Naka praat ná aanval: ‘Jy vat dit dag vir dag’

Naka en Marzanne Drotské

“Ons het net klaar gebraai en die vleis op die tafel neergesit. Die volgende oomblik skree iemand skielik: Nee! Nee! Nee! Toe ek omdraai, staan al vier daar met traangas en probeer ons spuit.”

Instink het ingeskop, sê Naka Drotské oor die aand van 29 November toe hy en sy vriend Os du Randt by sy broer, Tinus Drotské, op ʼn kleinhoewe in Kameeldrift-Oos in die noorde van Pretoria gekuier en vier gewapende mans toegeslaan het.

“Ons beursies en selfone het op die tafel gelê, maar hulle het nie belanggestel daarin nie. Dit sou nog ʼn ander storie gewees het as hulle ons gevra het wat ons het, maar ek het net die gevoel gekry dit is iets anders dié.”

Tinus se twee seuns en sy vriendin, Nadia Jooste, se dogtertjie was in die huis. Die mans het Naka, Os, Tinus en Nadia in die huis probeer indwing. “Ek het net gedink hulle gaan ons anyway doodskiet. Gelukkig was al vier naby aan my en ek het hulle gegryp en van die stoep afgetrek. Ek het gedink as ons op die grond lê, kan ek dalk ʼn vuurwapen in die hande kry.”

Toe klap die skote. Die een tref Naka in die maag en die ander in sy arm. Die derde skoot “was gelukkig mis”. Tinus druk intussen die paniekknoppie. Die alarm gaan af en die vier mans staan op en hardloop weg.

Die toneel waar Drotske hulle oorval is. Foto: Mia Spies/eNuus

Almal is in die huis in en toe word daar gevra of iemand geskiet is. “Mens weet nie eintlik jy is geskiet nie. Ek sien toe die wond op my maag en begin drukking daarop sit.” Os jaag met Naka Montana-hospitaal toe, “maar soos die ongeluk dit wil hê”, is die padborde afgery en Os jaag teen die middelmannetjie vas en albei voorste bande bars. “Ek het net gesê kry my so gou moontlik by die hospitaal,” vertel Naka.

Os het intussen uitgeklim en motors probeer voorkeer. Die tweede motor het stilgehou en Naka hospitaal toe gevat. “Dit was een van daai tweedeur-karretjies, so ʼn ander kar het toe daarna vir Os hospitaal toe gebring.”

By die hospitaal het Naka ʼn buikoperasie ondergaan en ʼn paar dae daarna ʼn operasie aan sy regterarm. “Die eerste ruk was ʼn rollercoaster ride. Die een koeël is deur my armspier tot in my bors. Ek is baie gelukkig oor waar hy gestop het. Die ander een is deur my maag en ʼn stukkie van my dunderm moes verwyder word. Dit was eintlik net genade gewees.”

Hy is later uit die hospitaal ontslaan en het selfs planne gehad om saam met sy familie weg te gaan vir die Desembervakansie toe hy ʼn onverwagse terugslag gehad het en na die Mediclinic Bloemfontein gehaas is. Hy is onder verdowing geplaas en is eers die afgelope naweek, 37 dae later, ontslaan.

Naka Drostke toe hy die eerste keer in die hospitaal opgeneem is direk na die aanval. Foto: Facebook

“Toe ek in die hospitaal wakker word, het ek gehoor hoe naby dit was en dat die hele familie laat weet is om te kom. Dit is ʼn skok, want ek was nie bewus daarvan nie. Ek was 17 dae in die waakeenheid … dit verander mens se lewe. Dit is tough daar binne. Ek moet vir jou sê alle eer aan die Here. Mens noem jouself ʼn Christen, maar jy karring net aan. Maar daar het ek Hom gevra om te help en uiteindelik is ek uit en baie verskuldig aan Hom.”

Naka sterk nou tuis aan en het administratiewe werk begin doen om sy brein aan die gang te hou. “Dit gaan regtig baie goed en ek is baie dankbaar,” sê hy. “Eer aan die Here, dit is absoluut ʼn wonderwerk.”

Hy moet wel nog rehabilitasie ondergaan en probeer so vinnig moontlik ten volle herstel.

“Dit is ʼn uitdaging om jou ingesteldheid reg te kry. Jy vat dit dag vir dag. As mens net gaan lê, dan gaan mens in ʼn donker gat in beweeg. In dié stadium is ek weer heeltemal op die been, maar raak net gou moeg. Ek kan nie genoeg dankie sê vir al die ondersteuning wat ek van oor die hele land ontvang het nie.”

Naka sê hy het die trauma van die voorval op sy eie verwerk, hoewel hy tog ʼn berader sien. “Ek is fine, ek is 100%.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Karolis ·

Wat my verstom het was die aanvanklike erge geheimsinnigheid rondom die voorval.

Johanna Botha ·

Waneer gaan dit eindig …kan die polisie net wet en orde herstel en die mense begin vang en toesluit !

Al ·

Dankie Here dat ons gebede verhoor is. Sterkte met jul gesin op die herstelpad vorentoe.
Misdaad is buite beheer en ons arme belastingbetalers moet die gelag betaal vir ons eie sekuriteit, mediese uitgawes na so ñ aanval en boonop deur die trauma werk met sielkundiges.

PJC ·

Ek wonder waarna was hierdie klomp op soek as hulle nie in die beursies en selfone belang gestel het nie of is dit maar doodeenvoudig politiek met besittings wat geneem word as byvoordele.

Chrisjan ·

So bly hy is beter.Ek dink dis tyd dat die minister van polisie in sulke aanvalle op landsburgers gedagvaar word om alle kostes van slagoffers van die geweldadige misdaad te dek.Van hospitaal kostes tot by trauma beraders ens ens.AfriForum,hoe lyk dit?

leser ·

naka moes seker naby die dood omgedraai het met “12 pca pumps” by sy bed

Fanie ·

Glo my ons blanke suid afrikaaners is so bly dat jy soveel beter voel Naka ons kan maar net die Here prys sterkte vir jou totaale herstel

Amanda ·

Naka, jy is ‘n dapper en vreeslose MAN! So dankbaar jy is nog met ons en gespaar vir jou geliefdes. Word gou beter ~ baie sterkte!

Mellie ·

Dit help nie om die polisie te blameer nie, hulle handel maar net volgens die PATETIESE wet. Wysig eerder die wet vir swaarder strawwe; ek verwelkom selfs die doodstraf! Naka, jy en Ollie is publieke fugure wie heelwaarskynlik meer gewig dra as ons normale ‘pleps’. Asseblief vir wat dit werd is, maak jul stemme dik en hoorbaar teen hierdie gruwelike missaad!! Arme Steve Hofmeyr probeer sy bes in sy enigheid …!

heksie ·

Sterkte Naka!
Snaaks daar was nog geen word van SAPS of hul al enige leidrade het of verdagtes vasgetrek het nie …

HERMAN ·

ou misdaad ondersoeker.onthou.die doodstraf in die verkeerde hande.huidiglik die geval. sal fataal wees…jammer om dit te se.maar die spul moet almal uit die kussings gelig word.geen ander kortpad nie. die lafaards is spul krimminele.met hul president wat hulle eerstehands wys hoe dit gedoen word.in oormag weerlose mense aanval. Een ou was reg. ons kort n leier.maar probleem selfde as boere se tyd. joiners wat te gretig sit en wag om sy silwerlinge van judas. te kry. Ek hoop net die wat ons land aan die lot weggegee het.kry hulle dag.al is dit daar bo.hulle sal nie vryspring nie
Ek weet wat aangaan.ek het gesien hoe dit kom. nogtans is ons oorgelewer deur ons eie leiers. waars hulle nou ?

Hein Strydom ·

Baie bly jy het deur getrek Naka.

Ek wonder net of julle kan se watter rol die slagoffers se honde speel in al hierdie tragedies.

Ek besef elke situasie is verskillend, maar die waarskuwing of onrustigheid van honde word nooit die die media genoem nie, en is tog duidelik n belangrike faktor in die beveiliging van gesinne/gemeenskappe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.