Name bekend van brandbestryders wat in heli-ongeluk sterf

Darrel Rea. Foto: Facebook

Darrel Rea. Foto: Facebook

Die twee brandbestryders wat Woensdagmiddag dood is nadat hul helikopter in Bainskloof naby Wellington in die Wes-Kaap neergestort het, se name is bekend gemaak.

Linton Rensburg, woordvoerder van Working on Fire, het Donderdag aan Maroela Media bevestig dat Darrell Rea (39), die vlieënier en Jastun Visagie (23), die veiligheidsleier, in die ongeluk oorlede is. Rea en Visagie was albei lede van Working on Fire.

“Die helikopter het in Bainskloof naby Wellington neergestort toe dit naby die brand in sterk winde moes land om die helikopter reg te kry vir vuur-bombardering,” het Rensburg gesê.

Die vliegongeluk word deur die polisie en die Burgerlugvaartowerheid ondersoek.

Rea laat sy vrou Angela, ʼn babaseun en sy ouers agter. Visagie word oorleef deur sy ouers, ʼn broer en ʼn suster.

Johan Heine, Working on Fire-lugvaart se uitvoerende hoof, het sy medelye teenoor Rea en Visagie se geliefdes en kollegas uitgespreek.

Hendrik “Bees” Marais is in Maart vanjaar dood nadat hy ʼn noodlanding met sy helikopter by Kaappunt moes doen. Marais was ook aan Working on Fire verbonde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elfie ·

Baie sleg – hulle het ander gehelp en self omgekom. Simpatie aan familie en vriende.

CHRISTA ·

Ons kan net bid dat die liewe HERE hulle sal vertroos tydens hierdie periode van verdriet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.