‘Nagmerrie’-rooftog op Oukersaand

Chocolate is sedert die rooftog skoonveld.

ʼn Bejaarde vrou van Eldoraigne in Centurion was sowat 15 uur lank vreesbevange in haar meenthuis vasgebind nadat twee rowers, ʼn man en ʼn vrou, haar op Oukersaand in haar huis in ʼn kompleks in dié buurt oorval het.

Wilma Ferreira (79) woon alleen in die huis nadat haar man, Ray (80), drie weke gelede aan kanker dood is. Ferreira is Oukersaand omstreeks 20:00 na buite om by haar buurman, Stephen Wellington, te verneem of die vullis die volgende dag verwyder sou word. Sy het die deure agter haar gesluit en is daarna terug in die huis in.

Ferreira sê sy was besig om aartappelslaai vir die volgende dag se Kersete te maak, toe iemand haar van agter gegryp het. “Ek het net die swart handskoene gesien en gevoel hoe druk iemand my mond toe. Dit was ʼn vreeslike ding om te besef ek word aangeval en daar is niemand nie. Dis net ek.

“Hy [een van die aanvallers] het ʼn geweldige groot mes by hom gehad. Hy het aangehou skreeu ‘shut up, or I’ll kill you’. Hy het my in die gesig geslaan sodat ek moet stilbly, want natuurlik skree jy.

“Hy het my op die teëlvloer neergegooi en ek dink dit is waar ek van die kneus- en krapplekke opgedoen het.”

Die rowers het vermoedelik deur ʼn opening wat die vorige huiseienaar vir ʼn hond gemaak het tot in die huis gekruip.

Volgens Ferreira het die twee aanvallers haar hande en voete vasgebind, haar mond toegeplak en haar in ʼn slaapkamerdeur neergesit. Sy sê haar hondjie, Chocolate, het in dié tyd op die bed gelê.

“Daar het hulle my laat lê tot omtrent 21:00. Hulle het al die kaste uitgesmyt en aangehou sê hulle soek geld en die kluis. Ek het vir hom gesê ons het nie ʼn kluis nie en hy het gesê ‘if you don’t tell me where the money is, I’ll kill you’.”

Die rowers het Ferreira se juwele, onder meer haar trou- en verloofring, asook haar selfoon en ʼn paar honderd rand kontant gebuit. Hulle het ook haar bankkaart geneem en gedreig om terug te kom en haar te vermoor as sy die verkeerde PIN vir hulle gee. “Ek het gevra hulle moet my asseblief nie seermaak nie en toe gee ek maar die PIN.”

Sy het gesê die vrou het gedreig om haar met die mes in die been te steek as sy nie saamwerk nie.

Die twee rowers het Ferreira daarna op ʼn eetkamerstoel vasgebind en ʼn kombers oor haar kop gegooi. Hulle is ʼn paar ure later weg.

Ferreira het gesê daar het sy hulpeloos gesit, bykans 15 ure lank, tot ʼn familielid omstreeks 12:00 by haar huis opgedaag het om die aartappelslaai te kom oplaai. Gareth Nicholls het Ferreira vergeefs probeer bel en toe by die Wellingtons navraag gedoen.

Sonja Wellington het gesê Ferreira móét tuis wees, ook omdat haar motor nog daar gestaan het. Sy sou boonop later saam met die Wellingtons Kersmiddagete geniet het.

Nicholls het om die huis geloop, die chaos in die slaapkamer gesien en Ferreira toe in die eetkamer opgemerk. Sy is daarna bevry.

“Dit is soos ʼn nagemerrie. Ek het die hele nag op daai stoel gesit. Tot Kersoggend. Gelukkig het ek geweet iemand gaan kom en dis presies wat gebeur het. Ek het die hele nag gebid en gebid.

“Op daardie oomblik gee die Here vir jou krag.”

Ferreira het onder meer blase aan haar bene en gewrigte waar die aanvallers haar vasgebind het.

“My bure was ook soos engele uit die hemel. Hulle het my met alles gehelp.”

Tussen Nicolls en die Wellingtons het hulle sedertdien ook Ferreira se veiligheidsdeur vervang en haar bankkaarte gekanselleer. Die rowers het R600 uit een van haar rekeninge onttrek. Ferreira se drie seuns woon almal in die buiteland en Ferreira sê die Wellingtons sien soos familie na haar om.

Haar hondjie, Chocolate, is sedert die aanval boonop skoonveld. Nicholls het die hond, ʼn Yorkie-kruising, ná Ray se dood vir Ferreira gegee om haar te help vertroos. Chocolate en die kat, Cuddles, het gevlug toe die rowers toegeslaan het. Cuddles het intussen teruggekeer, maar Chocolate is skoonveld en Ferreira se hart is stukkend.

“Ek is gespaar, nou hoop ek ons kry ook my hondjie.”

Ferreira het gesê hulle het reeds by veeartse begin navraag doen en gaan vandag ook plakkate in die buurt opsit met ʼn foto van Chocolate met die hoop dat iemand hom ingeneem en veilig gehou het.

Sy het gesê die polisie het onder meer beslag gelê op die mes wat die rowers gebruik het om Ferreira te dreig. “Die polisie was wonderlik. Dierbaar. Hulle het so mooi met my gepraat.

“Ek is nie so gepla oor die materiële dinge nie, maar hierdie is nou die tweede keer…”

Die Ferreiras is drie jaar gelede, terwyl hulle Kersoggend in die kerk was, óók besteel. Hulle hele huis is geplunder, net soos nou.

“Ek is so getraumatiseer, ek kan dit nie vir jou beskryf nie.”

Kol. Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder in Gauteng, het gesê ʼn saak van huisrooftog word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae