Namibië-egpaar sterk aan ná aanval

Willem Burger ná die aanval. Foto: Verskaf

Willem Burger ná die aanval. Foto: Verskaf

Dit gaan “baie beter” met die Burger-egpaar van Lüderitz, Namibië, wat verlede week in hul huis deur twee mans beroof en aangeval is.

“Hulle is vandag [Dinsdag] Windhoek toe om ʼn spesialis te gaan spreek, maar dit gaan baie beter met hulle,” het die egpaar, Willem (70) en Alta, se dogter, Hannelie de Lange, by navraag aan Maroela Media gesê.

Maroela Media het Saterdag berig De Lange het ʼn beloning van N$20 000 (R20 000) uitgeloof ná haar ouers se aanval om te help om die misdadigers aan te keer.

“Ons het baie wenke uit die gemeenskap ontvang, maar in hierdie stadium wil ons nie iets sê wat dalk die polisie se ondersoek kan belemmer nie. Al wat ek wel kan bevestig, is dat hulle baie hard werk daaraan om die saak op te los,” het sy bygevoeg.

De Lange, wat ook in Lüderitz woon en saam met haar pa die OK Grocer besit, het vroeër gesê dit was haar pa se beurt om Vrydagoggend die winkel oop te sluit. Willem is aangeval toe hy omstreeks 05:15 sy huis se motordeur oopgemaak het. Twee mans het ingestorm en hom met kieries aangerand tot hy sy bewussyn verloor het.

Alta Burger ná die aanval. Foto: Verskaf

Alta Burger ná die aanval. Foto: Verskaf

Willem het weer sy bewussyn herwin waarna hy vir Alta, wat bo in die huis was, geskree het om die rewolwer te kry. Een van die aanvallers was egter reeds bo by haar en besig om haar ook met ʼn kierie aan te rand.

Die aanvallers het gedreig om Alta te verkrag en het haar ook met ʼn plastieksak op haar kop gebrand om haar man te dwing om die kluis oop te sluit. Die verdagtes het onder meer met vuurwapens en kontant gevlug.

Willem het erge hoofbeserings opgedoen en sy arm was geswel soos hy probeer keer het toe hulle hom met die kieries geslaan het. Alta moes ʼn spesialis spreek nadat haar kakebeen vermoedelik in die aanval gekraak of gebreek het. Albei het ook kneusplekke en ander beserings oor die lyf opgedoen.

Die polisie het reeds twee van die vuurwapens wat gesteel is, teruggekry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

KarooKlong ·

Sterkte en hoop op ‘n vinnige herstel aan die Burger egpaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.