Nagmerrie-toestand by Oos-Kaap-hospitaal

(Argieffoto: Jossué Trejo/pixabay)

Groot kliniese en administratiewe personeeltekorte, toegang tot water vir net drie ure per dag en ‘n mediese span wat emosioneel en fisiek uitgeput is, is net ‘n paar van die vele uitdagings wat die personeel van die Hewu-hospitaal in Whittlesea in die Oos-Kaap beleef.

Jane Cowley, die DA se skadu-LUR vir gesondheid, het gesê sy was, tydens ‘n onlangse oorsigbesoek by die hospitaal, geskok om te ontdek hoe groot personeeltekorte die funksionering van die hospitaal beïnvloed. Die mediese- en chirurgiese-afdelings moes saamgevoeg word en daar is steeds net een professionele verpleegster, ingeskrewe verpleegster en ingeskrewe verpleeghulp per skof aan diens.

As een verpleegster siek word, is daar geen plaasvervangers nie. “Die wêreldwye Covid-19-pandemie het die situasie vererger en dit het daartoe gelei dat personeel buite hul perke gestrek word,” het Cowley gesê. “In ‘n stadium het 35 personeellede in die hospitaal positief vir die virus getoets. Die hospitaal het geen maatskaplike werker om psigososiale ondersteuning aan personeel te bied nie.”

Die enigste ondersteuning wat die departement van gesondheid aan die hospitaal verleen het, is 45 gemeenskapsgesondheidsorgwerkers. “Geen dokters, professionele verpleegkundiges, ingeskrewe verpleegkundiges of ingeskrewe verpleegassistente is ontvang nie, alhoewel daar baie vakante befondsde poste vir sulke posisies op die huidige personeel-organogram is,” het Cowley bygevoeg.

Die hospitaal het alle werwingsprosesse gevolg om vakante befondsde poste te vul, maar die proses word al maande lank deur die provinsiale komitee vir kostebesparings (PCCC) vertraag. “Die PCCC het heeltemal misluk om belangrike poste te prioritiseer, poste wat aan hospitale groot verligting tydens hierdie pandemie sou bring. Terwyl hierdie komitee sy voete sleep, sterf pasiënte daagliks weens onvoldoende gesondheidsorg.”

Die grootste tekortkoming van die departement van gesondheid is dat hierdie hospitaal net ses dae van die week, vanaf 08:00 tot 11:00, toegang tot water het. Die hospitaal moet op Donderdae sonder enige water oor die weg kom. “Hoe word daar van mediese en kliniese personeel verwag om infeksiebeheer- en -voorkomingsprotokol te beoefen sonder lopende water? Die situasie het ‘n baie negatiewe uitwerking op personeelbehoud gehad.”

Cowley het ‘n brief aan die LUR vir gesondheid geskryf om te versoek dat sy die hospitaalorganogram weer ondersoek en die PCCC nader om hierdie poste dringend te vul, sodat hierdie hospitaal meer effektief kan funksioneer. “Verder sal ek versoek dat die watertekort onmiddellik aandag geniet, aangesien ‘n hospitaal nie sonder konstante en betroubare watertoevoer kan funksioneer nie. Swak beplanning, swak leierskap en burokrasie het die departement van gesondheid op sy knieë gedwing. Ongelukkig is die situasie van so ʼn aard dat personeel, wat in die voorste linie teen die virus veg, en pasiënte met hul lewens boet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oomniklaassevriend ·

Dis nou wat gebeur wanneer simpel motorfietsies gekoop word in plaas van om die geld verantwoordelik aan te wend.

johanf ·

Wat kan mens sê, Dit is die Oos Kaap, waar is al die Biljoene Covid geld heen, net mislukte ambulans motorfietse wat nog nie eers gebruik is nie…..druppel in die emmer. Ek sien swaarigheid wat voorlê.
Sterkte aan die personeel, en simpatie aan die families wat reeds naasbestaandes verloor het…..

Jacobus ·

G’n wonder dat ministers naarstiglik ‘issues’ soos kniel soek om aandag van probleme te deflekteer. Wat ‘n totale ramp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.