Nagklub-moord: Man vas

Carl Schoombie. Foto: Facebook

Carl Schoombie. Foto: Facebook

Die polisie het ʼn verdagte in hegtenis geneem in verband met die moord op Carl Schoombie (27), wat dood is toe hy aangerand is kort nadat hy weg is by ʼn nagklub.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê die 35-jarige man is Saterdag in Jeppe in hegtenis geneem en sal Maandag in die Wynberg-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Maroela Media het vroeër berig Schoombie het op 21 November saam met vriende by ʼn nagklub in Claremont in Kaapstad gekuier toe ʼn geveg uitgebreek het. Hy was egter nie daarby betrokke nie en het die klub in ʼn taxi verlaat.

Die taxi is in die rigting van Rondebosch deur ʼn ander voertuig, met twee mans wat glo ook vroeër die aand by die nagklub was, van die pad af gedruk. Die twee het Schoombie en sy vriende glo daarvan beskuldig dat hulle die geveg begin het. Schoombie en sy vriende het glo herhaaldelik gesê hulle was nie betrokke nie, maar is nogtans erg aangerand.

Schoombie is met ernstige kopbeserings in ʼn hospitaal opgeneem waar hy ʼn paar dae later dood is.

Lee Schoombie, Carl se broer, het in Januarie aan Maroela Media gesê een verdagte is reeds in hegtenis geneem in verband met die moord op sy broer en die persoon is op borgtog vrygelaat. Schoombie het toe gesê die polisie is op soek na nog ‘n verdagte. Die familie het ook ‘n beloning aangebied vir inligting wat tot die verdagte se opsporing kan lei.

“Hy is gevind en is in aanhouding. Ek en my familie kan nie genoeg dankie sê vir jul ondersteuning nie. Ons kon dit nie sonder julle doen nie. Die soektog is verby. Die geveg vir geregtigheid sal voortgaan in die hof, het Schoombie op die Justice for Carl-blad op Facebook gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

m ·

So jammer. Mens moet maar uit hierdie hole bly want al hierdie kuierplekke lok maar swak mense wat net daar is vir suip en ‘n fight.

m ·

Party mense gaan net kuierplekke toe vir suip en ‘n fight. Dis so onnodig wat met hierdie jongman gebeur het. Sterkte aan die familie.

Marius ·

Diere “suip” en mense “drink”. Alhoewel ek verstaan wat jy bedoel is “suip” ‘n ongelooflike neerhalende, afbrekende verwysing na mense wat drink en ook nie korrekte Afrikaans nie.
My simpatie aan die naasbestaandes.

Francois le Cochon ·

@ Marius. Baie mense gaan na klubs of kroee om ‘n drankie te drink, maar sodra hierdie drankie hul inhibisies onderdruk, begin hulle suip. Daar is ‘n verskil om een tot Whiskey ‘n dag te drink, of soos iemand wat ek ken, drie bottels Whiskey per dag te suip.

Martin ·

Marius, mense drink ‘n dop of twee. Dan vat die vark oor dan begin hulle suip.

pop ·

Hou op om alles as swart te sien. Baie van die plekke is ordentlik, en kan nie net as hole uitgekryt word nie. Mense het n behoefde om te gaan ontspan, en waarom nie. Daar kan oral die slegte element opduik, maar spreek dit aan, nie die plek nie. Nou klink dit of die stomme kind in n hool gele het. A nee a, mense!! Hoe moet sy ouers nou voel.

Deloris ·

Hy het seker gedink hy gaan wegkom. Mag geregtigheid geskiet. Sterkte aan die familie dis so tragies dat so ‘n jong onskuldige man op so manier doodgemaak word.

SAS ·

Ek het te lank in sulke “kuierplekke” gewerk om naief daaroor te wees.Daar is wel die baie klein minderheid wat onskuldig daarheen gaan om te ontspan ,maar dit is dan juis hulle wat onder die boelies deurloop.Die oorgrote meerderheid van sulke plekke wat orals oopmaak en besigheid doen is ongelukkig n baie aanloklike plek vir ongure moeilikheidmakers. Ek vermy die soort plekke deesdae soos die pes. ( my 2c , vir al wat dit werd is)

Johann ·

Ai tog mense, dit gaan hier om reg en geregtigheid! Hierdie is nie ‘n taaldebat nie, maar eerder ‘n wyse van die Schoombie- familie dat die wet nou sy gang sal gaan en dat hulle antwoorde sal kry op baie vrae wat nog pla.
Ek wens die gesin graag sterkte toe en glo dat van die wonde stadig sal begin genees.

Suzette ·

Moet nou asb nie weer ‘n taaldebakel voer nie. Hier het ‘n jongman sy lewe verloor omdat hy pad gegee het, hy was nie by die geveg betrokke nie. Hy het pad gegee is agtervolg, sy taxi van die pad gedruk en aangerand, so erg dat hy gesterf het. Wat dink jy het die aanranders gedoen Maruis, gaan blad skud met hom? Nee, hulle was gesuip en sonder inhibisies. Het pertinent gesoek vir moeilikheid. Jy kry sulke gemors oral. Stap by ordentlike kuierplekke in en soek met sagte teikens skoor, slaat hulle halfdood en gaan aan asof niks gebeur het nie. Dis nie te se dat almal by sulke kuierplekke is suiplappe nie. Normaalweg geniet mense n drankie kuier gesellig en gaan huistoe. Hoop geregtigheid geskied hier aan die Schoombie familie – Baie Sterkte en voorspoed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.