Name van duisende Nazi-kampgevangenes bekend

Die kaart van die Hongaarse Jood Jeno Hoffmann, wat gevange gehou is by die Auschwitz-konsentrasiekamp tydens die Tweede Wêreldoorlog. (Foto: AROLSEN ARCHIVES / AFP)

Nuwe name en inligting oor duisende gevangenes van Joodse konsentrasiekampe tydens die Tweede Wêreldoorlog het in ʼn navorsingsprojek in Pole na vore gekom. Dié inligting was voorheen onbekend.

ʼn Twee jaar lange navorsingsprojek van ʼn argivaris aan die Auschwitz-Birkenau-museum in Pole, in samewerking met die Arolsen-argiewe in Duitsland, is pas voltooi. Dit het die name van 4 000 kampinwoners en inligting oor nog 26 000 inwoners aan die lig gebring. Navorsers sê nou dié ontdekking kan familielede help om inligting in te win en verlore geliefdes op te spoor.

Van die 1,3 miljoen mense wat tussen 1940 en 1945 na Auschwitz gestuur is, is 1,1 miljoen oorlede. Die oorledenes sluit in 865 000 Jode, wat met hul aankoms in gaskamers gedood is.

“Die projek is ʼn hartswens om die duisende families te help wat die museum jaarliks nader om hulp om hul geliefdes op te spoor,” het Ewa Bazan, een van die navorsingsleiers, aan AFP gesê. Bazan werk reeds die afgelope 20 jaar vir die museum. “Die kleinste besonderheid is belangrik vir familielede.”

Die Arolsen-argiewe bevat ongeveer 30 miljoen dokumente, waaronder argiewe van Hitler se geheime polisie (Gestapo) en die destydse paramilitêre organisasie Schutzstaffel. Dié dokumente is eers in 2007 oopgestel vir navorsers om vir akademiese doeleindes te gebruik.

‘n Foto van ‘n wagtoring by die Auschwitch-konsentrasiekamp wat in 2020 geneem is. (Foto: JANEK SKARZYNSKI / AFP)

Sowat 90% van die Auschwitz-konsentrasiekamp se lêers is deur kampwagte vernietig voordat hulle gevlug het. Tans is die identiteit van ongeveer 300 000 van die 400 000 destydse kampinwoners bekend.

“Ons het nie geweet wat om te verwag toe ons met die projek begin het nie,” het Bazan gesê. Die name wat deur Bazan en haar kollegas ontdek is, sluit in dié van die Franse skilder Leon Delarbre en Poolse kunstenaar Franciszek Jazwiecki. Albei het dié kamp oorleef, maar Jazwiecki is ʼn jaar later aan tuberkulose oorlede.

Krzysztof Antonczyk, hoof van die museum se digitale argief, het gesê nóg 905 000 mense is na hierdie kamp gebring en met hul aankoms doodgemaak sonder dat enige rekord van hulle gehou is. “Hul name verskyn soms net in vervoerdokumente wat die Nazi’s gebruik het.”

As deel van die projek is ongeveer 120 000 dokumente wat verband hou met Auschwitz-inwoners gedigitaliseer.

Tussen dié dokumente is talle bewyse gevind van Hongaarse Jode wat ná 1944 na Auschwitz vervoer is en wie se name in geen ander argief voorkom nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

Dan is daar kommentators wat sê hulle is skaam om as Suid Afrikaners gekenmerk te word. Jy kon ‘n Duitser gewees het!

katerinadiekat ·

Waarom moet hedendaagse Duitsers hulle skaam? Waarom moet enige Duitser gebore na die WW2 hulle skaam?

Ian ·

Die Schutzstaffel was die SS. Aanvanklik ‘n paramilitêre organisasie, nie parlementêr nie…

Astrain ·

Die geskiedenis van die Tweede Wereld oorlog is baie tragies, soveel hartseer en pyn van mense wat ter slagting gelei was. Die Duitsers het bloot die resep van die Britse koloniaseerders hier gevolg, die Britte was ook agter die mag en rykdom van SA en die res van die wereld aan. Wat my aanbetref is daar geen verskil nie…hoekom vergeet ons dan??? Ons behoort dieselfde te doen, ons behoort elke naam van elke Suid-Afrikaner wat vermoor is in die Anglo Boere oorlog aan die groot klok te hang. Vergewe…maar moet NOOIT vergeet nie!!!

Misky ·

Daar is en by Bloemfontein se oorlogsmuseum. Mure en mure vol name asook aanduiding in watter konsentrasie kampe hulle was en ouderdomme sover moontlik bekend was

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.