Nampo: ‘Dit gaan goed met ons landbou’

Argieffoto

Argieffoto

Dit gaan goed met landbou in Suid-Afrika maar boere meganiseer om arbeidswette te ondervang, het ‘n boer by die 48ste Nampo-oesdag die afgelope week gesê, berig Rapport.

“Om die arbeidswetgewing te ondervang, meganiseer ons,” het Carel Brüssow, ’n graanboer van Noordwes, volgens die berig gesê. Dit is ondanks uitdagings soos grondeise, hoër minimumlone vir plaaswerkers en onvriendelike arbeidswetgewing.

Rapport berig ook dat vier gesogte trekkers wat sowat R4,5 miljoen elk kos tydens die eerste twee dae van die landbouskou verkoop is. “Dit gaan regtig baie goed met landbou in Suid-Afrika,” het JP Landman, politieke en ekonomiese ontleder, volgens die berig gesê.

“Al is daar vandag net sowat 37 000 boere oor van die sowat 66 000 in 1990, produseer kommersiële landbou ’n derde meer kos as in 1990,” het Landman tydens ‘n paneelbespreking gesê. “Dit ondanks uitdagings soos die ineenstorting van plaaslike regerings, grondhervorming en streng arbeidswetgewing.”

Landman sê die afname in die aantal kommersiële boere is nie uniek aan Suid-Afrika nie en gebeur ook in Amerika. Dr. John Purchase, hoof van Agbiz, sê die regering skop vas teen die samesmelting van groot landboumaatskappye en wil eerder meer, kleiner ondernemings hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.