Namibiese veteraanpolitikus Dirk Mudge sterf

Die veteraanpolitikus Dirk Mudge. (Foto: US)

Talle boodskappe van medelye stroom in ná die dood van die veteraan- Namibiese politikus Dirk Mudge.

Republikein berig die 92-jarige Mudge is Woensdagoggend in ʼn hospitaal in Namibië dood. Hy is vir Covid-19 behandel.

Mudge het ʼn groot aandeel gehad in die skryf van ʼn onafhanklike Republiek van Namibië se Grondwet en was onder meer ʼn stigterslid van Democratic Media Holdings, die voorloper van die huidige Namibia Media Holdings, asook Namibië se Republikeinse Party.

Hy het op 87-jarige ouderdom sy outobiografie, Enduit vir ʼn onafhanklike Namibië, bekend gestel nadat hy meer as drie dekades lank voltyds betrokke was by die politiek van Suidwes-Afrika en later Namibië.

Hy het die politiek in 1960 betree toe hy lid van die Wetgewende Vergadering onder die Nasionale Party van Suidwes-Afrika geword het.

In sy outobiografie beskryf hy hoe hy aanvanklik die beginsels van die Nasionale Party onderskryf het, maar mettertyd tot ander insigte gekom het. Dit het tot sy uittrede uit die Nasionale Party en die stigting van sy eie party, die Republikeinse Party, gelei.

Mudge het Desember 2016 ʼn eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang vir sy lewenslange toewyding en verbintenis tot Namibiese politiek. Die US het destyds gesê Mudge het ʼn deurslaggewende rol gespeel in die oorgang van die voormalige Suidwes-Afrika na ʼn veelparty-demokrasie vir alle burgers.

Sy uitsonderlike onderhandelingsvaardighede en strategiese brein het van hom ʼn uitstekende oorgangsleier gemaak wat nie net Namibië na onafhanklikheid help stuur het nie, maar ook die weg gehelp baan het vir politieke oorgang in Suid-Afrika.

“Sy onblusbare leierskap in diens van sy land, sy innovasie op soek na alternatiewe politieke oplossings vir Namibië en sy ongelooflike oorgangsbestuursvaardighede is alles eienskappe wat die universiteit erken het toe hy as kandidaat vir die eredoktorsgraad benoem is,” het die US toe gesê.

Die Namibiese politieke ontleder en skrywer prof. Joseph Diescho het Mudge vroeër as “ʼn kind van Afrika” bestempel.

Mudge het in 1993 afgetree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.