Die minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie, dr. Blade Nzimande, het sy diepe medelye betuig met die familie en vriende van twee studente van die Orbit TVET College wat die afgelope week by ʼn luukse hotel en spa in die Broederstroom-omgewing in Noordwes verdrink het.
Magdeline Manyana, ʼn lid van die studenteraad (SR) wat elektriese infrastruktuur en konstruksie studeer het, asook KG Melamu, SR-lid verantwoordelik vir sport en ontspanning en ʼn kantooradministrasiestudent, het Dinsdag by The Venue Country Hotel and Spa in Broederstroom verdrink.
Maroela Media het vroeër berig dat die polisie ʼn geregtelike doodsondersoek doen na die dood van die 19-jarige Manyana en 21-jarige Melamu. ʼn Werker by die hotel het hulle liggame Dinsdagaand omstreeks 21:00 in die swembad op die perseel ontdek, waarna paramedici ontbied is.
Nzimande het ʼn beroep op wetstoepassingsowerhede gedoen om ʼn spoedige ondersoek te doen na die “omstandighede wat tot die tragiese verwikkeling gelei het”.
“Ek is ook dankbaar dat die kollegebestuur onderneem het om sy volle samewerking en steun aan ondersoekers te gee om die presiese oorsaak van die voorval te bepaal,” sê Nzimande.
Nzimande het ook opdrag gegee dat die departement die nodige steun aan die SR-lede, asook die gesinne van die slagoffers, kollegepersoneel en studente gee wat deur die voorval geraak word.
Dr. Antoinette Gmeiner, woordvoerder van Orion Hotels and Resorts aan wie die hotel behoort, het vroeër gesê die groep studente het vroeër die aand geëet en daarna ontspan, waartydens die twee betrokke studente besluit het om te gaan swem.
Hul medestudente het geweet hulle gaan swem, maar het glo nooit enige geraas of noodkrete gehoor terwyl die twee by die swembad was nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
9 Kommentare
Tragies. Studente by ʼn luukse hotel en spa. In my dae was dit broekskeer met pap en tik.
In my lewe sal ek nooit verstaan hoe volwasse mense nie by die kant van ‘n swembad kan uitkom nie.
Mens weet ook nie of hulle dalk iets anders gebruik het as kos nie…..
Maak nie saak van watter hoek af jy kyk nie dit bly tragies.
Het hul swemklere aangehad?