Name bekend van werkers wat in RDM-ontploffing sterf

Rheinmetall Denel Munition (Somerset-Wes) Foto: Phando Jikelo/ANA

Rheinmetall Denel Munition (RDM) het Donderdag die name bekendgemaak van die agt werknemers wat verlede week tydens die ontploffing by sy aanleg in Somerset-Wes in die Wes-Kaap gesterf het.

Die maatskappy het in ʼn verklaring gesê die families van die oorledenes het gister ʼn inligtingsessie saam met die forensiese patologiedienste bygewoon waar hulle ingelig is oor die besonderhede van die tragiese voorval. Nadat hulle hierdie inligting ontvang het, het die families toestemming gegee dat hul geliefdes se name bekend gemaak kan word.

Die werknemers wat in die ontploffing gesterf het, is Nico Angelo Samuels (41), ʼn aanlegtoesighouer; Stevon Robert Isaacs (51), ʼn spanleier; Mxolisi Sigadla (40), ʼn operateur; Bradley Tandy (19), ʼn operateur; Jamie Lesley Haydricks (24), ʼn operateur; Jason Hartzenberg (22), ʼn operateur; Triston Lance David (22), ʼn operateur; en Thandolwethu Mankayi (27), ook ʼn operateur.

“Ons kan nou begin om begrafnisreëlings te tref en kan voortgaan met ander huldeblyke wat beplan word ter ere van ons kollegas. Die hele RDM rou saam met die families,” het Norbert Schulze, uitvoerende hoof van RDM, gesê.

Maroela Media het vroeër berig die ontploffing by die aanleg op 3 September het die hele gebou by die depot verwoes en ook plofmure in die onmiddellike omgewing beskadig. ʼn Volskaalse ondersoek na die oorsaak van die ontploffing is van stapel gestuur en RDM het onderneem om die uitslag van die ondersoek so gou moontlik bekend te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.