Nampo Kaap moet plaaslike ekonomie ontsluit, sê kenner

nampo-wes-kaap

Links is Henk Aggenbach, plaaslike dryfveer, en Du Toit Wessels, die assistentbestuurder: Nampo en bemarking. Du Toit is in diens van Graan Suid-Afrika, terywl Henk voltyds boer tussen Bredasdorp en Waenhuiskrans.

Deur Pierre Massyn

“Die potensiaal van die Wes-Kaapse ekonomie moet ontgin word en Nampo in hierdie provinsie kan help om dit te ontsluit,” sê die inisieerder van Nampo Kaap, Henk Aggenbach in ’n onderhoud met Maroela Media.

Aggenbach is nie net direksievoorsitter van die niewinsgewende maatskappy waarom die vestiging van Nampo in die provinsie draai nie, maar ook van die reëlingskomitee van Nampo Kaap.

Die Nampo Kaap-ekspo op Bredasdorp wat verlede jaar die eerste keer van stapel gestuur is, het reeds soveel belangstelling gewek, dat al 400 stalletjies in ’n japtrap deur uitstallers opgeraap is en daar reeds ’n ellelange waglys is, onthul hierdie deurwinterde Overberger wat boer tussen Bredasdorp en Waenhuiskrans. Vanjaar se geleentheid sal weer in Bredasdorp, Wes-Kaap van 4 tot 6 September plaasvind.

Die idee om ’n jaarlikse ekspo vir die Wes-Kaap te hou, het ontstaan ná deeglike analisering deur die plaaslike boere en Graan SA van ’n magdom faktore, onder meer, ekonomiese haalbaarheid, logistiek, potensiële besoekersgetalle en baie ander.

“Die inisiatief om Nampo van stapel te stuur kom eintlik van Graan SA (GSA) af en ons het ’n samewerkingsooreenkoms met hulle. Bothaville is nasionaal en ons is ’n streeks-Ekspo. Die twee Nampo verkeer in ’n simbiotiese verhouding met mekaar.”

Volgens Aggenbach trek Nampo Bothaville gereeld digby die 80 000 besoekers en is ’n toonvenster vir uitstallers om hul jongste tegnologie en produkte bekend te stel.

“Die Wes-Kaapse ekonomie omvat sowat 25% van die nasionale ekonomie in Suid-Afrika, gebaseer op die bruto binnelandse produk (BBP).”

Henk beklemtoon dat hulle nie die jaarlikse oesfees op Bothaville wil dupliseer nie.

“Ons doel is om ons hier as ’n streeklandboukultuur te vestig. Ons gaan ’n eg-Wes-Kaapse karakter hier by ons ekspo laat wortelskiet en wil die tegnologie wat op die landbou in die Wes-Kaap van toepassing is by hierdie geleentheid tentoonstel. ”

Maar wat gebeur agter die skerms om ’n relatiewe nuwe konsep in die Wes-Kaap te stig? Om so ’n enorme taak te kan aanpak, met jy kan raakvat en organiseer. Wat merkwaardig is, is die feit dat, behalwe vir twee betaalde amptenare, die hele span deur die bank almal vrywilligers is wat net uit liefde vir die saak werk sonder enige vergoeding!

Die skouterrein behoort aan Overberg Agri, verduidelik Henk.

“Ek het 17 boere agter my wat my ondersteun. Ons is ’n toegewyde span. Al ons lede behoort ook aan Graan SA. Ons is manne en vroue wat kan werk en organiseer. Elkeen fokus op sy spesialiteitsgebied. Daar is, byvoorbeeld, ’n verantwoordelike persoon vir logistiek. Nog iemand doen finansiële bestuur. Dan is daar die spyseniers – wat verskaf word deur kerke, skole en nieregeringsinstansies – wat die besoekers bederf met ons plaaslike kookkuns en lekkernye. Dit is so dat ons Bothaville se voetspoor hier by ons wil vestig, maar as Kapenaars gaan ons die publiek alles bied waarop ons as streek ingestel is, byvoorbeeld blomme en wyn – die twee produkte wat voorrang gaan geniet. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, is byvoorbeeld opgewonde om hulself hier by ons te infaseer.”

Henk se tyd vir hierdie onderhoud is bitterlik kort, maar hy stel my voor aan Du Toit Wessels, assistentbestuurder vir bemarking van Nampo, wat spesiaal vir ’n vergadering na Bredasdorp gekom het.

“Nampo Bothaville bestaan reeds 53 jaar as ’n nasionale landbou-ekspo. Ons dien die boeregemeenskap in Suid-Afrika in sy totaliteit en reik uit na die Wes-Kaap om Henk-hulle met raad en daad by te staan.”

Van die gebeurlikhede waarna skougangers vanjaar kan uitsien, is optredes deur die Wes-Kaapse Ruiterklub, ponieritte vir gestremde kinders, damesprogramme en Nasie in Gesprek. ’n Verskeidenheid veesoorte sal elk in hul eie ras beoordeel word.

Met Henk Aggenbach en sy span as die dryfveer agter Nampo Kaap, is daar geen rede hoekom die Overbergers nie dieselfde gewildheid en status as hulle boereneefs in die Vrystaat kan bereik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

Sal dit dan nie miskien beter wees om die swart boere in die vorige tuislande (Oos Kaap) te help om in produksie te kom nie? Dit gaan help met werkskepping en met die onverwerkte vrugbare grond kan hulle mos goed doen.

aj ·

Henrik, as Swart boere GEHELP moet word dan skep jy ‘n bakhand kultuur.

Nie almal is geskik vir boer nie!

Swart mense wat REGTIG wil boer sal die nodige kennis soek en presteer.

Boer maak ‘n plan!

Neccessity is the mother of invention!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.