Naka gaan by die see aansterk

Naka Drotske. Foto: Facebook

Marzanne Drotské glo die beste raad om haar man, Naka, te help herstel nadat hy tydens ʼn aanval op ʼn Gautengse kleinhoewe geskiet is, is ʼn rustige vakansie by die see.

As alles volgens plan verloop, vertrek sy en die gewese Springbokhaker Woensdag uit Bloemfontein Jeffreysbaai toe sodat hy daar verder kan aansterk, maar omdat sy toestand nog wipplank ry, kan dit dalk eers Donderdag of Vrydag wees, het sy Maandag aan Maroela Media gesê.

Drotské het op 29 November by sy broer, Tinus Drotské, gekuier toe minstens drie onbekende aanvallers omstreeks 22:00 toegang verkry het tot die huis op ʼn kleinhoewe in Kameeldrift-Oos in die noorde van Pretoria.

Naka is in sy regterarm, regterbors en maag geskiet. Die koeël in sy bors is verwyder, maar die dokter het tydens ʼn tweede operasie besluit om “nie te krap nie” en die koeël wat deur sy arm in sy buik beland het, daar te los, sê Marzanne.

Hy het baie seer, veral in sy arm.

“Vandat Naka Donderdag ontslaan is, vat ons dit stappie vir stappie. Hy moet beweeg om bloedklonte te verhoed, maar hy het baie seer, veral in sy arm en is baie moeg van die pynpille wat hy moet drink omdat dit so ʼn groot operasie was.”

Sy vertel haar man is nog baie swak en raak gefrustreerd omdat hy niks vir homself kan doen nie. “Sy bloeddruk is vreeslik laag en sy suiker ook, maar onder die omstandighede gaan dit baie goed. Hy begin darem al self oefen.”

Naka Drotské in die hospitaal.

Marzanne vertel hulle wil graag al Woensdag in die pad val kus toe, want haar dogters van onderskeidelik 14 en 19 jaar oud is net tot Maandag toe daar, waarna hulle saam met hul pa Mosambiek toe gaan. Naka se kinders het kort ná die aanval ʼn reis na die VSA onderneem om by hul ma te gaan kuier.

Hy is my fokus en verg al my energie.

“Dis eintlik goed dat ons van Maandag af alleen gaan wees,” vertel Marzanne, want dan kan sy al haar aandag aan Naka gee. “Ek versorg hom alleen en gaan nie ʼn verpleegster of ʼn versorger kry nie. Hy is my fokus en verg al my energie.”

Sy sê hulle wil “ʼn bietjie wegkom en wil graag die kinders weer sien, want ons het hulle baie lank laas gesien. Dit maak nie eintlik ʼn verskil of hy in Bloemfontein of by die see is nie, maar ek dink dit sal hom goed doen om [by die kus] te wees.”

Sy sê sy vat dit op die oomblik nie een dag op ʼn slag nie, maar “uur vir uur”. “Hy kan die een oomblik fine wees, maar ʼn mens het maar terugslae. Dis ʼn lang pad wat voorlê.”

Lees alle vorige berigte oor Naka Drotske op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nelsa ·

Hy kom beslis by die beste dorpie uitrus. Hier word almal gesond. Liggaamlik en geestelik…

Maxie ·

Asseblief!!!!! Ek voel jammer vir die man, maar régtig Maroela???? Hoof opskrif????? Waar gaan die ander slagoffers vakansie hou?!

Lana ·

Dink ook slagoffer moet gehelp word, maar dan privaatheid gegun word.
Word gesond, Naka!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.