….

Kush ·

Ek het vir baie lank in die Kalah stelsel opleiding gekry by hul Pretoria tak. Dit is nie maklik nie, omdat jy geen beskerming gebruik nie en die instrukteurs is hard op jou. Jy word regtig opgelei as of iemand jou aanval, dit is nie soos ander gevegskunste waar die ‘aanvaller’ stil staan terwyl jy die bewegings uit voer nie, hulle bied weerstand so jy word rond gepluk soos ‘n strooipop soms. Maar jy klou, jy veg, jy byt, jy slaan en jy oorleef. Vrouens word ook nie anders behandel nie, inteendeel word jy soms teen van die groter ouens gesit. En moet nie dink hulle behandel jou sagkens omdat jy ‘n vrou is nie. Dit klink erg maar dit is die beste besluit wat ek ooit geneem het om vir die klas op te daag. Ongelukkig moes ek ophou oor werk maar sodra ek weer kan gaan ek terug. Ek is baie bly dat hierdie dame Kalah ontdek het, sy is voorwaar ‘n vegter. En die feit dat sy instrukteur is nog meer ongelooflik, hulle word nog erger opgelei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.