Nagwaak vir slagoffers in Garsfontein-aanval

Foto: Yusuf Abramjee @Abramee / Twitter

Foto: Yusuf Abramjee @Abramee / Twitter

Talle inwoners het Woensdagaand by die Garsfontein-polisiestasie in die ooste van Pretoria bymekaargekom om ʼn nagwaak te hou vir die slagoffers wat wreed in hul huis aangeval en vermoor is.

Yusuf Abramjee, ʼn gemeenskapsleier en aktivis wat die geleentheid gereël het, het Donderdag aan Maroela Media gesê dit was ʼn vreedsame byeenkoms waartydens inwoners kerse gebrand het om met die slagoffers en hul naasbestaandes te simpatiseer.

“Sowat honderd mense het op kort kennisgewing die nagwaak bygewoon. Die omgewing gaan die afgelope tyd gebuk onder misdaad en die inwoners leef in vrees. Die dubbelmoord het die gemeenskap geruk,” het Abramjee gesê.

Abramjee dryf die afgelope tyd ʼn veldtog onder die vaandel van #CrimeMustFall. Hy het gesê die veldtog en hutsteken moet oor die hele land begin vlamvat. “Mense is vuisvoos vir misdaad. Die doel van die veldtog is om misdaadbewusmaking op alle sosialemedia-platforms te skep. Dit moet dien om mense aan te spoor om die polisie verantwoordelik te hou om misdaad te bekamp maar terselfdertyd inwoners aanmoedig om nou saam met die polisie te werk en hande te vat.”

Kol. Kervin Solomons, stasiebevelvoerder van die Garsfontein-polisie, het inwoners toegespreek en verseker dat die ondersoek hoë prioriteit geniet. “Ons is besig om alle leidrade op te volg en die verdagtes op te spoor en sal geen steen onaangeroer laat nie,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig die polisie het ʼn soektog van stapel gestuur na drie verdagtes wat Dinsdagaand op ʼn huis in Miasstraat in Garsfontein toegeslaan en vyf inwoners met skerp voorwerpe aangeval het.

Twee middeljarige vroue is tydens die voorval doodgesteek. ʼn 59-jarige man, die huiseienaar, is kritiek gewond en twee jonger vroue, die huiseienaar se 30-jarige dogter en die gesin se huiswerker, is onderskeidelik matig en ernstig beseer. Die man is ʼn senior beampte in die departement van toerisme. Sy vrou en dié se suster is in die aanval dood. Lees meer hier.

Die aanvallers het met twee televisies en die slagoffer se voertuig op vlug geslaan. Die dogter kon kort daarna, Woensdag omstreeks 00:30, daarin slaag om te ontsnap en hulp te ontbied. Die voertuig is later verlate in Yeoville in Johannesburg opgespoor.

Die slagoffers se name is nog nie bekend gemaak nie. Die Garsfontein-polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Intussen het die veiligheidsmaatskappy ADT aan Maroela Media gesê hy het sigbaarheid in die buurt vermeerder. “ʼn Wag is buite die perseel geplaas en bykomende gewapendereaksie-voertuie is in die omgewing ontplooi om die veiligheid van inwoners te verseker. ADT se berader is ook betrek om die slagoffers en familie by te staan,” het ADT gesê.

ADT staan die polisie in hul ondersoek by.

Foto: Yusuf Abramjee @Abramee / Twitter

Foto: Yusuf Abramjee @Abramee / Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

henk ·

Dit is verskriklik. Die lot kom in hulle hordes – nie mans genoeg vir x1 nie.

Johann ·

Nie n MANIER wat ek die stelsels en sisteme van onder andere ADT se sg “veligheids ondersteuning” deelmaak vertrou nie. As daar gereeld polisie betrokkenheid by misdaad oopgevlek word; is die gedeelde inligtings basis van iemand soos ADT n OOP verwysing van en vir misdaad. Weet.presies wie wanneer waar is (gemeenskap) asook die eenhede! En ja ek praat van FEITELIKE ervaring in Monumentpark!

Heinrich ·

Ek stem Johann, inbrekers het my huis rustig deursoek en leeg gesteel terwyl ADT nêrens in sig was nie; het mooi betyds opgedaag om my mee te deel dat my plek leeg gedra is. En dan is hulle leuse nogal “Always there”: Ya right!

ADT ·

Ons doen gereeld check ups met ADT – druk die panic en reageer nie op hul oproepe nie – hul is binne 1 minuut binne in ons erf. Moet by se – ons het elektriese heining en hekke buite. Nee wat, ek is al jare ‘n klient by ADT en sal nie weg beweeg nie. Moenie almal wantrou nie!

Pop ·

Om nou wagte buite die perseel te sit is nutteloos. Moordenaars gaan mos nie nou daar kom aanmeld nie. Hulle loer nou vir volgende teiken.

lilipit ·

Ek het ‘n idee wat ons kan doen om te help (om die boodskap te versprei) as almal genoeg durf het. Elke persoon deur misdaad geaffekteer maak ‘n plakkaat met die woorde #CRIMEMUSTFALL en lys die misdade teen jou persoonlik bv myne: 2 x inbrake, 2 x gewapende rowe, motordiefstal, diefstal uit motor, atm misdaad. Post hierdie selfie op die platfoems en verkieslik op die ANC se eie facebook / twitter accounts. Almal, en aanhoudend.

Niccy ·

#CrimeMustFall moet sommer reël dat daar ‘n optog in elke dorp gedoen word. Spreek die woord!

arie ·

Meeste van hierdie aanvalle vind blykbaar laataand of in die vroee oggend ure plaas.
As ons dit nou weet is daar tog raad mee te maak.
Waarom gebeur dit dan nou nie.

ken van benoni ·

Arie hier in Benoni en ander dele van Oos-rand gebeur dit in die dag ook, tussen 09.00 en 15.30. Ek stem hulle (misdadigers) het geen durf in hulle om alleen tekom nie, altyd 3 of meer dit sluit die blanke misdadigers ook in.
Weg met hierdie klomp misdadigers!

Asjas ·

Hoe moet ek hande vat met die Polisie as ek hulle die minste vertrou??

Mari ·

Presies Asjas, as jy darm in die media lees van alles wat die polisie aanvang raak jy koud. Hier in ons omgewing vuurwapens uit n polisie kantoor gesteel, wat se dit vir jou. Was daar dan glad nie polisue aan diend daai tyd nie. Nou die dag 2 polisie beamptes ook in hegtenis geneem. Gn wonder die mense neem reg in hulle eie hande nie. Dan praat ek nie eers van die so genasmde securiteit firmas nie, hopelose hopelose spul almal van hulle

w ·

Indien ek hier wil se wat ek rerig wil is die doodstraf more trug sl is dit net om my alleen tereg te stel. Maak ni saak jou velkleur as jy misdadiger is moet jy boet. Vuilgoed

Adri ·

die poliesie het seker lekker veilig gevoel met die ‘wagte’

Joe ·

Ek woon in Sinoville en is deel van die GPF. Almal is met radio verbinding met mekaar, en dit is die enigste manier om `n area te beveilig. Die mense in ons omgewing, en ek verstaan dat daar oor die 2000 huise is wat radios het, snel mekaar te hulp en in geval van nood is dit uitsonderlik as dit langer as 5 minute vat. daarby is Sinoville SAPS ook op die netwerk. HOU SO VOL MENSE!!!!!!!

Johann ·

Soms kry ou die indruk dat die kriminele partye besig is om erg paniek te saai wat hulle nogal baie goed regkry, dit ten spyte van mense wie met hulle lewens moet betaal

Jean ·

JAnee hoor as julle saam met ADT wil werk, count us out. Ons was 20 jaar by hulle, elke keer ‘n verskoning van hoekom hulle nie ‘n sein gekry het nie. As HULLE radio wat jy ten duurste by hulle huur BREEK, moet JY die uitroepkoste dek en die herstel daarvan . .. Het keer op keer die paniekknoppie gedruk sonder enige reaksie, dit was ‘n VALSE sekuriteit wat ons gehad het. Hulle het DRIE sleutels weggegooi van die eiendom wat ons in hulle sorg gelaat het. Wat se sekuriteit is dit? Jy weet nooit wanneer werk jou paniekknoppie en wanneer nie. Die dag wat jy hom toets, werk hy nie, so hoe weet jy hoe gereeld ‘verloor’ hulle sein? Die tegnici is so ongeskik soos tien. Kom staan en gesels kliphard met mekaar in jou huis en vertel vir mekaar wat se GEMORS jou alarm is, dat hy vervang moet word – nadat HULLE die vorige een ingesit het. NEEWAT werk saam met iemand anders. EK is net bly die gemeenskap staan darem ‘n bietjie saam oor kleurskeidslyne heen!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.