Naboomspruit-plaasmoord: Hofsaak wéér uitgestel

Alwyn en René van Zyl (Foto: Verskaf)

Die drie mans wat Woensdag in die Mookgophong-landdroshof verskyn het in verband met die noodlottige aanval op Alwyn van Zyl (79) en sy vrou, René (66), op hul plaas digby Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo, se saak is weer uitgestel.

Dit volg na hulle Maandag die eerste keer in die hof verskyn het.

Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die saak is uitgestel tot 1 April wanneer hulle formeel om borgtog sal aansoek doen. Die verdagtes bly tot dan in aanhouding.

Tatenda Lebogang Mongwenya (32), Lyod Madumba (28) en Yaganias Saga (30) is verlede Vrydag etlike ure na die plaasaanval in hegtenis geneem. Hulle word aangekla van huisroof, poging tot moord, moord, die besit van gesteelde goedere en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.

Die polisie het beslag gelê op een vuurwapen met ʼn vol magasyn, patrone, gereedskap, twee sportsakke, een skooltas vol klere, selfone en blikkies.

Maroela Media het vroeër berig die Van Zyl-egpaar is Vrydag omstreeks 00:15 deur omtrent vyf aanvallers in hul plaashuis oorrompel en aangerand. Die egpaar het gelê en slaap toe die mans die plaashuis betree het.

Die aanvallers het Alwyn se voete en arms met klere vasgemaak. Hulle het hom daarna verwurg. Hulle is toe na die ander kamer waar hulle René gedreig en geld en vuurwapens geëis het. Hulle het haar met skoenveters vasgemaak en toe die kamer geplunder, op soek na goed om te steel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amanda ·

Baie hartseer, veral vir die familie wat afsluiting wil he. Dit is vernietigend vir die wat agterbly met die hartseer en die smart wat met so n uitgerekte saak gepaard gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.