Talle inwoners het Woensdagaand by die Garsfontein-polisiestasie in die ooste van Pretoria bymekaargekom om ʼn nagwaak te hou vir die slagoffers wat wreed in hul huis aangeval en vermoor is.
Yusuf Abramjee, ʼn gemeenskapsleier en aktivis wat die geleentheid gereël het, het Donderdag aan Maroela Media gesê dit was ʼn vreedsame byeenkoms waartydens inwoners kerse gebrand het om met die slagoffers en hul naasbestaandes te simpatiseer.
“Sowat honderd mense het op kort kennisgewing die nagwaak bygewoon. Die omgewing gaan die afgelope tyd gebuk onder misdaad en die inwoners leef in vrees. Die dubbelmoord het die gemeenskap geruk,” het Abramjee gesê.
Abramjee dryf die afgelope tyd ʼn veldtog onder die vaandel van #CrimeMustFall. Hy het gesê die veldtog en hutsteken moet oor die hele land begin vlamvat. “Mense is vuisvoos vir misdaad. Die doel van die veldtog is om misdaadbewusmaking op alle sosialemedia-platforms te skep. Dit moet dien om mense aan te spoor om die polisie verantwoordelik te hou om misdaad te bekamp maar terselfdertyd inwoners aanmoedig om nou saam met die polisie te werk en hande te vat.”
Kol. Kervin Solomons, stasiebevelvoerder van die Garsfontein-polisie, het inwoners toegespreek en verseker dat die ondersoek hoë prioriteit geniet. “Ons is besig om alle leidrade op te volg en die verdagtes op te spoor en sal geen steen onaangeroer laat nie,” het hy gesê.
Maroela Media het vroeër berig die polisie het ʼn soektog van stapel gestuur na drie verdagtes wat Dinsdagaand op ʼn huis in Miasstraat in Garsfontein toegeslaan en vyf inwoners met skerp voorwerpe aangeval het.
Twee middeljarige vroue is tydens die voorval doodgesteek. ʼn 59-jarige man, die huiseienaar, is kritiek gewond en twee jonger vroue, die huiseienaar se 30-jarige dogter en die gesin se huiswerker, is onderskeidelik matig en ernstig beseer. Die man is ʼn senior beampte in die departement van toerisme. Sy vrou en dié se suster is in die aanval dood. Lees meer hier.
Die aanvallers het met twee televisies en die slagoffer se voertuig op vlug geslaan. Die dogter kon kort daarna, Woensdag omstreeks 00:30, daarin slaag om te ontsnap en hulp te ontbied. Die voertuig is later verlate in Yeoville in Johannesburg opgespoor.
Die slagoffers se name is nog nie bekend gemaak nie. Die Garsfontein-polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Intussen het die veiligheidsmaatskappy ADT aan Maroela Media gesê hy het sigbaarheid in die buurt vermeerder. “ʼn Wag is buite die perseel geplaas en bykomende gewapendereaksie-voertuie is in die omgewing ontplooi om die veiligheid van inwoners te verseker. ADT se berader is ook betrek om die slagoffers en familie by te staan,” het ADT gesê.
ADT staan die polisie in hul ondersoek by.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
17 Kommentare
Dit is verskriklik. Die lot kom in hulle hordes – nie mans genoeg vir x1 nie.
Nie n MANIER wat ek die stelsels en sisteme van onder andere ADT se sg “veligheids ondersteuning” deelmaak vertrou nie. As daar gereeld polisie betrokkenheid by misdaad oopgevlek word; is die gedeelde inligtings basis van iemand soos ADT n OOP verwysing van en vir misdaad. Weet.presies wie wanneer waar is (gemeenskap) asook die eenhede! En ja ek praat van FEITELIKE ervaring in Monumentpark!
Om nou wagte buite die perseel te sit is nutteloos. Moordenaars gaan mos nie nou daar kom aanmeld nie. Hulle loer nou vir volgende teiken.
Ek het ‘n idee wat ons kan doen om te help (om die boodskap te versprei) as almal genoeg durf het. Elke persoon deur misdaad geaffekteer maak ‘n plakkaat met die woorde #CRIMEMUSTFALL en lys die misdade teen jou persoonlik bv myne: 2 x inbrake, 2 x gewapende rowe, motordiefstal, diefstal uit motor, atm misdaad. Post hierdie selfie op die platfoems en verkieslik op die ANC se eie facebook / twitter accounts. Almal, en aanhoudend.
#CrimeMustFall moet sommer reël dat daar ‘n optog in elke dorp gedoen word. Spreek die woord!