Naamsverandering wink vir Kovsie-koshuise

universiteit van die vrystaat 3

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: UV Facebook

Deur Anja van der Merwe en Tania Heyns

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) voer al ’n geruime tyd samesprekings met onder meer studente, alumni en personeel van die universiteit oor die moontlike naamsverandering van verskeie koshuise op die kampus.

Verskeie studente en alumni is egter teen dié besluit gekant, terwyl ander dink dit sal inklusiwiteit bevorder mits dit reg benader word.

Maroela Media het verneem dat minstens agt koshuise se name in die nabye toekoms waarskynlik kan verander. Dit sluit moontlik in Huis Abraham Fischer, Huis Emily Hobhouse en die CR De Wet-gebou op die kampus.

Die naamsveranderinge sal in sommige gevalle behels dat ’n koshuis se naam bloot aangepas word om inklusiwiteit te bevorder, terwyl ander koshuise in naam sal verander, maar hoegenaamd nie in inherente betekenis nie, meen prof. Colin Chasi, direkteur van die UV se Eenheid vir Institusionele Verandering en Maatskaplike Geregtigheid.

Chasi het Donderdag by navraag aan Maroela Media gesê die UV is vanaf verlede jaar in “ernstige gesprek” met belanghebbendes oor “die pad vorentoe”.

Dit sluit in gesprekke met huidige studente, oudstudente en personeel wat van die geboue gebruik maak.

“Ons praat nie hier van een of twee vergaderings nie, maar eerder van diep gesprekke oor die name en simbole van ál die geboue, oud én nuut, op die kampus.”

Chasi sê die UV wil geensins die geskiedenis op die kampus “uitvee” nie. “Ons wil ons gemeenskaplike tale en ervarings [saamvoeg] op ’n manier wat werklik respekvol en demokraties is. Dit gaan oor waar ons nou is en waarheen ons sáám wil gaan.”

AfriForum Jeug beskryf die UV se planne egter as “die beplande herskrywing van die koloniale geskiedenis, verpak as inklusiewe en progressiewe naamsverandering om transformasie te bevorder”.

“Verandering is goed, maar om iets te verander net om die waarheid te vernietig en die konteks te verduister deur dele van die geskiedenis oor te skryf of te ontken, is nie vordering of eerlike akademiese gebruik nie,” sê Bernard Pieters, bestuurder by AfriForum Jeug.

Pieters sê die burgerregteorganisasie gaan nou ondersoek instel rakende die beplande naamsveranderinge om vas te stel presies wat die rede vir die besluit is.

Hy verwys spesifiek na die Emily Hobhouse-koshuis wat vernoem is na “ʼn Christelike Britse dame wat vroue en wesies in koloniale konsentrasiekampe versorg het”.

Pieters glo om dié naam uit studente se institusionele kennis te verwyder is gevaarlik en dui op ’n “eksklusiewe benadering tot die selektiewe gebruik van geskiedkundige figure in die Bloemfontein-omgewing”.

“Hierdie deel van die geskiedenis moet juis onthou word sodat daaruit geleer kan word. AfriForum Jeug moedig die aanbieding van die volledige geskiedenis van Suid-Afrika aan, al pas dit nie by die huidige universiteitsbestuur se ideologie of agenda in nie.”

’n Oud-Kovsie wat van 2016 tot 2019 in Huis Abraham Fischer was, sê om dié koshuis se naam te verander, gaan nie noodwendig die kultuur verander om inklusiwiteit te bevorder nie.

“Om die koshuis se naam te verander ter wille van naamsverandering en om ’n sekere punt te bewys, gaan nie die probleem oplos nie, maar bloot olie op die vuur gooi deurdat studente verder van mekaar gaan dryf,” sê dié oud-Kovsie wat nie sy naam genoem wil hê nie.

’n Oudstudent wat tussen 1976 en 1980 aan Kovsies studeer het, sê sy hou nie van die idee dat die koshuis se name verander word nie. Haar broer was ’n inwoner van Huis Abraham Fischer.

“Dit skend die universiteit se identiteit en ontneem die trots wat ek en my broer op die universiteit en koshuis as alma mater het. Dit is sommer onnodige uitgawes,” meen die oudstudent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Swerwer ·

Belaglik. Ons gaan nie in woonbuurtes in en verander name soos ons pas nie. Nèè, want ons is respek geleer vir die mede landsburgers.

Anel ·

Nou hoekom bou hulle nie nuwe koshuise nie en gee dit dan die name wat hulle wil. Maar nou ja. Mense moet maar net hul befondsing staak of skenkings. Dit word mos aan die ou naam gekoppel, nie die nuwe nie.

Dup ·

Vervang maar die name met die van sogenaamde “struggle” veterane. Die UV gaan in elk geval eersdaags 99.9% swart wees.

KB ·

Oorle Jan Spies het gesê: “So in sy moe…, so in sy moe…”
UOVS het ook gegaan…

twaalfboor ·

Dup ek stem saam jou. Wat my verstand wel tebowe gaan is dat huis “Braam Fischer” se naam ook gaan verander. Weet hulle dat Braam Fischer ñ kommunistiese kader was.

Charles ·

Dis darem jammer dat party persone nie kan vrede maak met ons pragtige land se geskiedenis nie! Wanneer daar weer nuwe koshuise gebou word vernoem hulle na die persone wie julle in gedagte het!

Danie ·

Kyk, as jy niks kan opbou nie dan vat jy maar net dit wat klaar daar is en werk en plak jou label op en ……poof en sien daar!

AW ·

MM vriende, ongeag wat ons opinie mag wees, laat ons saam stem dat daar Dinge sal gebeur, wat buite ons beheer is, want die Volk, het gestem vir die ANC, en die Volk sal doen soos hulle wil !!

Wat ons eerder moet doen is aanhou bid , as ook bid vir Kennis, Wysheid, Insig, Gedult, en laat God se wil sal geskied.

En dis reg as daar MM Vriende is wat nié saam stem Nié.

kaplyn ·

AW ek stem saam. In die verband wil ek aanhaal uit 2 Samuel 10 vers 12 (1953 vetaling) “Wees sterk en laat ons ons sterk hou vir ons volk en vir die stede van onse God. Mag die HERE dan doen wat goed is in sy oë!”

marius ·

Maak wat julle wil . Nie een van hierdie mense aan wie eer betoon is sou iets te doen wou he met die gemors en verval nie . Dit sal ‘n belediging wees om hulle name te koppel aan die twak spul .

Keelvol ·

Word daar ooit navorsing op die persone gedoen wie sê name die geboue dra?

Johan ·

Nee, natuurlik nie….dit “klink” net vir hul na verkeerde name.

Di ·

Nie net is die land “rasmal” nie, nou ook “naam mal”. Laat hulle als verander, who cares? Dit gaan niks aan ons verlede of ons kultuur verander nie, Kan duidelik in die berig sien WIE sit hieragter, Tipies

Malan ·

Dit is omtrent so inklusief soos om jou te dwing om te kniel.

Maggies ·

Ek het regte boere name, een van die dae wil hulle dit ook seker verander. Die snert wat hulle soms kwytraak gaan my verstand te bowe.

Grond ·

Ek is glad nie meer trots om met UV geassosiier te word nie, alhoewel hulle my in die goeie ou dae 4 grade gegee het (waarvoor ek hard voor moes gewerk het). Dit gaan nie net oor naamsverandering nie, maar oor die standaard van opleiding en navorsing deesdae by UV wat alhoemeer twyfelagtig is.

Willem ·

Totsiens Vishuis. Ek sal my tyd daar en die Suid-Afrika waarin hy gestaan het vir altyd as die beste tye van my lewe onthou.

Hennie Biebouw ·

Die ANC het in 27 jaar géén noemenswaardige bydraes tot Suid-Afrika en sy mense gemaak nie.
Al wat vir hul oorbly is om name op betsaande instansies te verander, bloot om die aandag af te lei van hul skaamtelose diefstal by die mees kewesbare deel van ons samelweing, en korrupsie om hulself te verryk. Hierdie mense het géén skaamte nie.

Andrew ·

Ek vestaan in elk geval nie hoekom afrikaanses nog hule kinders na die plekke van polities korrektheid stuur nie.
Bou in jou tuisland, bou in Orania.

Jacobus ·

So word waardevolle bronne bestee om sekere groepe te streel. Ons weet mos nou al dat in geval van dorpe, elektrisiteit gaan spontaan aan, krane vloei weer en riool droog op. Leer ons nooit uit dié leë vrugtelose gebare!

Heinrich ·

Daar bestaan nie iets soos ‘Inklusiwiteit’ nie, dis bloot ‘n vertrap van die minderheid se regte deur die meerderheid.

Miskruier ·

Verander maar die name, die etos is tog nie meer dieselfde nie. Wat nou daar aangaan is n klad op die benoemdes se naam.

Willem ·

Afrikaners moet maar van vooraf begin aan instansies vir HULSELF en dan name UIT HUL EIE GESKIEDENIS gee aan die nuwe geboue en instansies. So kan ons nog sorg dat ons geskiedenis op n manier behoue bly.

KB ·

Hierdie Universiteit het lankal sy drieletters gesien. “Trek af en plak toe”- ou SAW gesegde.

Ria ·

Dis n sagmaakproses met behulp van mooi trooswoorde sodat blankes nie aanstoot moet neem nie. Of jy dit wil weet of nie, ons geskiedenis het gebeur en ons baanbrekers sal vir altyd ons baanbrekers wees. Dan moet name verander word na iets niksseggend om niemand te ontstig
nie

Shakespeare ·

Verstaan julle van geskiedenis van ‘n land
ANC/EFF ? DUIDELIK NIE !!

Nico ·

Die ANC regering verstaan duidelik nie die geskiedenis nie omdat die ANC nie deel daarvan was nie.

Frederik C ·

Wel, die grade word nie meer in Europese lande erken nie. Dit is dus in elk geval ‘n mors van tyd en geld om daar te gaan studeer.

Ontnugterde senior ·

Wat is dit met die mense en naamsveranderinge? Hier in Ekhuruleni wil hulle 44 straatname verander maar die strate is in ‘n toestand, die riool loop oor om maar enkele probleme uit te lig. Meeste van die name wat hulle wil verander het GEEN konnetasie met name uit die apartheidera nie. Dit kos miljoene om die aanpassings te maak en ons kan skaars die name uitspreek wat nog te se van oorsese toeriste. Dis tyd dat ons daadwerklik opstaan teen die vermorsing van geld.

Harley Davidson ·

Bou n nuwe universiteit en gee hom ‘n naam los die geskiedenis uit .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.