Nagklubmoord: Beskuldigde sweet in getuiebank

Sampie Hearn tydens ‘n vorige verskyning. (Foto: Tania Heyns)

Die getuienis van Sampie Hearn, een van die beskuldigdes in die moord op Daniël (Danie) Botha, het Maandag ’n onverwagse wending in die Benoni-streekhof geneem toe Hearn na die getuiebank geroep is en die landdros ’n paar moeilike vrae aan hom gestel het.

Foto’s waarop Hearn en sy medebeskuldigde, Gideon Fourie, saam op die aand van 25 Julie 2018 by Dingo’s Pub verskyn – waar Botha so erg aangerand is dat hy later breindood verklaar is – het tydens kruisondervraging ter sprake gekom en Hearn se getuienis in twyfel getrek.

“Dié foto’s laat dit lyk of jy langer by die kroeg was as wat jy hierdie hof wil laat glo,” het landdros Ian Cox daarop gewys.

“Jy het ook nooit ’n woord in jou getuienis daaroor gerep dat jy jou medebeskuldigde vóór die [aanranding] gesien het nie.

“Wat anders het jy nie vir die hof gesê nie?” wou Cox by Hearn weet.

Hearn het vanoggend sy weergawe voorgelê van die gebeure wat eindelik tot Botha se dood gelei het. Volgens dié weergawe was Hearn hoegenaamd nie betrokke by Botha se aanranding nie, maar het hy Botha inderwaarheid probeer help.

Hy ontken dat hy een van dié was wat Botha die betrokke aand herhaaldelik op die dansvloer geskop het, soos die uitsmyter Kayembe Badebanga vroeër in die verhoor getuig het.

Riaan Louw, Fourie se regsverteenwoordiger, het tydens kruisondervraging daarop gewys dat ooggetuies moontlik Hearn vir sy kliënt aangesien het. Hearn het deurgaans volgehou dat dit nie moontlik is nie, aangesien Fourie groter gebou is.

Adv. Marius van Wyngaardt, Hearn se regsverteenwoordiger, het toe na twee foto’s – wat vroeër as bewysstukke ingedien is – terugverwys om te bewys dat die twee mans nie vir mekaar aangesien kon word nie.

Dit is in dié foto’s duidelik dat Fourie die betrokke aand ’n hoed gedra het en Hearn nié.

Sampie Hearn tydens ‘n vorige verskyning. (Foto: Maroela Media)

Die hofverrigtinge het egter oomblikke later ’n onverwagse wending geneem toe Fourie vanuit die getuiebank ’n foto op sy selfoon na sy regsverteenwoordiger stuur. In dié foto dra Hearn die einste hoed wat Fourie in die ander foto aanhet.

“Ek wil dit aan jou stel dat Fourie ná die tweede hou van Botha weggetrek is en nié betrokke was by die worsteling op die dansvloer nie,” was Louw se woorde aan Hearn.

Dit het toe duidelik geword dat Hearn nagelaat het om te noem dat hy vooraf gereël het om Fourie die betrokke aand by Dingo’s te ontmoet en dat hulle saam daar was.

Cox het Hearn se weergawe gevolglik in twyfel getrek. “Ek was onder die indruk dat die voorval kort ná jou aankoms gebeur het. Jy het nooit in jou getuienis genoem dat daar daardie aand ’n geleentheid was vir jou en Fourie om saam ’n foto te neem nie.

“Het jy probeer wegsteek dat jy die betrokke aand in die geselskap van jou medebeskuldigde was?” wou Cox toe by Hearn weet.

Hearn het dit ontken en aangevoer dat hy onder die indruk was dat hy slegs oor die voorval getuienis moes lewer, en nie ook oor die gebeure wat voor die aanranding plaasgevind het nie.

Daniël Botha (26) kort voor sy dood.

“Dit is nie ’n leuen nie. Ek het net vergeet om die foto’s aan die hof te noem.”

Hy het ook volgehou dat die voorval inderdaad kort ná sy aankoms plaasgevind het soos hy in die getuienis beweer het. “Ek en Fourie het omtrent dieselfde tyd daar aangekom.”

“Ek stel dit aan jou dat julle met ’n gemeenskaplike doel opgetree en die oorledene aangerand het,” het die staatsaanklaer op sy beurt gesê.

“Dit is nie waar nie, meneer,” was Hearn se antwoord daarop.

Hou Maroela Media dop vir Hearn se volledige weergawe van die gebeure.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Daleen ·

Gooi hulle mekaar nou onder die bus…. Praat maar net die waarheid dis die maklikste. Hoop regtig die saak word nou gou afgehandel vir Daniel se ouers se onthalwe.

hantie ·

Iemand se kierankies gaan hier braai! In n hof praat mens die volle waarheid kêrels

Onnie ·

Dit klink vir my na die Zuma-taktiek, ontken alles tot jy jou self begin glo. Ook bekend as die Bill Clinton-taktiek, ” I want to deny everything ” ons weet hoe daai een uitgedraai het.. kom ons hoop die waarheid kan in die hof bo redelike twyfel bewys word. ‘n Foto is ‘n goeie begin… Slim vang sy baas.

Andre ·

Die Digos gemors pub moes al lankal toegemaak gewees het !! Daar gaan nie n nawek verby waarvan jy hoor hoe daar baklei word nie, julle twee draai lekker teen mekaar hond vreet hond laat julle vir julle kry

DJ ·

Hierdie is die skuim van die aarde. Straf hulle hard. Jammer daar is nie meer ‘n doodstraf nie..

Lillian ·

So pragtige kind se lewe kort geknip oor laaities met los handjies. Wat soek ons kinders nog by sulke hole?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.