Nasien van matriek-antwoordstelle flink aan die gang

(Argieffoto: pixabay)

Die nasien van matriek-antwoordstelle het Maandag in alle erns begin nadat daar reeds in Desember met die geleidelike nasien van vraestelle in Mpumalanga, Limpopo en Gauteng begin is.

Volgens die departement van onderwys het meer as 96% van die altesaam 46 192 nasieners teen Dinsdag reeds by 177 merksentrums landwyd aangemeld.

Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, het die afgelope paar dae sentrums in die Wes- en Oos-Kaap, asook in die Vrystaat besoek. Hy besoek aanstaande week ook sentrums in Noordwes, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal.

Die departement sê die grootste prioriteit is beskerming teen Covid-19.

“Ons kan nie bekostig dat nasiensentrums superverspreiders van die virus word nie en dit is die boodskap wat ons na ons kollegas by die sentrums neem,” het Mweli gesê.

Die dra van maskers, sosiale afstandhandhawing en ontsmetting is ononderhandelbaar.

Mweli sê om te verseker dat vraestelle eenvorming nagesien word, word ʼn stelsel gevolg wat onder die bestuur van ʼn nasiensentrumbestuurder, hoofnasieners, interne moderators, adjunk- hoofnasieners en senior nasieners plaasvind. Die toesighouers vergader eers om oor die riglyne en algemene standaard te vergader, waarna die nasieners by hulle aansluit.

Nasieners beslaan die grootste gedeelte van die span en kry opleiding oor die riglyne wat in die merkproses gevolg moet word om te verseker dat daar minimale afwyking tussen merkwerk is.

ʼn Adjunk- hoofnasiener hou oor elke groep van tussen vyf en sewe nasieners toesig. Die persoon rapporteer weer aan die hoofnasieners wat aanspreeklik is vir die bestuur van ʼn spesifieke vraestel.

Die proses word deurlopend gemonitor deur ʼn interne moderator, amptenare van die departement van basiese onderwys, asook eksterne moderators van Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding.

Vanjaar vorm Covid-19-protokolle deel van die opleiding wat nasieners voor die aanvang van die proses deurloop.

In die Oos-Kaap word nasieners eers vir Covid-19 getoets voor hulle in die sentrum toegelaat word. Hierdie reël geld weens die groot getal Covid-19-positiewe gevalle in die provinsie.

Die departement sê dit is ʼn veeleisende proses wat nie aanvanklik deel van die beplanning was nie.

“Die departement word bemoedig deur die toewyding van nasieners om te verseker dat merkwerk ten spyte van die gevare voortgaan.”

Sowat 1 700 nasieners – oftewel 3,6% – van nasieners landwyd het nie hul aanstellings as nasieners opgeneem nie. Plaasvervangers is egter gereed om hulle pligte oor te neem.

ProvinsieNasieners verwagOnttrekToets positief vir Covid-19Nasiensentrums in bedryf
Vrystaat2 13810123
Oos-Kaap5 63610012024
Gauteng12 148827624
KwaZulu-Natal8 730101430
Limpopo6 1042324
Mpumalanga4 159106919
Noord-Kaap1 0446334
Noordwes2 625157317
Wes-Kaap3 450298011
Gesentraliseerde nasieners1581811
Totaal46 1921 682171177

Die departement sê hy gaan voort om die nasienproses fyn dop te hou.

“Daar is reeds ʼn mate van bestendigheid wat oor die volgende paar dae gaan verbeter terwyl nasieners aan die gang kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.