Name bekend van ma, dogter wat in botsing sterf

Louise Sword. Foto: Facebook

Die Britse vrou en haar tienerdogter wat Vrydag in ʼn grusame botsing op die N2 naby die Zinkwazibrug op die KwaZulu-Natalse noordkus gesterf het, is geïdentifiseer.

The Sun berig Louise Sword (53) en haar dogter, Tabitha (13), van Lurgashall in Engeland, het in die ongeluk gesterf. Louise se man, Alistair, en die egpaar se seun, Benjamin (11), is in ʼn kritieke toestand in die Lenmed Ethekweni-hospitaal opgeneem.

Die bestuurder van die sportnutsvoertuig waarin die Sword-gesin gery het, is ook in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal gehaas.

ʼn Suid-Afrikaanse vrou wat in ʼn ander motor was wat in die botsing betrokke was, het op die toneel gesterf. Haar naam is nog nie bekend gemaak nie.

Volgens The Sun is die Sword-gesin verlangse familie van die Britse koningin. Die nuusinstansie berig Louise se broer, Tim Taylor, is met die koningin se niggie, Lady Helen Taylor, getroud.

Die ongelukstoneel. Foto: IPSS Medical Rescue

Maroela Media het vroeër berig die Sword-gesin was op pad na Durban ná ʼn safarivakansie toe die ongeluk gebeur het. Volgens Paul Herbst, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, het ʼn bussie wat in ʼn noordelike rigting op pad was se band gebars en dié voertuig het in die vinnige baan tot stilstand gekom.

ʼn Mercedes-Benz wat van agter die bussie gekom het, het vermoedelik uitgeswaai om die voertuig te vermy en voor die aankomende verkeer beland. Die Toyota Fortuner waarin die Sword-gesin was, het reg van voor teen die Mercedes gebots.

Die bestuurder van die Mercedes en Tabitha het op die toneel gesterf. Louise is saam met haar man en seun per helikopter na ʼn hospitaal geneem, maar het kort ná haar aankoms by die hospitaal aan haar beserings beswyk.

The Sun berig familie van die Britse gesin het reeds in Suid-Afrika aangekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Chris Ws ·

Ons innige simpatie gaan aan die Sword’s gesin en naasgestaandes vir die’ tragedie.Als te danke aan twee “Suid Afrikaanse” bestuurders wat nie ‘n clue het wat hulle agter ‘n voertuig se stuur moet doen om ongelukke te vermy nie.As jy ‘n band bars gaan staan jy NIE stil op die pad ryvlak NIE.Jy DADELIK trek af van die pad af.Tweedens ‘n Mercedes het ABS remme en die botsing met die voertuig voor jou sou nie so hard gewees het nie wat lewens sou gespaar het.Dir brandstof prys EN “Suid Afrikaanse” bestuurders se manewales op die paaie maak dat ek drasties minder ry.

PJC ·

Was hierdie bussie wat die oorsaak van die ongeluk was dalk ń taxi?

Carel ·

Dis net logies dat die Mercedes se volgafstand nie genoegsaam was nie, as die bestuurder nie betyds kon rem nie moes sy links uitgewaai het maar het ‘n dwase ding gedoen om regs uit te swaai en ‘n ongeluk te veroorsaak. ‘n Hopelose tekort aan begrip, ons sien dit daagliks op ons paaie.

Speedguard ·

Stem saam Carel, K53 se goue reel is dat jou spoed en volgafstand van so aard moet wees sodat indien iets soos die gebeur dat jy betyds kan rem SONDER om uit te swaai hetsy links of regs, dit is nou wel mostert na die maal en bly dit egter ‘n geweldige tragedie niemand hetsy nalatig of nie verdien om so te sterf nie, Daar is niks wat jou so vermink soos so kop aan kop of gedeeltelike kop aam kop nie, glo my het baie mense en kinders uit sulke wrakke gehaal dit is BAIE traumaties! Sterkte aan almal !

Gesiggie ·

Sterkte aan die Familie, dit is so hartseer om te dink die gesin was oppad vir vakansie, en nou is die Ma en Dogter oorlede… Bid vir die Pa en seun vir n spoedigge herstel, mag die Here jul dra deur die moeilikke tyd.

JSO ·

@Maroela Media – par.6 “…die voertuig het in die vinnige baan tot stilstand gekom.” Daar bestaan nie so ding soos ‘n “vinnige baan” op SA se paaie nie. The rule of the road – KEEP LEFT, PASS RIGHT.

treurgrond ·

Dit is net sadness verby – hulle was op pad na ‘n vakansie toe en nou is die Ma en Doggie weg – dis net sad. Jesus hou asseblief U hande oor hulle. Dis net frieken sad.

ChrisE ·

Dit is verstommend hoe mense ongevraagde en soms banale kommentare plaas. Die Suid Afrikaanse persoon wat in die ongeluk gesterf het was bekend aan my. ‘n Merkwaardige vrou wat ‘n baie goeie bestuurder was. Volgens ooggetuie het die taxi se band gebars en die bestuurder op die ryvlak gestop. Sy het uitgeswaai en voor die aankomende verkeer beland. Dit is hoekom daar met die media en veral sosiale media baie versigtig mee omgegaan word. ‘n Ondeurdagte kommentaar kan jou in warm water laat beland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.