Die egpaar wat Dinsdag in KwaZulu-Natal doodgeskiet is terwyl hulle in hul voertuig gery het, se name is bekend gemaak.
Kapt. Thulani Zwane, ʼn polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media gesê die egpaar is as Maureen (46) en Nishen Maharaj (48) uitgeken.
Maroela Media het Dinsdag berig die skietery het omstreeks 07:45 in Verulam plaasgevind. Zwane het gesê Nishen was op pad om sy vrou by haar werkplek, ʼn winkel in Umhlali, af te laai. “Toe die egpaar by die winkel aankom, was vyf gewapende mans besig om die winkel te beroof,” het Zwane gesê. “Nishen het probeer wegjaag, maar die verdagtes het op hul voertuig losgebrand en hulle is raakgeskiet. Hulle kon daarin slaag om van die toneel te vlug, maar ongeveer ʼn kilometer van die winkel af het Nishen beheer oor die voertuig verloor en in ʼn piesangplantasie ingery.”
Toe paramedici en die polisie by die toneel opgedaag het, was Maureen reeds dood. Nishen het kort daarna aan sy beserings beswyk.
Die verdagtes het met ʼn onbekende hoeveelheid kontant, selfone en die winkeleienaar se vuurwapen van die toneel gevlug.
Die Umhlali-polisie ondersoek ʼn saak roof met verswarende omstandighede en twee sake van moord.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.
Dis verskriklik om op te staan in die oggend, mens se dag is reeds vooruit beplan, en in ‘n oogwink word jy van jou lewe beroof en kinders wees gelaat om sonder vader of moeder die toekoms te moet ingaan.
GEEN kleur word uitgesonder nie,
Goeie more Ria, ek het die stukkie gemis waar hulle praat van die kinders. Waar het jy dit gelees?