Nagkantoor: Virtuele kuierplek en kuierkroeg van herinneringe

De Wet Potgieter

ʼn Amerikaanse onderwyskenner, Eva Moskowitz, het eenmaal gesê: Die eerste reël van die joernalistiek is dat dit net so moeilik is om tussen ʼn joernalis en sy storie te probeer kom, as wat dit sou wees om ʼn trop stormende beeste te probeer keer.

Dit is beslis waar wanneer jy aan die joernalis De Wet Potgieter dink. Vir langer as 40 jaar het De Wet Potgieter vir hom ʼn loopbaan in die joernalistiek uitgekerf. Hy het begin as hofverslaggewer, maar was uiteindelik ʼn ondersoekende joernalis van formaat en het sy loopbaan afgesluit as redakteur van ʼn streekskoerant. Deur die jare het hy koerantvoorblaaie, nuusfoto’s, koerantplakkate en memorabilia gebêre wat elkeen ʼn leidraad tot ʼn interessante stuk geskiedenis in ons land is. Hy wou graag met ander van sy kollegas en mense in dieselfde bedryf gesels om te hoor watter herinneringe hulle bymekaargemaak het.

Aan die begin van Februarie 2020 het hy die Facebook-blad Nagkantoor begin. Die doel hiermee was om aan enigiemand wat belangstel in die koerantwese, die stories wat daarin vertel is en die mense wat gesorg het dat dit uiteindelik in gedrukte formaat verskyn, ʼn heerlike aanlyn kuierplek te bied. De Wet se oudkollegas, fotograwe en ander mediamense het dadelik begin saamgesels en die een ná die ander storie is afgestof en geplaas met heerlike reaksies daarop. Van die fotograwe het verstommende nuusfoto’s gedeel en daar is ook heelwat stories agter die skerms geplaas. Oor elkeen van hierdie foto’s is daar meer as genoeg gesê. Dit is duidelik dat mense steeds gefassineer bly deur gebeure van dekades gelede.

De Wet sal vroegoggend ʼn foto oplaai en binne minute is daar gesprekke aan die gang. Die Facebook-groep het nou al gegroei tot 5 300 lede en is steeds nie stagnant nie. Nie almal wat Nagkantoor lees, is verslaggewers of redakteurs of fotograwe nie. Jan en Alleman verslind ook graag van hierdie stories en dan kom daar dikwels heel interessante nuwe feite na vore wat weer ʼn heel nuwe debat ontlok.

De Wet se droom was egter nie bloot net om ʼn virtuele kuierplek te skep nie. Hy wou ook baie graag ʼn kuierkroeg hê, want soos die skrywer C Johan Bakkes sê: “Ek wil van kroeg tot kroeg loop en die plaaslike mense leer ken. ʼn Kroeg is ʼn dorp se siel.”

De Wet en sy vrou, Alita, het in 2018 na Kaapsehoop, ʼn dorpie wat waghou oor die Laeveld aan die onderkant van die platorand, verhuis. Ná sy aftrede het die droom van die kuierkroeg al hoe groter geword. Dit moes nie sommer net ʼn kroeg wees nie, maar juis ook ʼn soort museum waar van die nuusfoto’s, koerantvoorblaaie en memorabilia uitgestal kon word. Die naam van die Facebook-groep, Nagkantoor, sou ook ideaal werk vir die kroeg, het De Wet besef.

Menige koerantman kan vir jou vertel hoe daar altyd ʼn storie is wat wag om “opgetel” te word in ʼn klein kroegie. ʼn Lewensgroot foto van Koos du Plessis, wat sinoniem is met die term Nagkantoor, hang hier in Nagkantoor op Kaapsehoop.

De Wet se planne was goed op dreef toe Covid-19 ʼn stok in die wiel kom druk het. In plaas daarvan om oor Paasnaweek 2020 die kroeg se deure vir die eerste keer oop te maak, kon De Wet dit uiteindelik, aan die einde van Augustus, toe die land na inperkingsvlak 1 geskuif het, doen.

Besoekers aan Nagkantoor in Kantoorstraat op Kaapsehoop is almal verras deur die ryk geskiedenisskat wat hier vasgelê is met foto’s van nuusmakers soos Kallie Knoetze, Charlize Theron, Jimmy Abbott, Barend Strydom en heelwat politieke leiers teen die mure. Daar is oorspronklike spotprente van kunstenaars soos Wynie Deysel en Len Lindeque. Die uiteenlopende foto’s en koerantberigte teen die mure sorg vir wonderlike gesprekke en ʼn mens sien keer op keer iets nuuts raak.

Sedert Nagkantoor se deure vir die eerste keer oopgemaak het, het ʼn hele paar joernaliste al hier kom inloer. Mense soos Marius Bakkes, Foeta Krige, Marisa Beeton, Annemarie van der Walt, Joubert Malherbe en David van der Sandt was van die eerstes om hier te kom kuier. Met so ʼn besoek word daar behoorlik gesels en stories en ervaringe uitgeruil, en besoekers wat nie die wêreld van gedrukte koerante goed ken nie, luister stomgeslaan na al die vertellinge.

Nagkantoor die Facebook-blad en Nagkantoor die kuierkroeg op Kaapsehoop is hier om te bly. Mag die stories nooit ophou nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

katerinadiekat ·

Kaapsehoop is n lieflike interresante plekkie. Ek sal een of ander tyd n draai maak by die Nagkantoor. Dis lekker om rond te dwaal in die Hoop, so skilderagtig.

Kokerboom ·

Mag Nagkantoor vir jou en die bree publiek nog baie vreugde bring De Wet!!

Ian ·

Kan nie wag nie! Ek is een vd nie-joernaliste op die groep wat alles met groot belangstelling volg!

shari ·

Lyk na n ideale plek om te let go en net lekker te joll en te kuier en vriende te maak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.