Name bekend van twee wat by dowes-instituut sterf

Argieffoto: Kent Williamson

Die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) op Worcester het die naam bekend gemaak van die geskorste student wat Dinsdag glo sy eksmeisie vermoor het voordat hy homself om die lewe gebring het.

Die 23-jarige Mndeni Mzimela het Ntombifikile Sithole (21) voor sonop in haar koshuiskamer voor medestudente glo meermale gesteek en toe selfmoord gepleeg, het die NID Dinsdagmiddag aan Maroela Media bevestig.

Cobus van Deventer, uitvoerende hoof van die NID, het vroeër in ʼn mediaverklaring gesê die vrouekoshuis van die instituut se opleidingsentrum was “volgens normale veiligheidsprosedures” gesluit, maar Mzimela het in die vroeë oggendure toegang verkry deur ʼn ruit in die ontspanningslokaal te breek.

Van daar is hy na Sithole se kamer, waar hy haar glo om die lewe gebring het deur haar talle meswonde toe te dien. Daarna het hy sy eie lewe geneem. Van Deventer sê die gewese student het ʼn bedreiging vir die ander vyf vroue in die kamer ingehou.

“Die man was ʼn student aan NID Opleiding, maar het onlangs die kampus verlaat nadat tugprosesse gevolg is,” sê Van Deventer. “Hy het na bewering die naweek by ʼn vriend op Worcester kom kuier.”

Van Deventer sê die motief vir die moord is nog onbekend, maar die moord en selfmoord is blykbaar die gevolg van hul verhouding wat beëindig is, vermoedelik deur die vrouestudent.

“Albei se ouers is reeds in kennis gestel en personeel en medestudente by die opleidingseenheid ontvang reeds traumaberading,” sê Van Deventer. “Ons NID-kampusgemeenskap is geskok deur die voorval en ons harte gaan uit na die familie en vriende van die twee persone wat hul lewe verloor het.”

Lt.kol. Andrè Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.