Namibië tot rampgebied verklaar weens droogte

droogte

Argieffoto: Daeron/Pixabay.com

Suid-Afrika se buurland, Namibië, het ʼn pleidooi gelewer vir internasionale hulp nadat pres. Hage Geingob vroeër die week ʼn noodtoestand in die land afgekondig het weens ʼn voortslepende droogte.

Swak reënvalsyfers in die onlangse reënseisoen het gewasse en weivelde in die land verwoes.

Saara Kuugongelwa-Amadhila, die land se eerste minister, het aan die Namibiese parlement gesê die lewensbestaan van die meeste Namibiërs, veral dié wat van landbou afhanklik is, word duidelik bedreig.

Kanaal 7, ʼn private radiostasie in dié land, berig die droogte het reeds ʼn halfmiljoen mense, sowat een uit elke vyf Namibiërs, sonder toegang tot genoeg voedsel gelaat. Die land se geografie skep ʼn verdere uitdaging om die klein maar wydverspreide bevolking met die nodige droogtehulp op afgeleë plekke te bereik.

Volgens die BBC is daar bykans R580 miljoen opsy gesit om kos en watertenks te koop en lewende hawe tussen weigebiede te vervoer. Subsidies sal ook aan boere verskaf word.

Geingob het gesê sy regering het proaktiewe maatreëls getref om die ergste gevolge van die droogte te hanteer. Ministeries, agentskappe en alle belanghebbendes sal opdragte ontvang om hulp te verleen aan aangetaste gemeenskappe. Die kabinet het ook vroeër vanjaar ʼn omvattende droogteverligtingsingryping goedgekeur.

Die regering het verder gevra boere moet hulle lewende hawe verminder. In April het ʼn verslag van die land se ministerie van landbou gewys 63 700 diere het in 2018 gevrek weens verswakkende weiding wat deur die droër weersomstandighede veroorsaak is.

Landboukenners meen die droogte sal die uitvoerbedryf vir beesvleis raak. Daar was reeds ʼn afname van 70% in mielieproduksie in sekere dele van dié land, terwyl die produksie van sorghum ook geraak is. Die afname in produksie stel die plaaslike bevolking van sowat 2,4 miljoen mense ook bloot aan voedselpryse wat drasties mag styg weens die droogte.

Die droogte het ʼn verdere invloed op Namibië se buurland, Angola, waar daar luidens berigte sowat 2,3 miljoen mense is wat nie toegang tot kos het nie. Die Angolese president, João Lourenço, het reeds in Januarie ʼn noodtoestand in sy land afgekondig ná die land ondergemiddelde en wisselvallige reënvalsyfers beleef het.

Volgens Africanews.com het die getal mense in Kunene, die suidelike provinsie van Angola wat aan Namibië grens, wat humanitêre bystand benodig van 250 000 in Januarie na 850 000 in Maart gestyg. Luidens ʼn verslag van die Verenigde Nasies se kinderfonds, Unicef, is dit veral kinders wat swaar deur die droogte getref word met sowat 2 500 kinders onder die ouderdom van vyf wat vir ernstige vorme van akute wanvoeding in provinsies van die twee lande behandel is.

Namibië het sedert 2013 herhalende droogtetoestande verduur wat die meeste dele van die land beïnvloed. Die situasie laat talle vrae oor die stand van voedselsekuriteit en die invloed van klimaatsverandering in die streek van Suider-Afrika ontstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marius ·

Ek dink ons regering kan kyk hoe behandel n land sy boere. As ek kon was ek al 10jaar terug daar.

Pieter du plessis ·

Ek wens self dat ek n namibiese burger was ,beter regering beter polisie beter mediese fasiliteite, kort nou mense om ontsoutings aanlegte aan die kus op te rig.

Chris ·

So is die hele Suider-Afrika ‘n rampgebied, in die Weste weens droogte en in die Ooste weens vloede. Ironies kom meeste van die nat Ooste se reënwolke uit die droë Weste.

Danie ·

Ek ‘n SA burger wat al baie jare in uide van Namibia woon en werk. Hier is gedeeltes wat 7 jaar reen gehad het. Die toestand i kritiek in baie dele tog bly die mense positief met ‘n sterk geloof en dankbaarheid

TN ·

Hy bid net waar die natuurlike moontlikheid op reën hoog is .

Stephen Namibia ·

SA Regering kan kom leer hoe die Nam Regering minderheidsgroepe behandel . Ons Blankes is trots om Namibiers te wees en ons is trots op ons land, ons Regering en ons mense.

Blankes voel veilig en ons regte word beskerm. Die verskil is wedersydse respek vir mekaar.

Boerboel ·

Ek is ook daar gebore. Dit is baie goed van die regering. Anc moet leer by sy twee buurlande Namibia en Botswane hoe om n land te bestuur.

SjN ·

SA se regering kan n hele paar lesse gaan kry by die 2 buurlande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.