Naamsverandering van skole: ‘Deel van groter plan vir geskiedenis-uitwissing’

Argieffoto

Argieffoto

Die ANC-regering se planne om die name te verander van skole in Gauteng, wat na sogenaamde apartheidsleiers vernoem is, is deel van ’n groter en doelbewuste poging om geskiedenis-uitwissing te pleeg.

Só meen dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, nadat dit vandeesweek aan die lig gekom het dat die departement van basiese onderwys die name van Gautengse skole soos dié van die Hoër Tegniese Skool John Vorster, Hoërskool Gerrit Maritz en Hoërskool Dr. Malan wil verander.

“Die uitwissing van ’n groep mense se geskiedenis kan verskeie vorme aanneem. In Suid-Afrika is die geleidelike miskenning van die Afrikaner se geskiedenis kort ná 1994 reeds ervaar. Nie net word die geskiedenis soms verdraai om by die heersende politiek in te pas nie, maar die bydraes wat Afrikaners in die verlede gemaak het, is ook tot ’n groot mate verwyder,” verduidelik Brink. “Dit wat ons vandag sien met die pogings om skoolname te verander, is net nóg ’n stap in die rigting van geskiedenis-uitwissing.”

Brink hou vol dat hoewel daar uiteenlopende vertolkings oor geskiedenis is, mag die een deel van die bevolking se geskiedenis nie ten koste van ’n ander s’n vertel word nie. “Geskiedenis, veral in Suid-Afrika, vereis ’n enorme mate van interkulturele kennis en respek. Daar mag eenvoudig nie aan die een kant lofliedere gesing word en grootskaalse verering wees vir iemand soos Peter Mokaba – bekend vir sy ‘Kill the Boer’-liedjie – terwyl Afrikaners wat op verskeie terreine uiters positiewe bydraes gelewer het as’t ware uit die verlede gevee moet word nie.”

Talle ander brandende kwessies moet eerder in skole gepak word, meen Brink. “Swak geletterdheid- en syfervaardighede; die tekort aan genoeg goed opgeleide onderwysers in kritieke vakke soos wiskunde en wetenskap; ’n verlaging in standaarde; die aanloklikheid van onderwys as beroep en die feit dat SADOU die onderwys gyselaar hou, moet eerder getakel word. Politieke speletjies hoort nie in die klaskamer nie.”

Helpende Hand benadruk dat die besluit rakende die benaming van ’n skool berus op die diskresie van die wettig verkose skoolbeheerliggaam.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het intussen gesê die voorneme is ʼn teken van disrespek wat juis teen sosiale kohesie gaan werk.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dit stuur weer die boodskap uit dat enige spoor van die verlede wat met Afrikaans en Afrikaners verband hou, onwelkom is.  “As ʼn gemeenskap se verlede onwelkom is, kan die gemeenskap ook nie welkom voel nie.  Elke gemeenskap in die wêreld het foute gemaak – dit kan erken word sonder om die reuse bydrae van so ʼn gemeenskap te ontken en sonder om die nalatenskap totaal en al te probeer uitwis.”

Bailey het beklemtoon dat die skole se samestelling juis ʼn voorbeeld van transformasie is, aangesien leerlinge van alle rasse en gemeenskappe daar welkom is. “ʼn Studie van Africa Check het opnuut bewys dat 75% tot 80% van die land se skole wanfunksioneel is.  Die LUR swyg oor hierdie brandende kwessie wat die toekoms van miljoene kinders in die land direk raak, maar hou aan om rassisties-verdelende uitsprake teen Afrikaans en Afrikanergeskiedenis te maak.  Dit is onaanvaarbaar.  AfriForum staan graag skole by wat hulp benodig om standpunt in te neem teen die druk van owerhede om hul name of taalbeleid te verander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Leeutjie ·

Ag nee! My ou skool Dr Malan? ‘n Plattelandse skool in ‘n plattelandse dorp Meyerton. Almal Afrikaanssprekend. Hoekom krap hulle waar dit die jeuk nie???

marianna skontorp ·

Hoe roei ‘n mens geskiedenis uit? Is mos nie moontlik nie!

Leonard van der Dussen ·

As die ANC-LUR nou ‘n slag iets deurvoer wat hy so graag elke keer aankondig, kan hier ‘n interessante toets kom wat tot op die emosionele plaaslike vlak deurslaan oor die werklikheid van hoe sterk die grondwetlike en wetlike posisie van skoolbeheerrade se gesag teenoor ‘n oorwinnaar wat sy oorwinning oor ‘n land bevestig.

Daar is egter ‘n klip in die skoen hier: hoeveel weet hierdie beheerraadslede, ouergemeenskappe, onderwysers en “leerders” regtig van die mense na wie die skole vernoem is? Of is dit hier maar weer net ‘n eintlik selfhandhawende protes oor “my Afrikanerregte”, met die klem op “my”, maar weinig moeite gedoen word wat regtig op ander vlakke – soos aanbieding van gesonde geskiedenis as vak – aan te bied. Help veel daar word oor die skoolnaam en geprotesteer, maar op baie ander vlakke is die einste mense soos dr D F Malan se nalatenskap eintlik ook maar al deur baie Afrikaners self die rug gedraai. Gerrit Maritz is Voortrekkerleier oor wie daar onder vandag se Afrikanergemeenskappe ook maar bitter min kennis is en die Voortrekker-erfenis, insluitende die Gelofte, is ook nie in status onder Afrikaners soos dit behoort te wees nie.

Of hoe?

Leonard van der Dussen ·

Verbeterde weergawe met minder skryffoute, met apologie:

As die ANC-LUR nou ‘n slag iets deurvoer wat hy so graag elke keer aankondig, kan hier ‘n interessante toets kom wat tot op die emosionele plaaslike vlak deurslaan oor die werklikheid van hoe sterk die grondwetlike en wetlike posisie van skoolbeheerrade se gesag is teenoor ‘n oorwinnaar wat besig is om sy oorwinning oor ‘n land bevestig.

Daar is egter ‘n klip in die skoen hier: hoeveel weet hierdie beheerraadslede, ouergemeenskappe, onderwysers en “leerders” regtig van die mense na wie die skole vernoem is? Of is dit hier maar weer eintlik net ‘n selfhandhawende protes oor “my Afrikanerregte”, met die klem op “my”, maar waar weinig moeite gedoen word op ander vlakke – soos aanbieding van gesonde geskiedenis as vak – met dit wat vir ‘n volk kosbaar behoort te wees. Help veel daar word oor die skoolnaam geprotesteer, maar op baie ander vlakke is die einste mense soos dr D F Malan se nalatenskap eintlik ook maar al deur baie Afrikaners self die rug gedraai. Gerrit Maritz is ‘n Voortrekkerleier oor wie daar onder vandag se Afrikanergemeenskappe ook maar min kennis is en die Voortrekker-erfenis, insluitende die Gelofte, het ook nie die status onder Afrikaners soos dit behoort te wees nie.

Of hoe?

Lynette ·

Die stelselmatige uitwissing van die wit afrikaan kyk na die advertensies op tv, in printed media so hulle sal dit orals doen maar ons is nie net omstanders in ons eie ondergang nie.

J.Z ·

Die ANC is stadig maar seker besig om hom self uit te roei,wat hulle nie besef dat al die onaangename dinge wat hul nou aanvang teen hulle in die geskiedenis aangeteeken word.

Theresa ·

So gaan dit aan en aan en aan. En hulle kry alles reg en doen wat hulle wil. Elke dag word daar mense op plase aangerand en vermoor, maar hulle hou hulle besig met snert. Mors geld en daar is mense wat nie water, krag of huise het nie. Hierdie mense het nie breins nie – hulle kan glad nie ‘n land regeer nie. Alles draai net om hulle. Hulle dink nie aan more nie. Ek weet wragtig nie waar gaan alles eindig nie. Of iets drasties moet gebeur.

R>B ·

Die ANC moet eerder geld op die jeug spandeer as wat hulle naamsveranderinge doen , dit het geen werklikke nut nie maar kos ons belastingbetalers n fortuin… Dalk soek een van die “comrades” besigheid in advertensie en naamborde?

Theresa ·

Dankie dat ek darem bietjie kon gelag het CR…………………………… (Jou beskrywing is uitstekend).

C Taute ·

Ons skole is ver onder af op die wereldwye leer van Wiskunde , so die departement kan nie wiskunde aan leerders oordra nie.
Ons het ‘n groot tekort aan wetenskaplikes want ons skole kan nie wetenskap oordra nie.
ANC propaganda word geskiedenis genoem en aan die leerders opgedis.
Die departement kannie eers vir al die leerders skoolboeke gee nie….

MAAR HOU MOED …HULLE KAN NAME VERANDER…

C Taute ·

Marianna Dit is eintlik maklik om geskiedenis uit te roei. Jy swyg oor die waarheid en laat die kinders net die propaganda leer. Gaan kyk hoe in die leerders se “geskiedenis handboeke”

CHRISTA ·

Hulle dink hulle ‘spite’ ons, maar so sal die bewyse lewensgroot op die skole, universiteite, hospitale, ens staan: wie het hierdie dienste bestuur en waarom dit tot ‘n val gekom het!!!

Ria Noomé ·

Ons is almal oud Gerries en die Hoër Gerrit Maritz was deel van my hoërskool loopbaan. Ons het ‘n Gerries page op FB en almal gaan staamstaan dat ons naam behoue bly. Gerrit Maritz was ‘n voortrekker leier en nie ‘n apartheidsleier nie. Ek gaan meer info kry oor Gerrit Maritz. Ek het Solidariteit gekontak. Ons sal nie sommer gaan lê nie. Al ons Gerries sal saamstaan.

kyle ·

Ek is n 23 jarige Afrikaner wat huidiglik my honneursgraad in onderwysbestuur doen. Ek ken die uitdagings waarvoor ons skole te staan kom en hul benaming is die minste van ons probleme. Hitler, Stalin en ander bekende name word nie uit die geskiedenis uitgewis nie al weet mense dat hulle baie foute begaan het. Los die skoolname uit, die leerders en akademiese standaard en vooruitgang word nie aan die naam gemeet nie. Ons moet terug staan en weer besin oor waar ons prioriteite is. Hou op om geld op die onnodige te mors, n nuwe naam gaan nie die matriekuitslae verbeter of die standaard verhoog nie. Los die sirkus speletjies wat ons land se beeld wereldwyd skend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.