Name van busbrand-slagoffers bekend gemaak

Die uitgebrande bus in die agtergrond met polisiebeamptes op die toneel. Foto: SAPD

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Limpopo het Donderdag die name bekend gemaak van ses mynwerkers wat gesterf het toe die bus, waarin hulle gery het, aan die brand gesteek is.

Maroela Media het vroeër berig die mynwerkers was vroeër vandeesmaand met die bus op pad na Modikwa-platinummyn naby Burgersfort. Die aanvallers het op die bus geklim, vlambare vloeistof in die bus uitgegooi, dit aan die brand gesteek en vinnig uitgespring voor hulle van die toneel gevlug het. Ses mynwerkers is onherkenbaar verkool en 28 ander het ernstige beserings opgedoen. Die werkers was op pad om nagskof te werk.

Die persone is Moniccah Mabilo (57) van Ga Mahlokwane, Johannes Malepe (56), Ziphora Makuwa (48), albei van Driekop, Solomon Komana (37), Simon Mahlokwane (42), albei van Ga Mahlokwane en die 58-jarige Pheta Ranku van Lesotho, het brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, gesê.

Vyf persone is intussen in hegtenis geneem en het Donderdag vir die tweede keer in die hof verskyn. Die persone het in die Mecklenburg-landdroshof verskyn op aanklag van moord, poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging. Die saak is tot 26 April uitgestel vir aansoek om borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.