Nasionale biddag gehou vir kleuterskole

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Eienaars, ouers en kinders betrokke by private en onafhanklike kleuterskole, dagsorgsentrums en crèches gaan eerskomende Maandag ʼn nasionale bid- en vasdag hou. Dit is om ʼn boodskap van hoop te skep vir diegene betrokke by die vroeëkinderontwikkelingsektor wat steeds in die duister is oor wanneer hulle weer kan heropen. Die biddag gaan van sonsopkoms tot sonsondergang geskied.

ʼn Uitnodiging op die EDUX SA-Facebookblad nooi almal uit om iets roois aan te trek en aan die biddag deel te neem.

“Kom ons dra almal iets roois om ons te herinner dat ons nie alleen is nie. Ons is ʼn span en ons is deur God gekies om met sy kinders te werk,” lui die uitnodiging.

In die uitnodiging word eienaars en ouers van kleuterskole aangemoedig om ook ʼn boodskap van hoop op ʼn bordjie neer te skryf en dan ʼn foto saam met die bordjie te neem en te deel op die Facebookblad. “So gee ons weer vir ander mense hoop.”

Sedert die instel van vlak 3 van afsondering is daar steeds geen regulasies of datums bekend gemaak vir die heropening van onafhanklike en private kleuterskole nie.

Maroela Media het vroeër berig Solidariteit se Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers en die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Donderdag met ʼn dringende hofaansoek gedreig as die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, en Nkosazana Dlamini-Zuma, haar eweknie by samewerkende regering en tradisionele sake, nie duidelikheid oor die heropening van onafhanklike en private kleuterskole gee nie.

Kleuterskole wat by die departement van basiese onderwys geregistreer is, mag op 6 Julie hul bedrywighede hervat, maar dié wat by die departement van maatskaplike ontwikkeling geregistreer is, is steeds in die duister oor die pad vorentoe.

Die beroepsgilde en die SOS glo dat private kleuterskole ook toegelaat moet word om op 6 Julie, saam met ander kleuterskole, hul onderrig te hervat. Hulle sê kinders van alle ouderdomme het ʼn reg op basiese onderrig en die weiering dat dié skole open, ontneem kinders van hierdie reg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel ·

Ja as niks anders help nie moet ons maar bid anders gaan almal.mos maar net aan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.