Nag van hel ná riool in huis opstoot

Die rioolwater het aanvanklik uit die toilette begin opstoot. (Foto: Amanda Loggenberg)

ʼn Ma van Pretoria het ʼn slapelose nag deurgemaak nadat riool in die huis waarin sy en haar twee jong kinders woon, se dreine begin opstoot en die huis oorspoel het. Dit was so erg dat die gesin deurnag naar was van die reuk en boonop nie die badkamers kon gebruik nie.

Rioolwater het kort voor 12:00 Sondag uit dreine en toilette in dele van Jan Niemand Park begin opstoot, buite inwoners se huise opgedam en in die strate afgeloop. Die probleem is glo deur ʼn verstopte rioolnetwerk veroorsaak.

Amanda Loggenberg se huis is die ergste getref en die riool het vanuit haar badkamers die sitkamer en slaapkamers ingestroom.

“Die reuk was walglik. Ons kon dit skaars verdra,” vertel Loggenberg aan Maroela Media.

Sy huur ʼn huis in die gebied en woon daar saam met haar vyf- en agtjarige kinders.

“Ek wou ʼn middagslapie geniet toe die krag 12:00 afgaan. Ek het die idee egter vinnig laat vaar toe ek sien dat rioolwater uit die dreine begin opstoot,” sê sy.

“Ek het dit probeer keer, maar daar was min wat ek daaraan kon doen.”

Die gesin het nêrens anders om heen te gaan nie en Loggenberg, die eienaar van die huis wat sy huur en ʼn plaaslike raadslid het gespook om werkers by die Tshwane-metro in die hande te kry om te help.

“Dit was omtrent ʼn storie. Ons het soveel nommers en e-posadresse gekry, want die een persoon verwys ons heeltyd na die volgende een toe. Niemand het ʼn oplossing gehad nie.”

Hulle kon eindelik daarin slaag om ʼn verwysingsnommer te kry vir die klagte en dit is wyd op WhatsApp-groepe gestuur in ʼn poging om so gou moontlik hulp te ontbied.

“Ons het ons bes gedoen om munisipale werkers by ons uit te kry, maar daar was geen reaksie op ons oproepe en e-posse nie,” sê sy.

Sy het selfs loodgieters ontbied, maar dié het gesê daar is niks wat hulle in daardie stadium kon doen om die situasie te beredder nie, aangesien dit die munisipaliteit se verantwoordelikheid is.

Intussen het rioolwater aangehou om uit die dreine te stroom. So vinnig soos wat Loggenberg die gemors kon skoonmaak, het meer water uitgestort.

“Die reuk het naderhand in die lug gehang en aan alles geklou. Ons het begin naar word daarvan.”

Loggenberg sê sy en haar kinders moes die aand met die walglike reuk en nat meubels opgeskeep sit en het kort-kort naar geword weens die stank. Die gesin kon boonop nie van die badkamers gebruik maak nie.

“Ek het omtrent ʼn uur se slaap ingekry, want ons kon nie die deure of vensters vir te lank toe hou nie. Ons almal se mae voel snaaks oor die konstante stank.”

Van Loggenberg se meubels is deur die deurlopende stroom van rioolwater beskadig. Een van die kamers in die huis is boonop van pleisterbord gemaak en dit het ook nou waterskade opgedoen.

‘Met mense se lewens gespeel’

Loggenberg sê sy is ontsteld dat die Tshwane-metro nie ʼn noodspan kon uitstuur om die situasie aan te pak nie.

“Die munisipaliteit het met mense se gesondheid en lewens gespeel.”

Daar is glo ʼn gesondheidsfasiliteit oorkant haar huis en sy was naderhand bekommerd dat die riool wat in die strate loop ʼn uitwerking op die pasiënte se welstand sal hê.

“My twee kinders moes ook in ʼn huis wees wat hulle konstant siek gemaak het, want ons kon nêrens anders heen gaan nie. Dit is onaanvaarbaar.”

Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metro, het by navraag aan Maroela Media gesê dat die voorval eers laat Sondagaand amptelik aangeteken is, daarom dat ʼn span eers Maandagoggend uitgestuur is om die probleem op te los.

“Daar was vreemde voorwerpe in die rioolverbinding gevind wat die verstopping veroorsaak het. Goed soos klere en nie-bioafbreekbare materiale is aangetref,” sê hy.

“Die verstopping is intussen skoongemaak.”

Een van Loggenberg se buitedreine is egter nog verstop en sy is glo aangesê om ʼn loodgieter te ontbied omdat die probleem van binne afkomstig is.

Dié moedelose ma is nou besig om haar huis van hoek tot kant skoon te maak, maar sê al die bleikmiddels in die wêreld sal moontlik steeds nie die reuk kan uitkry nie. Die meubels is beskadig en die plaveisel aan die buitekant van haar huis is ook oorspoel.

“Ons het tans waterbeperkings en ek kan aangegee word of hulle sal summier my water afskakel as ek dit probeer afspuit.”

Tog is Loggenberg verlig dat sy en haar gesin nie vir nog ʼn aand die stank moet verduur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

AmY ·

Genade nee!
Baie sterkte vir julle.
Probeer maar om eerder te trek.
Daai reuk gaan vir lank bly.

Shakespeare ·

ANC/EFF riool is ‘n nagmerrie vir enige opgevoede mens. Dit gaan nie ophou nie want daar is hopeloos te veel onbevoegde stemvee.

Eugene ·

Te duiwels met Tshwane se kamtige waterbeperkings. Spuit die plek uit en af., die hele Pretoria sal vir jou opstaan as hulle jou beboet. Wie is jou ward councilor

Euodia ·

Ja stem saam. Waterbekerkings geld nie hier. Maaknskoon. sterkte

marius ·

Dit gaan orals so . Nikswerd patete sit en kyk net . Dit sal nie beter gaan nie .

Anel ·

Die Tshwane metro werk nie oortyd nie, of sal ek sê na ure nie. Klaar. Ons het al kragonderbrekings in die nag gekry en geen reaksie nie. Begin eers miskien 8:00 en eers laat middag word daar herstel. So sterkte aan die mense.

Waarnemer ·

Ek stem saam met Eugene,na die hel met Tswane se water beperkings….dit is hulle wat te slapgat is om na ure hulle werk te doen….spuit due plaveisel skoon;ek glo die hele Pretoria sal jou bystaan.

Maria ·

Sit asb vinnig n sewerage non return valve in jou riool pyp net voor waar hy by die munisipaliteit se pyp aansluit. Alles kan uit, maar niks kan terug. Dis wettig want jy kan met jou pype doen wat jy wil. Jou riool sal nooit weer terugstoot!

Rocco ·

Tshwane se Munisipaliteit is treurig. Die stormwater/rioolpype word nooit gediens nie. Onderverdeel van erwe, en hoëdigtheidsontwikkelings in ou woonbuurte word goedgekeur maar die infrastruktuur, word nie verbeter nie. Goedgekeurde bouplanne wat verdwyn by die munisipale kantore – jy as eienaar moet nou opdok vir die optrek en goedkeuring van nuwes.

Hasie ·

Iemand het vir niemand gebel en niemand het die werk gaan doen .Tipies van die munisipaliteite…….kry geld vir werk en dienste NIE gelewer

Erika ·

Die Legacy van die ANC om Diensbaar te wees Ipv Magsbehep en Gulsig..Tsk
Hulle verskaf nie die Dienste waarvoor ons betaal nie…

Blikkies ·

Wat n flou verskoning om nie te werk oor die naweek nie. Skande. Hulle sal almal met gemak in daardie situasie bly, eet en slaap. Dit sal hulle nie pla nie, solank hulle in ‘charge-bly’.

Lillian ·

Tipiese verval wat oral in ons land voorkom … en geen siel gee ‘n duit om nie ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.