Naas Botha se broer sterf

Darius Botha (Foto: Facebook)

Darius Botha (62), emerituspredikant en broer van die legendariese rugbyspeler Naas Botha, is Maandag oorlede ná hy sy stryd teen kanker verloor het.

Kobus Wiese, oud-Springbokspeler en sportkommentator, het dié nuus op sosiale media bevestig. “My simpatie aan Naas, die Botha-familie en vriende met Darius se afsterwe. Mag die Almagtige God julle troos en in sy groot hand hou. Mooi loop, Darius,” het hy op Twitter geskryf.

Botha het sedert 2014 ʼn stryd teen maagkanker geveg. Nadat die kanker vroeër in remissie gegaan het, het dit weer einde verlede jaar teruggekeer.

Botha, wat in 2016 ʼn doktorsgraad in teologie aan die Universiteit van Pretoria verwerf het, het destyds aan Marileen Steyn van die Kerkbode gesê kanker is “nie die einde van menswees nie”.

“Mense sê dat iemand sy stryd teen kanker verloor het, maar dit breek die menswaardigheid van daardie persoon af. As ek in chemoterapie instap, word ek begroet met ʼn kolonie van positiewe en blymoedige mense. Hoe kan sulke mense ooit die stryd verloor? Kanker is ʼn siekte – dis nie die einde van menswees nie,” het hy vertel.

Die predikant se tweelingkinders, Carine en Tobie, is onderskeidelik op ses en agtien jaar oud aan kanker oorlede.

Meer inligting was nie onmiddellik bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Ernst ·

Darius n indrukwekkende kind van God.. mag al sy geliefdes vertroos word

AJ ·

Die opskrif kan gerus aangepas word. Ds. Darius was baie meer as net “Naas se broer” Gaan lees en praat met mense wie hom geken het.

Estelle ·

AJ, die opskrif is beslis swak gestel. Darius Botha was ‘n individu uit eie reg en sy broer se bekendheid kan nie en hoef ook geen waarde daaraan toe te voeg nie.
Simpatie met sy familie en vriende met julle groot verlies. Mag dit troos dat hy nou in groot vreugde en vrede lewe by sy God.

StruSSbob ·

Ai ek is jammer om hierdie slegte nuus te kry. Di wêreld is ons woning nie. My hart gaan uit na julle as familie en naastes. Xxx

PJC ·

Ten spyte van uiterste beproewings het hy nog steeds sy geloof behou. ń Voorbeeld vir almal van ons. Darius ons salueer jou. Rus in vrede.

Dabo ·

Dr.Darius Botha sal onthou word as ‘n baie besondere mens. Hy was nie net die Springbok Naas se broer nie. Hy het self vir die Springbokke in 1981 teen die All Blacks as vleuel uitgedraf in Christchurch. Hy het ook in vyf Curriebeker eindstryde vir die Blou Bulle gespeel. Hy sal onthou word vir sy besondere blymoedigheid selfs nadat hy twee kinders deur kanker verloor het en self later met kanker gediagnoseer is. Sy doktorsgraad in teologie het hy in 2016 behaal. Hy was ‘n mens in wie se lewe God se genade sigbaar geword het. Ek eer jou nagedagtenis.

Tc ·

Nag ou Grote,jy was n merkwaardige mens en rugbyspeler,al het ek jou nie geken nie,jy was legandaries!

Hannelie ·

Rus in Vrede Ds. Darius. Opskrif lees beslis nie reg nie. Ek dink hy was ‘n mens uit eie reg, en hoef niks terug gestaan het vir sy broer nie. Baie sterkte aan sy familie en gemeentelede.

Jane ·

Pragtige mens. BAIE STERKTE aan sy familie en veral sy vrou wat alreeds twee kinders aan die dood moes afstaan en nou ook haar man. Mag jy troos by God vind, mense se woorde kan nie vir jou daardie berusting bring wat net HY kan bring nie. RIV Darius, jy het ‘n mooi pad gestap, ‘n voorbeeld vir almal.

Hesta Swanepoel ·

My innige simpatie aan die Botha familie. Mag die Here julle styf vashou en al die mooi herinnering julle altyd by bly en die eina verlig. Hy was ‘n awesome man, die kere wat ek onderhoude oor die radio gehoor het van hom, het dit telkens my lewensbeker volgemaak met hoop. Baie sterkte vir julle in hierdie tyd.

LV ·

Hy was ook n kapelaan in die SAPD,hy het regtig vir die lede omgegee en hulle ondersteun. Was n voorreg om hom te ken.

Ben ·

Baie slegte opskrif – vernederend teenoor Darius Botha – ‘n man op sy eie.

Malherbe ·

Verander asb die swak opskrif wat gladnie by ‘n man soos Ds Darius Botha pas nie.
Dit gaan uit en uit oor Darius .

Pretorius ·

Verwyder asb die onsmaakvolle opskrif.
Dit gaan uitsluitlik oor Darius en niemand anders nie.

A ·

Ek kon darm artikel oopmaak en bid vir die familie en vriende. Want ek ken Naas se naam maar ken nie Darius se naam nie want ek was nie in sy kerk nie en bly nie in Pretoria nie.

Anje ·

EK was by klein Carine se begrafnis al daardie jare terug. Juffrou Botha was my onnie op skool. Dat kanker n gesin so kan verwoes. Ek bid die Here dra hierdie gesin deur die verkriklike hartseer.

Niel ·

Stem saam dat die opskrif onvanpas is, mr soos dit met die media gaan, was Dr Darius Botha nie Naas se broer nie, dan was die artikel nie geplaas nie.

Blommie ·

My innigste simpatie aan die familie. Ek stem saam hy was ‘n persoon in eie reg. Dat hy naas se broer was is by saak. Sy regte titel moet lees DR DARIUS BOTHA. Sodra ‘n predikant sy doktorale graad kry verander hulle Titel van DS na DR (doktor)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.