Namibiese rugbylegende sterf in ongeluk

Gerhard Mans (60) is deur ‘n motor van sy fiets afgery. (Foto: Facebook)

Die Namibiese rugbylegende Gerhard Mans (60) is dood toe ʼn voertuig hom Woensdag van sy fiets af gery het. Volgens die Namibiese nuusblad Informanté het dié voormalige kaptein van die eerste Namibiese rugbyspan saam met sy seun, Gerhard jr., op die Westelike verbypad in Windhoek fietsgery toe die motor hom getref het. Die ongeluk het naby die Elisenheim-brug plaasgevind.

ʼn Bestuurder van ʼn wit BMW sonder nommerplate is op die toneel in hegtenis geneem.

Mans, ʼn vleuel en heelagter, het van 1990 tot 1994 in 27 toetse vir Namibië 26 drieë gedruk en vir Suidwes-Afrika in 80 wedstryde altesaam 54 drieë. Hy het ook tussen 1982 en 1984 ʼn hele paar keer vir die Vrystaat uitgedraf en 24 drieë vir dié span gedruk.

In 1988 was hy een van die finaliste vir die SA Rugbyspeler van die jaar- toekenning.

Hy het ná sy uittrede ywerig fietsgery.

Medelye het van vriende, familie en rugbyondersteuners op sosiale media ingestroom.

Die nuusorganisasie SupaRugby sê hy sal onthou word vir sy vaartversnelling en sy uitnemende rugbyvaardighede.

Hy laat sy vrou, Sarie, en twee seuns, Wiann en Gerhard jr., agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

MAGRIETHA ·

Baie goeie rugby speler gewees jammer om te hoor RIV , onthou nog di rugby dae

Casper ·

Dit is tragies,hy was n goeie rygbyspeler.Ek wonder net of hy familie was van Wynand Mans wat net so goed rugby gespeel het en vir die bokke uitgedraf het.Sterkte aan sy geliefdes.

piet ·

Jammer. Ek het teen hom rugby gespeel tydens die grensoorlog toe ek my diensplig gedoen het. In 1985 as ek reg onthou by ‘n rugbytoernooi in Otjiwarongo. So hy moes daai tyd ook in die weermag gewees het (waarskynlik SWA Gebiedsmag want die toernooi het ook as proewe gedien vir die kies van die SWA Gebiedsmag-span wat in die nasionale SA-Weermag toernooi gespeel het) . Goeie speler gewees. ‘n Sterk en vinnige vleuel.

piet ·

Die tyd wat hy vir SWA gespeel het was hulle sterk met die Stoop-broers en so aan. In ‘n stadium het SWA in die A-liga vandie Curriebeker gespeel. Hulle het selfs op ‘n slag vir WP op Nuweland geklop, ek kan dit goed onthou.

Frank ·

Oud Wennie Dupper, Gobabis. Ook gekies vir SWA Atletiek span in 1979, hy en Mannetjies Burger, blitsig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.