Namibië juig oor Mboma se silwer

Namibië se Christine Mboma vier haar tweede plek in die 200m vir vroue by die Olimpies Spele in Tokio. (Foto: Luis Acosta/AFP)

Namibië se Christine Mboma gaan huis toe met die land se heel eerste silwer medalje vir ʼn Namibiese vrou nóg nadat die 18-jarige atleet ʼn verstommende tweede plek in die 200 m vir vroue by die Olimpiese Spele in Tokio losgehardloop het.

Mboma, met ʼn tyd van 21.81 sekondes, was ʼn kortkop agter die Jamaikaan Elaine Thomson-Herah wat die wenstreep in 21.53 sekondes oorgesteek het. Dit is die tweede vinnigste tyd in die geskiedenis en Thomsom-Herah was maar 0.19 s stadiger as die jarelange wêreldrekord van Florence Griffith-Joyner wat sedert die 1988 Spele in Seoel staan.

Mboma is enkele weke voor die Spele verbied om weens haar natuurlik hoë testosteroonvlakke aan die 400 m – haar voorkeuritem – deel te neem en het haar visier op die 200 m gestel.

Met haar ongelooflike naelloop na die eindstreep het sy stof in die oë van die Jamaikaan Shelly-Ann Fraser-Pryce en verskeie ander atlete in laaste 50 m geskop. Kenners meen werk aan haar wegspring en die nuwe ervaring om om die draai te hardloop, kan haar tyd vinnig veel minder maak.

Dit kan uiteindelik ook dié jong Namibiër wees wat Griffith-Joyner se rekord aan skerwe hardloop.

Mboma het in Mei vanjaar maar 18 jaar oud geword en het dié seisoen nog net een keer aan die 200 m deelgeneem. Haar tyd was 25.05 s.

Sy het haar vertoning in Tokio as “die beste” van haar jong lewe beskryf.

Mboma se uitnemende vertoning gister het weer ʼn debat – en heelwat verwarring onder die publiek – veroorsaak oor wie toegelaat behoort te word om aan sekere items vir vroue deel te neem.

The New York Times berig kritici van die reël sê die uitslag van die 200 m-wedloop vir vroue laat vrae ontstaan oor die wetenskaplike presisie en geldigheid van beperkings wat op atlete geplaas word om aan wedlope tussen 400 m en ʼn myl deel te neem.

Mboma en haar Namibiese spanmaat Beatrice Masilingi (wat sesde in die wedloop geëindig het), het vanjaar wêreldwyd drie van die vier vinnigste tye in die 400 m gehardloop voordat hulle verlede maand gehoor het dat hulle nie by die Spele aan die items mag deelneem nie.

Mboma het dié besluit in ʼn persoonlike oorwinning omskep.

Terug op tuisbodem is die omstredenheid eers op die agtergrond geskuif terwyl Namibië – en talle mense in die res van veral suidelike Afrika – Mboma se ongelooflike prestasie gevier het.

Sy is naas Frankie Fredericks, wat vier Olimpiese silwer medaljes by twee geleenthede agter sy naam kan skryf, die enigste Namibiër wat tot dusver ʼn medalje by ʼn Spele kon verower.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

Dit lyk my Namibie se sportontwikkeling lewer beter resultate as Suid Afrika se sport kwota stelsel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.