Naka is ‘vreeslik positief’

Marzanne by Naka in die hospitaal op Kersdag. Foto: Verskaf

Naka Drotské het Maandag vir die eerste keer weer gepraat nadat hy op 11 Desember in die Mediclinic Bloemfontein se waakeenheid opgeneem is.

“Dit gaan baie goed met hom,” het Marzanne Drotské, Naka se vrou, Donderdagoggend aan Maroela Media gesê. “Hy praat van Maandagoggend af weer en ek was Kersdag by hom in die hospitaal.”

Volgens Marzanne is dit nog nie duidelik wanneer Naka ontslaan sal word nie. “Sy arm moet eers op die 31ste weer skoongemaak word.” Naka kan egter al weer loop en regop sit.

Marzanne het gesê dit gaan ook baie goed met Naka se gemoed. “Hy is deur baie, maar hy is vreeslik positief.”

Marzanne by Naka in die hospitaal op Kersdag. Foto: Verskaf

Maroela Media het vroeër berig Drotské het op 29 November by sy broer, Tinus Drotské, op ʼn kleinhoewe in Kameeldrift-Oos in die noorde van Pretoria gekuier toe gewapende rowers op die huis toegeslaan het. Naka is in sy regterarm, regterbors en in sy maag geskiet.

Hy is later uit die hospitaal ontslaan en het selfs planne gehad om saam met sy familie weg te gaan vir die vakansie toe hy ʼn onverwagse terugslag gehad het en na die Mediclinic Bloemfontein gehaas is.

Barbara Steenkamp, Mediclinic Bloemfontein se woordvoerder, het vroeër gesê Drotské is met massiewe inwendige bloeding opgeneem en het longinfeksie opgedoen. Drotské moes ook bloedoortappings ontvang.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.