Namibië en Zimbabwe verlig SEB-vereistes; SA verskerp syne

piet le roux 1

Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake. Foto: Solidariteit Beweging

Die sakeregtewaghond AfriSake het gesê dit is skreiend dat die Suid-Afrikaanse regering SEB-vereistes verskerp terwyl Namibië en Zimbabwe hul swart eienaarskapsvereistes verslap.

Dit volg ná die aankondiging deur president Hage Geingob van Namibië dat sy regering van ’n 25%-swarteienaarskapsvereiste vir ondernemings daar afstand doen.

“Dit is reeds meer as tien jaar sedert ’n internasionale paneel van ekonome, insluitend die gerekende professor Daron Acemoglu, aanbeveel het dat die gedwonge oordrag van eienaarskap na swart persone in Suid-Afrika se SEB-regulasies geskrap moet word,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, gesê.

“Die verpligte weggee van aandeelhouding in ondernemings aan swart persone is een van die skadelikste aspekte van SEB en een van die swaarste ekonomiese laste in Suid-Afrika. Dit word kwansuis vir regstelling gedoen, maar dit benadeel inderwaarheid die gemiddelde swart persoon en verhoed die normalisering van die ekonomie – ten spyte van enige goeie bedoelinge.”

Le Roux het bygevoeg die Suid-Afrikaanse regering is met sy SEB-regulasies besig om ’n getoetste resep vir mislukking nogmaals op die proef te stel met Rob Davies, minister van handel en nywerheid, wat sopas voorgestelde verskerpings in swart eienaarskapsvereistes in die SEB-kodes gepubliseer het. “Die voorgestelde kodes ontmoedig investering en sal sakelui verder van die land vervreem.”

Dit is nie net die Namibiese regering wat pas hul skrapping van die voorgestelde eienaarskapsvereiste aangekondig het nie; Zimbabwe het ook die afgelope tyd soortgelyke verslappings vir sekere mynbou-ondernemings toegestaan. “Tog beur minister Davies en die ANC voort op die pad waarvan Namibië en Zimbabwe, met goeie rede, nou begin terugdeins. Dit wil voorkom of die ANC en Davies inderdaad niks geleer en niks vergeet het nie,” het Le Roux gesê.

Kommentaar op die jongste SEB-kodes word tot einde Mei by die departement ingewag. AfriSake sal sy kommentaar aan die publiek beskikbaar stel sodra dit gereed is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

jaco ·

Davies is dan self wit. So daar kort selfs nog regstellende aksie en SEB in die ANC-regering se kabinet.

Paul ·

En hy is deur die staatspresident aangestel, so dalk is die president self nie genoeg getransformeer nie.

Pieter ·

Dit is mense soos Davies wat dink as hulle uit die hande eet van die anc en ja en amen op alles hulle is veilig deur saam te staan met die vyand ek het nuus vir julle .

Manie ·

Onthou Davies is n geslepe ou kommunis. Enige iets om kapitaliste te ruïneer

Gert ·

Hoekom is jy so behep met kleur die dag as die springbok span net swart spelers het en bafana net wit spelers omrede hulle die beste in die land is , daai dag sal sa reg wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.