Nasionale busstaking duur voort ondanks aanbod

Argieffoto: http://upload.wikimedia.org/

Die vakbond Numsa het Vrydagaand laat gesê die nasionale busstaking sal voortduur ten spyte van ʼn goedgekeurde aanbod wat werkgewers vroeër dié week aan die unies gemaak het.

Irvin Jim, hoofsekretaris van Numsa, het gesê die nuwe aanbod sal nié onderteken word nie omdat die verhoging eers Vrydag (11 Mei) in werking sou tree, en nié vanaf 1 April soos die unies oorspronklik versoek het nie.

Jim sê werknemers landwyd verwag om hul verhoogde salarisse van 1 April af te ontvang en sal nié toegee “onder druk nie”. “Ons sal nie deur werkgewers afgepers word nie,” het hy gesê. “Werkgewers moet self die staking beëindig deur werknemers hul verhoogde salarisse vanaf 1 April te gee.”

Unies het Maandag ʼn verbeterde aanbod van die hand gewys nadat die bedingingsraad en die kommissie vir konsiliasie, mediasie en arbitrasie (CCMA) ʼn aanbod van 8,75% vir die eerste jaar en 8,25% vir die tweede jaar voorgestel het.

Dit is nou amper ʼn maand sedert die staking ʼn aanvang geneem het. Werkers het aanvanklik ʼn 12% verhoging geëis wat hulle intussen tot 9% verminder het.

Werkgewers het voorheen voet by stuk by hul aanbod van 8% in die eerste jaar en 8,5 % in die tweede jaar gehou.

Die staking het op 18 April begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

willie ·

Die stakende vakbond lede staak sonder vergoeding terwyl Jim en sy bestuur vol salaris trek met die lede se lidmaatskap fooie! Die verhoging gaan nooit opmaak vir die lede se verlies nie! Belaglike spul die!

Hans ·

Die busbestuurders se stakingsoptrede is beslis nie ubuntu nie-100 000 de se lewe is ontwrig en baie het dalk werk verloor.

GM ·

Ag, hou op onderhandel, en dank almal af. Almal kan sien dit gaan oor meer as net ‘n verhoging. Dit gaan oor ‘ons wil baas speel teenoor die ou wat vir ons werk gegee het’. ‘Cut off the nose to spite the face’. Dit backfire gewoonlik. Hulle moet nie betaal word vir die tyd wat hul gestaak het nie.

KG ·

Ja wat, gaan te lekker in die land. Die pendelaars gaan weer moet opdok. Al klaar ‘n voeltjie hoor fluit dat buskaartjies se pryse gaan verhoog….

Wil net sê ·

Japannese busbestuurders staak ook. Hulle ry egter nog steeds hul roetes maar neem geen geld van die passasiers nie. Sodoende word passasiers nie verontrief nie maar wel die maatskappy waarvan ‘n verhoging verwag word. En hulle self werk, verloor dus nie hul betaling nie.
Ek dink dis by verre ‘n meer effektiewe manier van “staak’. Al wie dan verloor, is die maatskappy waarmee die werkers onderhandel.

Adam ·

Verduidelik asb vir my wat “effektief” daaraan is om jou werkgewer tot bankrotskap te “staak” op die Japannese metode. Ek is van oordeel dat dit absolute laakbare optrede is.

Elize C ·

Ek hoor wat jy sê Adam, maar die “ander kant van die coin” is dat dit dan minstens nie onskuldige mense is wat verontrief word wie in elk geval absoluut niks aan hierdie ongelukkige stakers se eise kan doen nie. Waar is die regverdigheid DAARaan? By die Japanese is dit dan minstens die eintlike “targets” wat dit aan hul eie bas voel, wat sal veroorsaak dat hulle vinniger reageer om die eise aan te spreek. Net soos wat dit niks help as jy ongelukkig is oor dienslewering in jou area, dat jy klippe gooi, voertuie brand en paaie versper vir onskuldige pad-verbruikers wie jou in elk geval nie kan help en niks met jou probleem te doen het of ‘n oplossing daarvoor kan bied nie, gaan eerder dan na die persone wie verantwoordelik is vir die instandhouding en opgradering van dienslewering, se privaathuise en ontwrig HULLE elektrisiteit/water/sanitasie/ens, sodat hulle aan eie bas kan voel hoe dit voel om in sulke toestande te leef, DAN sal hulle dalk vinniger daadwerklik optree om verandering te bewerkstellig. Maar om “buitestaanders” se daaglikse lewens te ontwrig, gee die eintlike onbevoegde sondebokke nie ‘n bloue duit voor om nie, want dit raak hulle nie. En hiermee stook ek beslis nie kwaadwillige optrede aan nie, ek prober net ‘n punt maak dat ek nie weet wat die vandaliste dink hulle bereik deur onskuldige mense se daaglikse bestaan omver te werp nie.

Karin ·

Die vakbonde is nie gelukkig nie. Wat van die werkgewers en werkers?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.