Nagmerries teister meisie wat ongeluk oorleef

Selanna Giselle Biggs was 28 uur lank in ’n motorwrak buite Mbombela vasgekeer. (Foto: Instagram)

Selanna Giselle Biggs, die 19-jarige meisie wat 28 uur lank in ’n motorwrak buite Mbombela vasgekeer was, kry steeds nagmerries van haar ongeluk.

Só sê haar ma, Melisa, oor die emosionele stryd wat haar dogter tans saam met vele fisieke uitdagings verduur.

Maroela Media het vroeër berig dat Selanna weens die slegte toestand van die pad beheer oor haar Suzuki S-Presso verloor het en in ’n plantasie langs die Kaapschehooppad beland het waar sy vir langer as ’n dag vasgekeer was.

Melisa het vroeër aan Maroela Media gesê dat Selanna ná haar motorongeluk erge pyn beleef het en waarskynlik vir die volgende jaar nog swaar sal trek weens die femur wat sy tydens die ongeluk gebreek het.

Sy het op 16 April ’n operasie ontvang om die wond van ’n vorige operasie – waartydens dokters probeer het om haar femur te heg – toe te maak. ’n Plaat is ook in haar gebreekte toon gesit.

Selanna was verlede week weer by die dokter en volgens Melisa was hy aangenaam verras met die beengroei. Dit is egter nog onduidelik of Selanna nóg ’n operasie sal moet ondergaan.

“Sy moet oor ses weke weer dokter toe gaan wanneer hy hopelik die plaat uit haar toon sal verwyder. Hy sal dan ook kyk of die beengroei voldoende is en hopelik sal sy nie nog ’n operasie hoef te kry nie.

“Dis ’n emosionele stryd en sy kry nagmerries van die ongeluk. Sy het egter baie liefde en ondersteuning.

“Ons hou ook aan bid en sy lééf – so ons sal dit vat!”

Melisa sê haar dogter se herstelpad is stadig en die gesin is geweldig getraumatiseerd.

“Hoewel ons oorweldig is met die liefde en ondersteuning wat ons ontvang, asook die wonderwerk dat Selanna leef, is ons almal baie getraumatiseerd. Daar lê ’n lang pad vir ons voor.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Maggies ·

Sy lééf… daarvoor kan mens juig en vir ons Hemelse Vader al die eer gee.

KB ·

Sterkte Selanna, bly positief en bly glo in jou Vader. Hy sal jou dra.

Vonny ·

GOD is onS Groot GeneesHeer. Mag Hy jou dra in die moeilike emosionele tyd. Sterkte aan die familie!!

Tiptol ·

Dagvaar die minister van vervoer. Van ons paaie moet mens letterlik tot stilstand kom agv al die potholes. Selfs vragmotors ry langs die teerpad op die grond om die potholes te mis. Abel Erasmus pas oppad Lydenburg toe en van daar Dullstroom toe….daars baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.