Narkotiseur wat oor kind se dood vervolg is, doodgeskiet

Zayyaan Sayed.

Dr. Abdulhay Munshi, die narkotiseur wat strafregtelik vervolg is oor die dood van ʼn tienjarige pasiënt, is Woensdag koelbloedig doodgeskiet.

Die moord het intussen woede onder die land se mediese gemeenskap ontlok.

Dr. Angelique Coetzee, nasionale voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), het Donderdagoggend aan Maroela Media gesê Sama is baie geskok oor die moord op Munshi.

“Ons veroordeel hierdie sinnelose daad teenoor ʼn kollega ten sterkste. Dit is onaanvaarbaar.”

Volgens Coetzee is Munshi se motor Woensdag in Johannesburg van agter deur ʼn ander motor getref. Hy het uitgeklim om ondersoek in te stel na die skade aan sy motor waarna hy na bewering verskeie kere in die agterkop geskiet is.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Narkotiseurs (Sasa) het intussen gesê hy beskou die moord as ʼn aanval op die land se medici.

“Dr. Munshi se dood ontlok groot verontwaardiging en vrees. Die verlies aan ons gemeenskap is ondenkbaar. Ons lede en die groter mediese gemeenskap het gedurende die Covid-19-pandemie hul lewe gewaag om sorg te verleen aan ons land gedurende een van sy mees desperate tye.

“Hierdie gruwelike daad is ʼn direkte aanval op die toekoms van Suid-Afrikaanse gesondheidsorg,” het die vereniging in ʼn verklaring gesê.

Munshi is voor sy dood saam met prof. Peter Beale, ʼn pediatriese chirurg, aangekla in verband met die dood van Zayyaan Sayed verlede jaar.

Maroela Media het vroeër berig Zayyaan het op 11 Oktober ʼn laparoskopie by die Netcare Park Lane-kliniek ondergaan nadat hy lank met refluks gesukkel het. Beale het die operasie uitgevoer, terwyl Munshi die narkotiseur was. Zayyaan het later dieselfde aand gesterf.

Die dokters is ná die kind se dood van strafbare manslag aangekla.

Munshi was ten tyde van sy dood uit op borgtog van R10 000.

Die saak is verlede maand uitgestel en sou weer in November in die Johannesburgse landdroshof aangehoor word, berig DispatchLive.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gestuur rakende die moord en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

ES ·

Klink vir my soos ‘n sluipmoord… daar was mos sprake dat dit nie net Zayyaan was wat deur sy nalatigheid dood is nie.

Persheks Adri ·

Ek stem ES dit klink soos ‘n “hit” op hom niks anders nie

Evert ·

Fataliteite onder narkose is baie tragies maar ongelukkig altyd ń moontlikheid. Enige sjirurgie kom nooit sonder risiko’s nie. Indien dit gebeur, is dit definitief nie moord nie. Die persone wat die moordklag ingedien het, moet verantwoordelikheid aanvaar vir hierdie sinnelose sluipmoord op hierdie Narkotiseur

Kiepie ·

Sjoe Evert, jy maak ‘n paar baie groot aannames om by jou stelling uit te kom.
Nietemin, skokkend en hartseer wat in ons land aangaan.

Sarel ·

Skok oor die sinnelose moord op ‘n Narkotiseur. Masrvhulle behoort nie geskol te wees nie leef in land van moord en doodslag

Leni ·

Feite nog nie eens op die tafel maar die sneller is getrek. Dis baie hartseer. Geen dr “vermoor” mense sommer net. Hulle beroep is hulle passie en purpose!!!

saggiespraat ·

Sy mamma en pappa kan nooit weer daai wangetjies soen nie of net daai nat neus seuntjie reuk ruik nie
sterkte aan die ouers…. Regtig my hart is so seer vir hulle…

Johann ·

Hulle was aangekla van strafbare manslag en nie moord nie Die regstelsel moet eerder die skuld kry oor die gedurigge uitstel van sake tot dit uitgegooi word Mense het nie meer vertroue in die reg stelsel nie en ek het simpatie met mense wat voel so ‘n daad is die enigste uitweg

Annelize ·

Hierdie is nie ‘n gewone “ek skiet jou sommer omrede ek kan en wil” moord nie, hierdie man is “uitgehaal”, maw, sluipmoord.

Sandra ·

Ek dink hy moes eerder in die tjoekie gebly het. Dit klink vir my of dit ‘n “hit” was.

Casper ·

‘n Laparoskopie wat lei tot ‘n kind se dood.Wat was die diagnose wat dr Beale gemaak het.Hoekom was die kind nog in die hospitaal.Daar moes mos fout gewees het of was daar.As die dokters aangekla is vir strafbare manslag was hulle vermoedelik nalatig.Hierdie was ‘n huurmoord.Dr.Beale sal met een oog moet oopslaap.Ek veroordeel die moord en die dood van die seun.

4ntj13 ·

Sluipmoordenaars. Ek is báie banger vir diegene wat dit beplan en uitgevoer het as vir die dokters. Ek hoop regtig ons land het nog mense wat hierdie misdaad ordentlik kan ondersoek en vervolg. En, ek wonder wat geregtigheid se gesloer met die motivering hiervan te doen gehad het.

Adeline ·

Ons land is totaal wetteloos en is in totale anargie verval weens grootskaalse ingewortelde diep korrupsie van die cANCer en die se leiers- geen misdadiger of toekomstige misdadigers gee ag op enige wet nie – want hulle weet hulle kom vry en die wet geld net vir eerlike mense.

Hercules ·

SA is erger as die Wilde Weste, tot perde word onnodig dood gemaak – die en alle ander moorde en bloed is aan die hande van die treurige slap cANCerous Organisasie!!

madels ·

Dis VERSKRIKLIK! Ek kry Drs jammer want as Drs nou vermoor gaan word vir n fout wat hulle gemaak het dan kom hier GROOT probleme

Pim die Skim ·

Ek wonder net wat sê die hoogdawerende dokters oor die waarskynlike sinnelose nalatigheid van hierdie afgesterwe dokter wat tot die dood van hierdie kind gelei het. Dit is algemeen bekend dat ons vervolging en regstelsel reeds gekompromeer is deur korrupte polisie, aanklaer en landrosste/advokate. Jy weet van die gesegte betreffende doktors se foute – Hulle foute word begrawe. En, steeds smile hulle, (veral die narkotiseers), al die pad bank toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.