Naka ‘toon goeie vordering’

Naka Drostke toe hy die eerste keer in die hospitaal opgeneem is direk na die aanval. Foto: Facebook

Naka Drotské toon goeie vordering waar hy steeds in die waakeenheid van Mediclinic Bloemfontein behandel word.

Carl Bührmann, die hospitaalbestuurder, het Saterdag aan Maroela Media gesê Drotské is steeds onder verdowing en aan ʼn ventilator gekoppel, maar “toon definitiewe verbetering” sedert hy Dinsdag in ʼn kritieke toestand in die hospitaal opgeneem word.

“Hy is stabiel en hoewel hy steeds in die waakeenheid is, is sy vordering goed. Mens sien dikwels dat pasiënte dae of selfs weke in die waakeenheid kan lê sonder enige verandering in hul toestand, maar Naka toon beslis verbetering.”

Bührmann sê in dié stadium word slegs die mense naaste aan Drotské by hom toegelaat. Hy wou nie bespiegel wanneer Drotské onder verdowing uitgebring sal word nie en sê dit sal alles van sy herstel en sy dokters se mediese oordeel afhang.

Maroela Media het vroeër berig Drotské het op 29 November by sy broer, Tinus Drotské, op ʼn kleinhoewe in Kameeldrift-Oos in die noorde van Pretoria gekuier toe gewapende rowers op die huis toegeslaan het. Naka is in sy regterarm, regterbors en in sy maag geskiet.

Hy is later uit die hospitaal ontslaan en het selfs planne gehad om saam met sy familie weg te gaan vir die vakansie toe hy Dinsdag ʼn onverwagse terugslag gehad het en na die hospitaal gehaas moes word.

Barbara Steenkamp, Mediclinic Bloemfontein se woordvoerder, het vroeër gesê Drotské is met massiewe inwendige bloeding opgeneem, maar dit was nie duidelik wat die oorsaak van die terugslag was nie. Drotské moes ook bloedoortappings ontvang.

Sy vrou, Marzanne, waak sedertdien langs sy hospitaalbed.

Lees alle vorige berigte oor Naka Drotské op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jerry ·

Naka se oorlewing en herstel is vir ons n wonderwerk wat wys dat ons Skepper in beheer is!

Lynne ·

Baie Sterkte Naka! Mag jy spoedig herstel & vinnig weer op die been wees! So jammer dat jy die Feestyd in die Hospitaal moet deurbring, as gevolg van die misdadigende & wettelose samelewing waarin ons, onself bevind! Jy en jou gesin is in ons gedagtes & gebede!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.