Nasie in Gesprek: Uitnemendheid nooit maklik

(Foto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Deur Rentia Mynhardt

“Ons betree ʼn era van deglobalisasie, met ʼn groot fokus op streekskonsepte en landbou,” het Johann Kotzé, uitvoerende hoof van Agri SA, gesê tydens die eerste sessie van die gespreksreeks Nasie in Gesprek by Nampo.

“Ons moenie net oorleef nie, maar moet floreer binne ʼn omgewing van onsekerheid.”

Kotzé se opmerkings het die tafel gedek vir vanjaar se tema, Oorwin onsekerheid, met die spesifieke sessie wat kwessies soos klimaatsverandering en bewaringslandbou bespreek het.

Anlie Hattingh het die gesprek gefasiliteer en opgemerk dat uitnemendheid nie uit ʼn plek van gemak kom nie.

“Dit kom van mense wat uitgedaag word om te innoveer en oplossings te bedink wat nie algemeen beskikbaar is nie,” sê Hattingh.

Anika de Beer, meteoroloog en ESG-analis by Restore Africa, is van mening dat natuurlike en mensgemaakte stelsels aanpas by die huidige klimaatsomstandighede.

“Klimaatsverandering verhoog die snelheid van verandering vinniger as die spoed waarteen natuurlike aanpassing kan plaasvind. Suidelike Afrika ervaar die impak van klimaatsverandering vinniger en intenser as gevolg van ʼn hoër tempo van klimaatsverandering in vergelyking met die res van die wêreld.”

De Beer het ook gesê dat Suid-Afrika ʼn swak La Niña-fase – natter en koeler toestande – aan die einde van die jaar behoort te ervaar en het uitgebrei oor die moontlikheid van koolstofinkomste wanneer produsente hul koolstofvrystellings verminder.

Dewald Olivier, uitvoerende hoof van RIMS, het beklemtoon dat die rooivleisbedryf na ESG kyk om hul eie planne te beraam, pleks daarvan om te wag vir die regering om dit te doen.

“Houding en veerkragtigheid is kritiek. Die houding dat biosekerheid nie my buurman se probleem is nie maar my eie, het reeds aansienlike resultate gewys. Die onderlinge verbondenheid tussen dier en mens is ʼn realiteit, en naspeurbaarheid bly my eie verantwoordelikheid.”

Kotzé het dit gestel dat mense moet verstaan hoe klimaat werk en dit moet inkorporeer by die passie vir boerdery.

“Ons is lief vir die aarde. Ons is lief vir die natuur. Ons moet hierdie konsep kombineer. Boere is risikobestuurders. Risiko is wat ons doen. Maar dit is die faktore wat bydra tot daardie risiko wat ons moet verander om meer klimaatslim te boer.”

Corné Louw, senior ekonoom by Graan SA, beskou Suid-Afrikaanse landbou as veerkragtig en sê die bedryf moet op hoogte van nuwe tegnologie bly.

“Ons het ʼn vrye mark opgebou wat ons tans nommer twee maak wanneer dit by voedselsekerheid in Afrika kom. Maar ʼn vrye mark dwing ons om akkurate beplanning te doen; spaar tydens goeie jare om slegte jare te oorleef.”

Die sessie is afgesluit met die oorhandiging van ʼn tjek aan die Hartbeesfontein Boerevereniging. Dit is moontlik gemaak deur AgriRewards+, die Senwes-platform waar Senwes-produsente ʼn boerevereniging of studiegroep benoem om ʼn voordeel te ontvang gegrond op die produsent se sake wat binne die Senwes Groep gedoen is.

“Senwes het besluit dat boereverenigings die beste weet waar die behoefte in hul gemeenskappe is en dit maak net sin om borgskappe en donasies via hierdie platform te kanaliseer,” het Francois Redelinghuys, bemarkingsbestuurder van die Senwes Groep, gesê.

  • Kyk hier na die bespreking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.