Naam bekend van roeiafrigter wat by regatta sterf

Argieffoto (Foto: Victoria-meer-roeiklub)

Die departement van sport en kultuur het Maandag die naam bekendgemaak van die 19-jarige roeiafrigter wat Saterdagmiddag dood is nadat hy en ʼn 14-jarige leerder tydens ʼn regatta in Germiston aan die Oos-Rand deur die weerlig getref is.

Vuyo Mhaga, woordvoerder van die departement, het bevestig Nicholas Whaits (19) het in die voorval gesterf terwyl William MacDonald (14) beseer is. Albei is verbonde aan die private skool Somerset College in Somerset-Wes. Whaits is ʼn afrigter by dié skool se roeiklub en ʼn oudleerder van die skool, terwyl MacDonald tans ʼn leerder aan dié skool is.

Graham Sayer, skoolhoof by Somerset College, het die skoolgemeenskap Sondag in ʼn verklaring in kennis gestel van die voorval. Hoewel Sayer nie onmiddellik die name van die afrigter en leerder bevestig het nie, het hy gesê die afrigter het ook ʼn jonger sib wat by Somerset College skoolgaan.

Maroela Media het vroeër berig die regatta is Saterdag omstreeks 17:00 by die Victoriameer in Germiston afgelas weens donderstorms in die gebied. Deelnemers was besig om alles weg te pak toe Whaits en MacDonald deur ʼn weerligstraal getref is, het Gerhard Potgieter, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), Sondag gesê.

Die NSRI Gauteng en paramedici, wat by die regatta was, het dadelik reageer. Mond-tot-mond-asemhaling is toegepas, maar pogings om Whaits by te bring, was tevergeefs.

MacDonald is ook op die toneel behandel voor hy in ʼn ernstige maar stabiele toestand na ʼn hospitaal geneem is. Sayer sê MacDonald herstel tans goed by die Sunward Park Netcare-hospitaal in Boksburg en is in ʼn bestendige toestand.

ʼn Saalbyeenkoms is Maandagoggend by Somerset College gehou ter herdenking van Whaits waarna die roeispan kon agterbly vir traumaberading. Vlae sal vandag halfmas by die skool hang en die skoolgemeenskap is uitgenooi om swart armbande te dra in roubetoon aan Whaits.

ʼn Graad 11-kamp by die skool is tot verdere kennisgewing uitgestel.

Thokozile Xasa, minister van sport, het sedertdien haar medelye met die familie van die oorledene betuig. “Ons is hartseer om van die afsterwe van Whaits te verneem. Ek wil graag my medelye met familie en vriende van Whaits, sowel as die roeigemeenskap en die hele sportfamilie oordra en wens MacDonald ʼn spoedige herstel toe,” het Xasa gesê.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.