Namibiese damvlakke styg steeds, Neckartal-dam loop oor

Die Neckartal-dam in Namibië het Dinsdag begin oorloop. (Foto: Andries Kok)

Die vlakke van Namibië se grootste damme styg steeds nadat die land onlangs die grootste oorstromings sedert die 1990’s beleef het en swaar reën sedert einde verlede maand landwyd val.

ʼn Lys wat Maandag deur NamWater op sosiale media versprei is, dui aan dat die vlakke van die land se grootste damme aansienlik gestyg het as gevolg van die afgelope paar weke se goeie reënval.

Die Neckartal-dam naby Keetmanshoop in die //Kharas-streek, die land se grootste oppervlakreservoir, het Dinsdagmiddag begin oorloop.

Volgens ʼn woordvoerder van Namibia Water Corporation (NamWater) is dié dam eers verlede jaar voltooi en het die dam bo alle verwagtinge hierdie seisoen volgeloop. Daar word tans beplan om ʼn besproeiingskema by die dam aan te lê wat dit die grootste besproeiingsgebied in Namibië sal maak.

Die dam is Sondag en Dinsdag oopgestel vir besoekers om dié besonderse gebeurtenis te beleef. Sowat 1 500 mense in 330 voertuie het Sondag besoek afgelê by die Neckartal-dam. Sekuriteitsmaatreëls, wat polisieteenwoordigheid insluit, is ingestel om die publiek se veiligheid by die dam te verseker.

Die Neckartal-dam op 19 Januarie 2021. Besoekers is toegelaat om die dam te besoek. (Foto: Andries Kok)

Volgens die woordvoerder word die vlak van die Nautedam, ook naby Keetmanshoop in die //Kharas-streek, Dinsdag tot ʼn kapasiteit van 98% afgebring nadat dié dam onlangs 117,8% vol was.

“Die Nautedam het vanjaar ʼn baie groot invloei gehad, iets wat ons nog nie beleef het nie. Daar was ʼn bietjie skade aan die landerye aan die onderkant van Nautedam, wat net soos die Neckartaldam ook in die Visrivier inloop,” sê hy.

Intussen berig The Namibian dat inwoners van informele nedersettings in Katima Mulilo, hoofstad van die Zambezi-streek op die Caprivi-strook, moontlik ontwrig kan word nadat die besluit geneem is om dié inwoners te verskuif ná die swaar reënval in die streek die afgelope week.

Paaie en erwe by onder meer Cowboy, Choto en Shackdwellers is oorstroom, wat dit moeilik maak vir inwoners om toegang tot hulle huise te kry.

Raadslid John Mukaya het die informele nedersettings verlede week besoek om die skade wat aangerig is te bepaal. Volgens Mukaya is ʼn verskuiwingsarea nog nie geïdentifiseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Fantasties Namibia ,veral met julle nuwe dam. Laat my wonder waar is Suid Afrika se nuwe damme. Of gaan dit dieselfde pad as Eskom.

Deon ·

Nee – ek onthou die berig van ‘n ANC persoon wat mos dit duidelik gestel het dat ons damme te groot bou daarom word hulle nie vol nie. Lyk my ons sal moet plastiek tenks oral opsit om die land met water te vooorsien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.