Naka: ‘Dit is soos ʼn wonderwerk’

Naka Drostke wys in sy hospitaalbed alles gaan oukei wees. Foto: Facebook

Naka Drotské, die oud-Springbok-haker en Cheetah-afrigter, sal na verwagting Dinsdag geopereer word en kan moontlik teen die einde van die week uit die hospitaal ontslaan word.

Marzanne Drotské, Naka se vrou, het gesê die dokter is baie tevrede met sy vordering. “Sy bloeddruk is nog laag en hy gaan nog bloed kry, maar verder is hy honderd persent. Die dokter het hom toestemming gegee om sy skootrekenaar by hom te hê, want hy voel hy moet sy brein besig hou.”

Naka is Donderdagaand drie keer geskiet op ʼn kleinhoewe in Kameeldrift-Oos, noord van Pretoria. “Sy regterarm word Dinsdag geopereer en ons glo hy sal teen die einde van die week uit die hospitaal wees.”

Marzanne het almal bedank vir die boodskappe van ondersteuning en hulp. “Ons wil uit ons hart dankie sê. Julle gebede het ons gedra en Naka sit nou al in sy stoel en koerant lees. Dit is soos ʼn wonderwerk.”

Maroela Media het Sondag berig die polisie het die twee mense wat vir ondervraging ingeneem is ná die aanval laat gaan.

Kapt. Kay Makhubela, Gauteng-polisiewoordvoerder, het gesê daar is geen sprake dat enigiemand in verband met die aanval in hegtenis geneem is nie. “Ons het twee mense in verband met die voorval ondervra,” sê hy, “maar hulle Vrydagaand reeds laat gaan. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Naka en sy vrou Marzanne

Drotské het by sy broer, Tinus Drotské, gekuier toe minstens drie onbekende aanvallers omstreeks 22:00 Donderdag toegang tot die huis verkry het.

“’n Struweling het ontstaan en [Drotské] is geskiet,” het Makhubela Vrydag aan Maroela Media gesê. “Die aanvallers het op die vlug geslaan. Sake van poging tot moord en poging tot roof word ondersoek.”

Ian Cameron, AfriForum se nasionale hoof van gemeenskapsveiligheid, was Vrydagoggend op die toneel waar die voorval gebeur het. “Naka, Os du Randt, Tinus en Tinus se vriendin [Nadia Duvenage Jooste] het glo hier op die kleinhoewe gebraai. Hulle was net besig om al die deure toe te sluit vir die aand toe die aanvallers toegeslaan het.” Hy het gesê dit is duidelik op die stoep buite die huis dat daar ʼn struweling plaasgevind het.

Naka is in sy regterarm, regterbors en in sy maag geskiet. “Hy het pyn, so hy slaap meestal, maar hy onthou wat gebeur het,” het Marzanne vroeër gesê.

Drotské word in die Netcare Montana-hospitaal behandel.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lizelle Wessels-Hendriks ·

Ons is dankbaar saam met sy familie dat hy beter doen. Vrystaters is ysters!

Jaspaas met sy stil geraas... ·

Natal Sharks is ook ysters, seker omdat van die beste Sharks vanaf Vrystaat afkomstig is ;}

Hanna ·

Dit is wonderlike nuus. Sterkte met die operasie. Jy is ‘n yster Naka.

Karolis ·

Waarom al die geheimsinnigheid vooraf rondom die aangeleentheid?
Voorspoed en sterkte.

Fanie ·

Alle sterkte met die ooperasie ons is baie dankbaar dat jy dit oorleef het Daar is niks onmoontlik by ons Hemelse Vader nie hou Sy hand styf vas

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.