Nagklubmoord: Fourie mag appelleer; bly agter tralies

Gideon Fourie en sy regsverteenwoordiger Woensdag in die hof. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Gideon Fourie mag teen sy skuldigbevinding en vonnis appelleer. Hy sal dit wel van agter tralies moet doen.

Die jong pa (27) se aansoek om verlof tot appèl is Woensdagoggend in die Benoni-landdroshof toegestaan. Sy aansoek om borgtog is egter van die hand gewys.

“Geld kan nie geregtigheid koop nie,” het streeklanddros Ian Cox vanoggend gesê nadat Fourie se regsverteenwoordiger aangedui het dat sy kliënt bereid is om ’n “hoë bedrag” te betaal om op borgtog vrygelaat te word hangende sy appèlaansoek.

Fourie se regspan het ’n aansoek om borgtog op grond van nuwe feite gebring oomblikke nadat Cox bevind het dat daar tog ’n moontlikheid bestaan dat ’n hoër hof tot ’n ander beslissing kan kom rakende Fourie se skuldigbevinding en vonnis.

Cox twyfel egter of dit sal gebeur.

“Hou in gedagte dat [Fourie] homself gedurende die verhoor op verskeie geleenthede geïmpliseer het. Ek weet nie hoe hy daarby verby gaan kom nie. Maar dit is nie my probleem nie,” het Cox gesê.

Fourie se medepligtiges, Jacques de Lange en Sampie Hearn, is verlede maand borgtog toegestaan nadat hulle onderskeie aansoeke om verlof tot appèl geslaag het.

Gideon Fourie het Woensdag weer in voetboeie in die hof verskyn. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Cox het egter daarop gewys dat Fourie se saak wesenlik van dié van De Lange en Hearn verskil aangesien hy ’n oorkoepelende rol in Botha se dood gespeel het.

“Indien dit nie vir hom was nie, sou daar niks daardie nag gebeur het nie.”

Fourie is skuldig bevind aan die moord op Daniël Botha nadat die jong man in Julie 2018 in die vroeë oggendure só erg by die kuierplek Dingo’s Pub in Benoni aangerand is dat hy later breindood verklaar is.

’n Hof het bevind dat Fourie dié nag vir Botha sonder enige provokasie met onder meer sy elmboog bygedam en moontlik gewurg het voordat De Lange en Hearn ’n bewustelose Botha herhaaldelik op die dansvloer geskop het.

De Lange en Hearn is skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hiervoor is hulle elkeen vyf jaar tronkstraf opgelê, sowel as ’n verdere twee jaar wat vir vyf jaar opgeskort is.

Fourie is 15 jaar lank tronk toe gestuur vir die moord op Botha.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Miena ·

Hy kan bly wees sy vonnis is net 15jr en nie 25 of langer nie. Nee wat ou maat – dien maar jou straf uit soos ander moet doen. Gelukkig gaan die tyd gou verby. Wie weet- dalk kom jy vroeg uit op parool mits jy ten goeder trou en opreg rou betoon, opreg jammer vra, en goeie gedrag bewys in jou rehabilitasie proses in die tronk. Hopelik gaan julle 3 nie na dieselfde gevangenis toe nie… wie weet watse wraak gedagtes gekoester word tussen julle 3 maats van ouds en nou nuwe vyande gemaak het dalk. Sterkte vir jou en almal betrokke.

Johan ·

Is 15 jaar agter tralies (moontlik nog minder met parool) gelyk aan die moord wat gepleeg is? Ek dink nie so nie!

Watsenaam ·

Ek stem volkome saam. Dit is hartseer dat die soort dinge onder blanke mense gebeur. Wat het die drie ouens bewys? Net een ding, en dit is dat geweld nooit die antwoord is nie. Ek hoop julle kom tot julle sinne in die tronk. Julle weet waar julle hulp vandaan kom. Roep HOM aan.

Amelia ·

Ek dink al 3 was lafaard 3 baklei teen 1 Ander moes ook maar langer straf gekry het man wat le en jy skop nee dis onmenslik Ek het sampatie met botha se familie en ouers en jul 3 wat in tronk is se ouers ook gewoonlik sit daardie ouers van beskuldigdes ook met die hartseer en verwyt

Danie ·

Stem die ander net so n deel van die gemors hoekom het hulle nie gekeer nie.Slapg…te.

George ·

Net so bygenoem, die bybel se nie jy mag nie judge nie, dit se inteendeel “do not judge according to appearance, but judge with righteous judgment”

Gert ·

Nee ek stem nie saam nie, hy het ‘n onskuldige persoon se lewe geneem, God kan jou vergewe as jy opregte berou toon, maar jou skuld teenoor die samelewing moet jy dra.

Wonder ·

Sjoe dit is baie tragies vir die man, ek kan nie verstaan hoekom mense so aggressief raak nie en meeste van die kere by sulke plekke is dit altyd meer as een teen een, ek was al kwaad in my lewe maar om iemand so te martel want dis wat dit is het ek nog nooit so kwaad geword nie. Dis die tipe plekke waar die onheil begin en die mif groei. Ek kuier veel eerder by my huis.

Danie ·

Stem nie saam my vriend wat van die dooie se regte sy familie.Niemand het die reg om te moor nie en sal nie ongestraf bly nie.Ons opinies tel ook.

Daleen ·

Guilty as charged. Jy is gevonnis vir moord so vat jou straf. Maar die verwaandheid om hoe bedrag aan te bied vir borgtog – ek bid vir Daniel se ouers se part jy kry nie borgtog nie want JY het nie een keer berou getoon nie –

Daleen ·

Was “mans genoeg” om iemand dood te slaan maar nie “mans genoeg” om die straf te vat nie. Hoop regtig in die geval seevier geregtigheid en sit jy vir maksimum tydperk want berou het jy nie.

Martie Smartie ·

Twee aandadig aan die slagoffer se moord en hulle kry opgeskorte vonnisse. Het Lds Cox nog nooit gehoor van opset by moontlikheidsbewussyn nie? Hierdie hele saak moet hersien word deur ‘n Regter, ek bespeur dwalings deur die landdros.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.