Namibië ondersoek lughawe ná renostersmokkel-skandaal

Die renosterhorings is duidelik te sien op die veiligheidskamera by Hosea Kutako Internasionale Lughawe. Ye Zhuwei is uiteindelik by OR Tambo Internasionale Lughawe aangekeer (Foto: ANA)

Die renosterhorings is duidelik te sien op die veiligheidskamera by Hosea Kutako Internasionale Lughawe. Ye Zhuwei is uiteindelik by OR Tambo Internasionale Lughawe aangekeer (Foto: ANA)

Owerhede in Namibië het bevestig dat die 18 renosterhorings, wat deur ʼn man van China van Namibië na Suid-Afrika gesmokkel is, inderdaad deur lughaweskandeerders in dié land opgemerk is.

Sebastian Ndeitunga, inspekteur-generaal van die polisie in Namibië, het Dinsdag aan verslaggewers in Windhoek gesê “baie, baie streng stappe” gaan gedoen word teen alle polisiebeamptes wat by die Hosea Kutako Internasionale Lughawe aan diens was toe Ye Zhuwei met die 18 renosterhorings in ʼn tas deur sekuriteit toegelaat is.

Maroela Media het vroeër berig Zhuwei, is met sy aankoms by OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg in hegtenis geneem toe hy ʼn verbindingsvlug na Hongkong wou onderneem. Hy bly in aanhouding ná hy Vrydag vir die eerste keer in die hof verskyn het op aanklag van renosterhoringsmokkel.

Ndeitunga het gesê die polisie ondersoek hoe en waarom Zhuwei nie aangekeer is ná die renosterhorings deur die veiligheidskandeerders opgemerk is nie. Hy het gesê dit is duidelik dat die beamptes, wat die skandeerders bedryf, vir een of ander rede die bagasie geïgnoreer het en Zhuwei toegelaat het om op die vliegtuig te klim.

“Daar was growwe nalatigheid aan die kant van die polisiebeamptes wat in daardie stadium aan diens was by lughaweveiligheid. Ons gaan baie streng stappe teen hulle doen, maar ek wag net eers vir die ondersoek om afgehandel te word,” het Ndeitunga bygevoeg.

Tamer el Kallawi, uitvoerende hoof van Namibië se lughawensmaatskappy, het Dinsdag gesê die renosterhorings was só duidelik op die beeldmateriaal, dat selfs iemand wat nie opgelei is nie, dit sou kon sien.

Ndeitunga het gesê die polisie ondersoek die moontlikheid dat sommige van die 18 renosterhorings moontlik deel was van die sewe renosters wat vroeër vandeesmaand by Etosha-wildtuin gestroop is. Die renosterhorings sal ondersoek word om te bepaal of dit met van die renosterkarkasse verbind kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

Sal net wil weet wat gebeur met die Chinees, mens hoor selde wat gebeur met skuldiges wat renosters stroop.

Marietta Hamersma ·

Net jammer daar is 18 dooie renosters. Ekt gesien op n program op tv dat renosterstropery in Namibië ook n groot probleem is.

Jakoba ·

Die polisieman wat aan diens was en die renoster stroper met die horisngs laat deurglip het is gearresteer en het klaar in die hof verskyn

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.