Naka het ‘baie pyn’ ná tweede operasie

Naka en Marzanne Drotské

Naka Drotské, die oud-Springbok-haker en Cheetah-afrigter, het Maandag vir die tweede keer ʼn operasie ondergaan.

Drotské sou aanvanklik eers vandag die operasie aan sy regterarm ondergaan het, maar dit het toe Maandag omstreeks 15:00 plaasgevind. “Dit was ʼn vier uur lange operasie en hy het baie pyn,” het Marzanne Drotské, sy vrou, gesê.

Drotské het Donderdagaand kort nadat hy in die hospitaal opgeneem is nadat hy drie keer geskiet is ʼn buikoperasie ondergaan. Volgens Marzanne sal hy nie nóg operasies hoef te ondergaan nie.

“Hy het bitter seer vandag en verduur baie ongemak. Hy praat nie eintlik nie,” het sy gesê. Drotské behoort teen die einde van die week uit die Netcare Montana-hospitaal ontslaan te word, het Marzanne vroeër gesê.

Naka Drostke wys in sy hospitaalbed alles gaan oukei wees. Foto: Facebook

Drotské het by sy broer, Tinus Drotské, gekuier toe minstens drie onbekende aanvallers Donderdag omstreeks 22:00 toegang tot die huis op ʼn kleinhoewe in Kameeldrift-Oos, noord van Pretoria, verkry het.

Naka is in sy regterarm, regterbors en maag geskiet. Maroela Media het Sondag berig die polisie het die twee mense wat vir ondervraging ingeneem is ná die aanval laat gaan. Sake van poging tot moord en poging tot roof word ondersoek.

Marzanne het Sondag voor Drotské se tweede operasie gesê die dokter is baie tevrede met sy vordering. “Sy bloeddruk is nog laag en hy gaan nog bloed kry, maar verder is hy honderd persent. Die dokter het hom toestemming gegee om sy skootrekenaar by hom te hê, want hy voel hy moet sy brein besig hou.

“Ons wil uit ons hart dankie sê. Julle gebede het ons gedra en Naka sit nou al in sy stoel en koerant lees. Dit is soos ʼn wonderwerk,” het sy toe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tessa Bruwer ·

Vasbyt ou Yster. die hele land bid vir jou spoedige herstel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.