Namibiese ruimteman se toestand verswak

Dr. Japie van Zyl (Foto: NMMU)

Die Namibiese ruimteman, dr. Japie van Zyl (63), wat opgeneem is nadat hy ʼn hartaanval gehad het, is steeds in ʼn koma in die waakeenheid van ʼn Amerikaanse hospitaal.

Ben van Zyl, Japie se broer, sê sy broer se kritieke toestand het sedert gister nog nie verander nie, maar sy lewensfunksie verswak wel geleidelik.

Maroela Media het vroeër berig Japie het Maandag gaan draf, waarna hy in sy oprit voor sy huis in Pasadena, noordoos van Los Angeles, inmekaargesak het. Hy is sedertdien in ʼn koma in die hospitaal.

“Hulle gaan vandag nog laaste toetse doen,” het Ben Woensdag aan Maroela Media vertel.

“Dit is ʼn baie moeilike tyd vir die familie.”

Ben het Dinsdag gesê die volgende 24 uur is van deurslaggewende belang.

Japie se vrou, Kalfie, kan haar man ook nie besoek weens die Covid-19-regulasies nie.

Japie is ʼn Namibiese boorling en het onlangs uitgetree by die internasionale ruimtemaatskappy Nasa JPL in Pasadena, Kalifornië. Hy was ook betrokke by ʼn span kenners wat gewerk het aan ʼn toestel wat pasiënte binne minute vir Covid-19 kan toets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.