Nampo-oesdag nou gekanselleer

Nampopark buite Bothaville. (Foto: Maroela Media)

Graan SA se bekende jaarlikse landbouskou in Bothaville, Nampo-oesdag, is gekanselleer. Die organisasie het Donderdag aangekondig dat dié skou, wat vir 17 tot 20 Augustus vanjaar herskeduleer was, gekanselleer is.

Die skou vind elke jaar in middel Mei plaas, maar is verlede jaar weens Covid-19 ʼn paar keer uitgestel en ten einde laaste aangeskuif na middel Augustus vanjaar.

Graan SA het boonop gesê dat die Nampo-Kaapskou, wat vir 8 tot 10 September 2021 in Bredasdorp geskeduleer is, asook die Nampo-Alfaskou, wat vir 30 September tot 2 Oktober 2021 op Nampo Park buite Bothaville beplan is, óók gekanselleer is.

Dié organisasie het wel gesê hy sal die besluit om dié twee streekskoue nie aan te bied nie, heroorweeg indien regeringsregulasies gewysig word.

“Die skou sou kon voortgaan onder aanvanklike regeringsbeleid en -riglyne, maar met die koms van die derde Covid-19-golf en die wysigings aan die inperkingsvlakke onder die nasionale ramptoestand, is Graan SA met geen alternatief gelaat [as om dit te kanselleer] nie,” sê Toit Wessels, adjunkbestuurder: Nampo en Bemarking.

“Met meer as 750 uitstallers wat aan hierdie landbouskou deelneem, is die visier nou op 2022 gestel.

“Gedurende die eerste helfte van 2021 het Graan SA voortgegaan om die pandemie en die gepaardgaande regulasies en beperkings te monitor. Die styging in Covid-19-gevalle het tot verdere beperkings op buitelugbyeenkomste gelei. Dit het ingewikkelde uitdagings om die oesdag aan te bied, geskep. In die belang van alle besoekers, personeellede, uitstallers én die gesondheid en veiligheid van die plaaslike gemeenskap is die oesdag gekanselleer.”

Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, sê die besluit om enige byeenkomste te kanselleer of uit te stel, veral Nampo-oesdag – die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond – is geen maklike besluit nie.

“ʼn Geleentheid op hierdie skaal verg ʼn aansienlike belegging in tyd en hulpbronne deur organiseerders, goedkeuringsinstansies op plaaslike en nasionale vlak, uitstallers en diensverskaffers. Daar moes dus tydig besluit word of Nampo 2021 moet voortgaan of nie,” sê hy.

Graan SA het aan die media gesê hy is steeds daartoe verbind om ʼn gediversifiseerde landbouhandelskou aan te bied ten bate van sy getroue vennote, die plaaslike gemeenskap, die landbousektor en die breër publiek. “Ons sien daarna uit om Nampo-oesdag van 17 tot 20 Mei 2022 op Nampo Park, net buite Bothaville in die Vrystaat, aan te bied,” sê De Villiers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aai ·

Hartseer al daai verblyf en gastehuise in omgewing het al toegemaak hulle kan nie bestaan sonder NAMPO.Sterkte daar.

Jaco ·

Dié gastehuise is meestal in wit besit, so aanhou en aanhou en aanhou met inperking pas dié anti-wit regering van Suid-Afrika UITSTEKEND. Ramaphosa het self dan meer as eenkeer reeds gesê dat inperking wys hoe ongelyk SA is en dat wit mense se rol in die ekonomie moet stop.
Nou gaan ek seker weer gekruisig word deur mense met oogklappe aan wat VAS glo dat al die gevare van Corona alles waar is.

CA ·

As mens sien hoe ons land se mense kommonsense Covid-reëls (maskers, ventilasie ens.) ignoreer dan sal dit ongelukkig nog lank neem voor hierdie soort byeenkomste weer hervat kan word. You can’t have your cake and eat it… as ons weier of nalaat om basiese Covid-veiligheid te handhaaf kan ons seker verwag dat sulke aktiwiteite deur regulasies gekortwiek kan word. Hopelik verbeter sake betyds vir volgende jaar se byeenkoms.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.