Ná nog vertragings móét Mkhwebane nou getuig  

Adv. Busisiwe Mkhwebane (Foto: Skermskoot/YouTube-video/Parlement)

Adv. Busisiwe Mkhwebane, geskorste Openbare Beskermer (OB), sal vandag met haar getuienis voor die parlement se artikel 194-komitee moet voortgaan, selfs al is haar regsverteenwoordigers nie teenwoordig nie.

Die komitee wat belas is met die proses oor Mkhwebane se moontlike verwydering as OB, het Maandag sy werksaamhede hervat ná weke lange vertragings oor Mkhwebane se regsverteenwoordiging. Die komitee moes egter Maandag weer sy verhore uitstel nadat daar steeds kwessies oor Mkhwebane se regsverteenwoordiging was.

Die prokureursfirma wat nuut aangestel is om Mkhwebane se korrespondensie met die komitee te behartig het Maandag laat weet hulle is nie gereed om voort te gaan nie aangesien hulle nie genoeg tyd gehad het om voor te berei nie. Mkhwebane het aangedui dat sy steeds adv. Dali Mpofu verkies om haar te teenwoordig, maar hy is glo nie opdrag gegee om Maandag gereed te wees nie. Mpofu eis glo twee ondersteunende advokate en dat hulle al drie meer betaal word as voorheen.

Qubudile Dyantyi, voorsitter van die komitee, het gesê die komitee sal Woensdag sy werk voortsit en dat Mkhwebane gereed moet wees om met haar getuienis voort te gaan, met of sonder regsverteenwoordiging.

Mkhwebane het sedert die begin van April al reeds verskeie kere voor die komitee verskyn sonder regsverteenwoordiging nadat die kantoor van die OB dit aan die begin van Maart duidelik gemaak het dat hy net tot einde Maart vir haar regskoste kan betaal. Nieteenstaande is ʼn verdere R4 miljoen beskikbaar gestel.

Bewerings van korrupsie

Nosiviwe Mapisa-Nqakula (Foto: ZKostile/Parlement)

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering, het intussen haar kommer uitgespreek oor die voortdurende bewerings van korrupsie wat in die media gemaak word teen sekere lede van die art. 194-komitee.

Ernstige bewerings is ook deur Mkhwebane teen Mapisa-Nqakula gemaak dat sy ʼn versoek om ʼn vergadering geweier en Mkhwebane “as ʼn fluitjieblaser oor die bewerings” blootgestel het. Volgens Mapisa-Nqakula is die bewerings blatant vals en kwaadwillig aangesien sy nie by magte is om sulke bewerings te ondersoek, bevindinge te maak of dit te verwerp nie.

Mapisa-Nqakula het gesê sy het Mkhwebane om dié rede aangeraai om ʼn klag by die gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange in te dien.

Die bewerings dat hoëprofiel-parlementslede glo gepoog het om Mkhwebane af te pers om die ondersoek na haar te staak, is volgens sekeres net nog ʼn vertragingstaktiek.

Dr. Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep, het vroeër gesê die parlement moet nie eens aandag gee aan die bewerings nie en eerder net die proses oor Mkhwebane se moontlike verwydering as OB afhandel.

Narend Singh, IVP-hoofsweep, meen egter dat die bewerings wel deur die parlement ondersoek moet word. Daar word onder meer beweer dat ANC-LP’s glo derduisende rande van Mkhwebane gevra het om die ondersoek te staak.

Mulder meen dit is net nog ʼn vertragingstaktiek met die art. 194-komitee se werk wat al langer as ses maande duur en die afgelope ruk telkens vertraag is weens Mkhwebane se gebrek aan regsverteenwoordiging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JohanEtz ·

Vêrdere 4 milj beskikbaar gestel?
Liewe genade!
Sy ontvang ook steeds salaris en voordele!
Hoeveel hongeres kon gevoed word!

Lourens ·

Hongeres gevoed? Die staat (belastingbetaler) is nie veronderstel om mense kos te gee nie.

Shakespeare ·

Alle hofsake word vertraag. Hoekom ? Omdat ons hele regstelsel VERTRAAG is.

Koos 100 ·

Nou gaan sy siek wees en ‘n doktersbrief inhandig. Sy het baie goed geleer by die meester van hof vertragings tegnieke! Mpofu kan vra wat hy wil, dis sy reg. Sy kan hom ook kry om haar te verdedig, dis haar reg, maar nie op die belastingbetaler se sak nie!

Blikkies ·

@Koos, en ongelukkig kan ons niks daaraan doen as hulle ons geld gebruik nie. Hoe kan ons dit ooit stop as hulle in beheer bly.

Koos 100 ·

Blikkies, my hoop bly op die nuwe middelklas wat agterkom hulle betaal vrek baie belasting sonder enige voordele. Ek hoop hulle besluit om hul stemme te swaai.

Stofdonkie ·

Want zuma is die baas, niemand gaan optree teen hulle eie baas nie. Ook is almal so betrokke by zuma en gupta se speletjies dat hulle nie kan optree teen hom nie want dan sink hulle saam met hom

JohanR ·

Hoekom ruk ek my bedlamp se prop by die muur uit, en gooi hom die lengte van die slaapkamer elke keer dat ek die een se vreet gesig sien?!?!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.